Sunday, April 9, 2017

Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.) (2017)



Resensie. Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.). Tafelberg, 2017. ISBN 978-0-6240-8240-8

Resensent: Joan Hambidge

Die versameling is ‘n keuse uit Hennie Aucamp se verhaalkuns saamgestel deur Johann de Lange. ‘n Jaar voor die bekende kortverhaalskrywer se dood, gee hy ‘n notaboekie persent aan sy vriend, die skilder Jan du Toit. Hierin is daar ‘n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse uit ‘n imposante oeuvre. De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels alreeds uit druk was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.

En wat ‘n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek.  Elize Botha het dit immers al in Een kraal saamgeplaas in 1983. Nou is dit ‘n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif …

Aucamp se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die lees voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede; mals, bogte, onbesuisde …).

En sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ‘n verhaal vertel, omdat hy die la condition humaine ken. Verhale wat ‘n mens bybly om die lewenswaarhede wat weergegee word.

“In die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike, vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:
Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie. (15)
In “Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie, 1992 – ‘n verhaal wat so Tsjekofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en lewensloop van ‘n baadjie beskryf. 

Of die wraak van ‘n jongeling in “’n Piazetta in privaatbesit” opgeneem in Gewis is alles net ‘n grap, 1994. Hier ondersoek Aucamp die mentor-student-verhouding op ‘n pynlik-eerlike wyse en hoe die jongman eintlik wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ‘n vrou en twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik die ouer, gay-man troef met sy gelukkige gesinnetjie.

Dit is waarskynlik alreeds ‘n cliché om  Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink, 1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ‘n straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ‘n “vrou”, is vintage Pedro Almódovar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gebaseer op ‘n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ‘n Spaanse landskap) bewys.

En om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ‘n kwaliteit van háár bestes: mense vasgevang in ‘n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap as ‘n broeiende mede-verteller. ‘n Mens dink hier aan die Stormberge, ‘n ruimte van uiterstes: die “backdrop” waarteen menslike drama gekaats word.

Daar word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer. Dit sien ‘n mens ten beste in die verhaal “Portret van ‘n ouma” (Spitsuur, 1967)  met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:
Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.
God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie. (34)
Die verhale wat Aucamp sélf geskies het, word vir die leser met 'n ikoon aangedui. HA met ‘n veertjie asof dit ‘n inkpotjie is. Aucamp, terloops het met die hand geskryf. Al sy tekste is deur ‘n ander persoon oorgetik en hierom vind ‘n mens nooit ‘n oorhaastige woord of ‘n beduimelde sin nie.

Aucamp het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn)

Maar dit is verhaal sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorspryf van die “annerster soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.

Die kortverhaalbundel van Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016) heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek. 

Ek is ‘n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ‘n “vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande. 

Borges is in die tagtigerjare vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die vorm van die swaard en ander verhale. 

Ek verwys opsetlik Na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories, boere-stories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.

En Aucamp laat ons ook kyk na die werk van Dave Eggers of die kortste kortverhaal geskryf deur Ernst Hemingway:
For sale: Baby shoes. Never worn.
Tans word daar 'n debat op Litnet oor Toon van den Heever se "Werkstaking by die kleigat". 'n Mens wonder hoe Aucamp op hierdie bydraes sou reageer met die wete dat 'n teks binne sy tyd en konteks gelees moet word.

Alex Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas:  die kenner van die opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.