Sunday, May 14, 2017

Elkarien Fourie - Vat jou hele hart (2017)



Elkarien Fourie - Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk. Naledi, 2017. ISBN 9780928316469

Resensie: Joan Hambidge

I
Die Ooste het ek by verskeie geleenthede meegemaak en verken. Altyd met Hong Kong as die deurgang of toegang tot die Ooste. Ek het hierdie stad sien transformeer van 'n vuil, stinkende Chinese stad (in die vroeë negentigs) tot 'n hoogs gesofistikeerde wêreldstad waar geboue verdwyn en nuwes in hul plek staangemaak word. Ek was tweekeer in Japan; een keer in China, en veral in Beijing rondgeloop en die Groot Muur besoek.

Ek was net in die Ooste as toeris: Korea, Thailand en Indië. Tibet. Later na Viëtnam. (Rusland en Kroasië is weer nader aan ons.)

Elkarien Fourie het daar gewoon en gewerk en hierom is haar waarnemings deegliker. Ek het op 'n reis om die aarde oor die stede geskryf in Meditasies (Human & Rousseau, 2014):

 Tafereel

‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip. 
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,
in hierdie digterlike tuin.

Elkarien Fourie se Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk  is 'n wonderlike boek wat hierdie leser met groot plesier gelees het. In dieselfde tyd herlees ek Karel Schoeman se Op 'n eiland (1971) na sy afsterwe. Waar Schoeman die amper-bekende Griekse eiland weergee met sy gewoontes en hoe die reisigers daarop reageer (onder andere die besoek aan die versonke eiland), gee Elkarien Fourie 'n verslag van die Ooste en sy gewoontes.

Taalprobleme, vreemde kos, en hoe mense mekaar verstaan ten spyte van taalverskille, word goed beskryf. Hoe 'n mens verdwaal, omdat jy nie die kodes verstaan nie, of erger nog, in Tokio se middestad sal verdwaal, omdat daar nie straatnommers is nie. Gaan lees gerus weer Roland Barthes se Empire of signs, sy meditasie oor Japan, gepubliseer in 1970 (vertaal: 1983). Veral die "emptiness of language", is iets wat Barthes interesseer.


II

Ek het hierdie boek stadig gelees. Dit het 'n rooi lint as boekmerk.

Daar is vinjette wat 'n mens sal bybly: hoe sy in staat is om die enorme paradokse van hierdie ruimte raak te sien. 'n Telraam langs 'n komputer; 'n vuil gebou wat vol kosreuke hang en nooit skoongemaak is nie en iets sou kon verraai van 'n vervloë tyd.

'n Onthoubare oomblik is die klere wat sy laat maak, 'n deposito betaal en met behulp van die kleremaker vir 'n peditaxi betaal om haar terug te neem huis toe. (Later word sy wel verneuk of om om die bos gelei in 'n snaakse tee-sessie.)

Vele skrywers het al op die vreemde Engels in die Ooste gewys en die ongelooflike humor wat die eiesoortige, vreemdklinkende Engels tot gevolg het.

Ons beleef ook haar lewe as onderwyser, hoe sy as Westerling die Oosterse toilette ervaar (o.a. die gebrek aan privaatheid) en daaglikse wel en wee wat sy reguit vertel in haar joernaal. Soos Schoeman se roman word dit vanuit 'n agterna-perspektief vertel met 'n spanning tussen belewenis en vertelling.

Die menslikheid van China sal ek onthou. In Beijing sit ek in 'n klein township - ek drink 'n bier in die hitte. Bied dit aan vir 'n Oubasie (van diep in die 90), terwyl sy vrou die paadjie voor die huis skoonmaak. Uit haar stemtoon wat op en af beweeg, kan ek hoor sy raas met hom. Hy wys die bier van die hand, maar sy ogies flikker van dankbaarheid (en lus). (My bier was koud, anders as Fourie se ervaring!)

'n Ruk later raak iemand aan my arm. Dis 'n ouma wat trots haar kleinkind vir my wys. 'n Vader stap met sy mongoolkindjie voor my verby. En die oumense se dogter kom op haar fiets aan.

So word ek deel van hierdie klein wêreldjie. (En later skryf ek dan die gedig "Tafereel".)


III


Elkarien Fourie reis ook na Japan, 'n land wat ek twee keer meegemaak het:

Tokio 東京都

Op ’n oggend staan ek in die vismark,
sien hoe tuna, nori en aji uitgestal lê.
’n Bedrewe visserman, in geel rubberstewels,
vlerk ’n vis bek-oop met een haal.
Uit sy pens tuimel daar binnegoed
en ’n bloederige stank. Ook herinneringe
uit ’n diepsee-bestaan, volledig áfgesluit
van aardbewings of reënende bomme.
Berg Fuji ken hy nie en ’n ligte sneeuval
(nes sagte dons oor die oseaan) bly iets vreemds.
Edu se lugbesoedeling het hom nooit gekwel nie.
Hy was eens soos ’n vis in die water.
Nou word hy op ys gegooi vir sashimi.
Kort voor lank land hy weer in die oseaan,
in ’n opgebreekte vorm – volledig ont-vis –
reisend van die hand na die mond: tot uitskot.

(Visums by verstek. Human & Rousseau, 2011.)

Onderhoudend en aangrypend is  die gedeelte waar sy in Japan gehelp word toe sy nie by 'n OTM kon geld trek nie. Ek het 'n soortgelyke ervaring gehad in Tokio toe ek verdwaal en 'n man my na die hotel begelei het, en die gawe hotelbestuurder my selfs 'n boekie gegee het met woorde en frases wat ek mag benodig. In Kyoto is ek as professor Ham aangespreek in die hotelletjie: ek en die tantetjie het mekaar sonder taal verstaan en saam na Barcelona geluister.

Want buite Tokio is daar bykans geen Engels nie. En as jy die rituele nie begryp nie, kan jy in groot ellendes beland. Daar is baie engele ...

Arthur Golden se Memoirs of a Geisha (2005) is weer deur Fourie se boek in die herinnering terug gebring.


IV

'n Paar indrukke rondom hierdie ryk geskakeerde teks. Omdat Elkarien Fourie die land intens meegemaak het, is sy bewus van die paradoks dat hoe langer jy in China vertoef, hoe moeiliker is dit om 'n duidelike afleiding van hierdie komplekse gemeenskap te maak (81).

Chinese skryfkarakters (logogramme) word al meer as 5 000 jaar opgeteken. In een van my mees opwindende kursusse voorgraads het ek die geskiedenis van China bestudeer. Die outeur help 'n mens om die verskillende oorgange te begryp.

Chinglish en verkeerde taalgebruik, is iets wat sy humoristies aanbied. Ook die besoedeling van stede, mense wat spoeg en gasse uitlaat, word behandel. Telkens hoe Westerlinge sterk reageer op die gebrek aan ruimte tussen mense. Sy wys op die verskil tussen Mandaryns en Chinees (44). Ook hoe mense luister na Edelweiss uit The Sound of Music en patrioties daarmee identifiseer (45).

Sy verduidelik die betekenis van lang pinkienaels by mans (52): 'n teken dat jy nie 'n werker is nie en dus nie met jou hande hoef te werk nie. Maar, die pinkie kan ook "elders" handig gebruik word ...

Die geskiedenis van Marco Polo is uiters leersaam, nes vele historiese gegewens wat sy uiters verteerbaar oordra.

Sy behandel die redes vir die oop gleufies ágter in kleintjies se broekies (vir maklike ablusie).  In Beijing het my hotelgids verduidelik dat dit ook teruggaan na 'n tyd toe gesinne baie kinders gehad het en daar nie tyd was om elkeen se boudjies af te vee nie.

Die vermindering van vroue in die ou China: dogters het nie herkenbare name gehad nie. Name soos Tweede Dogter, Bring-'n-Boetie ... Sy wys tereg daarop dat in die kommunistiese oorgang is dit wel reggestel.

Elke hoofstuk begin met 'n Chinese woord. In haar eie woorde:
Aspekte van die lang en roemryke geskiedenis van China is ingeweef in my ervarings soos ek dit teëgekom en nagevors het, maar die ontwikkeling van die skrif is veral fassinerend. Daarom het ek besluit om aan die begin van elke hoofstuk die etimologie van ’n woord of term wat in die hoofstuk voorkom, te wys soos dit sedert die Sjāng-dinastie, amper 2 000 jaar voor Christus, die eerste keer geskryf is op skilpaddoppe en os-sleutelbene wat dan in vuur gegooi is om die toekoms te voorspel na gelang van hoe die bene gekraak het.
(Vat jou hele hart deur Elkarien Fourie/ ’n onderhoud | LitNet. Besoek 11 Mei 2017)
En vir haar foto's (’n Fotoalbum uit China | LitNet. Besoek 11 Mei 2017).

Saigon en Haiku is twee Kaapse restaurante wat iets van die kompleksiteite van Oosterse cuisine opvang.

Tereg is die leunstoelreisiger vandag in staat om 'n foto af te laai van die internet van dit wat die werklike reisiger intens beleef het.

Maar Elkarien Fourie is 'n werklike reisiger, een wat vele uitdagings die hoof gebied het, ook 'n onverwagse besoek aan 'n hospitaal! Die ervaring met die owerhede (toe sy gemeen het haar paspoort en selfoon is gesteel) vertel iets van wat met jou kan gebeur in so 'n landskap; ook as jy jou paspoort nie by jou het nie...

Peper klink soos paspoort! En as jy nie toonhoogtes van die taal bemeester het nie, lei dit tot funeste gevolge.

Die geskiedenis van geloof en die Christendom in China dui op baie navorsing. Haar bergklimekspedisies dwing bewondering af. Sy wys op ons wanopvattings oor die afwesigheid van die Christendom in hierdie lande. Máo se vrou, die impak van selfdood (seppuku) in hierdie kultuur (Yukio Mishima), die bedeltradisie, Confusius, fietsry (en wat dit eens gesimboliseer het), word onder die loep geneem.

'Millenia' op bladsy 180 moet wees 'millennia'. 'Op 'n stadium' moet lees 'in 'n stadium'.

My kreatiewe reaksie dui inderdaad op my bewondering vir hierdie boek. Van kormorante wat gebruik word om vis te vang tot die ellendes van die Kulturele rewolusie word beskryf. Omdat sy dikwels alleen reis en in hostelle bly, maak sy met gewone mense kennis. Hierdie boek resoneer ook met Erns Grundling se Elders, wat sopas verskyn het. (Woorde Wat Weeg/ Erns Grundling – Elders (2017). Besoek 13 Mei 2017). 

Haar ervaring van die impak van diabetes word goed beskryf. Sy maak 'n mens nuuskierig oor 'n onopgeloste moord en jy moet maar self gaan lees! (396)

Dit is 'n wonderlike boek wat die idee van 'n homogene China vir altyd ophef. Dit het vir hierdie leser soveel herinneringe opgeroep.

Die slot van die groot voete waarmee die hele land haar hele hart deurgetrap het, som haar ervaring goed op.

Paul Theroux, eat your heart out!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)