Monday, August 22, 2016

Johann de Lange - ’n Hunkering se grein (2016)


Johann de Lange - ’n Hunkering se grein. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 72 99 8

Resensent : Joan Hambidge

I

Johann de Lange se jongste bundel heet ‘n Hunkering se grein, ‘n titel ontleen aan Sheila Cussons, een van die sterkste digterlike stemme aantoonbaar in sy digkuns, naas Van Wyk Louw.

In hierdie bundel wat inspeel op Roland Barthes se “le grain de la voix”, oftewel die grein van die stem, die wonderbaarlike versameling essays van die Franse teoretikus, klink die stem van De Lange helder en duidelik op. Hy skuil nie agter die maskers van ander nie en selfs wanneer hy met ander se beelde werk, soos in die eerste afdeling wat inspeel op Boerneef, is dit De Lange wat aan die woord is.

Uiteraard het enige digter sekere temas of sekere obsessies.

‘n Mens tref die bekende temas aan in hierdie bundel: die gesprek met ander digters, die vaderfiguur (nou sterk gefokus op Hennie Aucamp, lykdigte, beeldverse, natuurgedigte, die bemoeienis met seksualiteit, en meer spesifiek, gay-seksualiteit, eensaamheid, die dood …

By De Lange is die gay-tematiek steeds aanwesig, maar nou met ironiese distansie soos in “Twee vryverse vir Joan op 60” met die eerste een wat heet: “Die lywe van woorde” met die veelseggende motto van Stanley Kunitz: “Words are so erotic, they never tire of their coupling”. Dit neem ons uiteraard na Barthes se ander beroemde teks, Le plaisir du texte (1973/1975) waarin hy die leesaksie met lyflike plesier vergelyk. Die teks wat plesier gee teenoor die teks van jouissance wat buite woorde beweeg. De Lange se tekste is woordgerig; hy dwing die leser om elke woord semanties te ontleed en hierom is sy gedigte eerder ‘n teks van plesier.

Die bundel word opgedra aan die gesiene semantikus Henning Snyman, ‘n teoretikus wat met sy nougesette lesings van tekste die verskillende aspekte van die gedig oopmaak, soos implikasie-verskynsels. In sy studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) verwys hy na die “geknoopte toue”, oftewel die vlegwerk van implikasie. Die hele kwessie van implikasie word besonder goed deur Snyman behandel waar hy die verskil tussen primêre implikasie (d.w.s. dubbelsinnigheid, vormspel, nie-sigbare betekenisoorgange) en sekondêre implikasie (d.w.s. ironie, metafoor en hul meelopers) vir die leser verduidelik.

Uiteraard beklemtoon Snyman die magiese attribuut van die gedig (33).

Die goeie digter is immers die een wat met fyn toespelings en “vlegwerk” steeds die gedig se spanninge en paradokse uitlig (pp. 32, 33).


II
“At the still point, there the dance is” van T.S. Eliot aktiveer nie alleen die semantiese kwessies van die stilte tussen woorde nie, maar die bundel Stil punt van die aarde uit 2004. Die digter vra dus met so ‘n verwysing ‘n teruggryp na vorige tekste, wat uiteraard ‘n gegewe is by die ouer digter wat temas “hersien” en “verfyn”. Daar is trouens ‘n herbesoek onder andere aan Van Gogh.

Die eerste afdeling bevat natuurgedigte wat werk met klankontginning soos by Ina Rousseau. Die gedig word op sigself “’n energie wat dink & weef” (“’n Murmurasie van spreeus”, 9).

Die eerste afdeling heet “Die berggans het ‘n veer laat val”.

In die tweede afdeling “Pallisander” – en hoor ons Boerneef verder saampraat – word die liefde in al sy wisselvorme beskryf.

In hierdie afdeling vind ons die sterk “Die mafia-wywe” (26) waarin die digter die “growwe trekke van ‘n tawwe lewe” karteer. Plig word teenoor die soeke na liefde en toegeneentheid uitgewerk. In kort sekwense – ‘n andersoortige weerlig van die (on)geloof) – word liggaamlikheid en vervlietende plesier uitgewerk. Dis nou seks met al die ligte af, want die ouer man ervaar ‘n liggaamlike buitestaanderskap in die wêreld van die gay-bestaan. In latere afdelings word dit verder uitgewerk (“Die digter as ronkedoor”, o.a.). “Blomme van die kwaad” (31) aktiveer Baudelaire binne ‘n bestaan van verlies en ontrouheid. “Tristia met dagbreek” (34) dra die hele Van Wyk Louw-sisteem na hierdie bundel. In hierdie klein gedig skuil soveel groot gedigte uit Louw se bundel, werp dit lig op die mineurtoon in hierdie bundel.

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Teenoor die vroeër verse waar die spreker sonder skroom homself ontkllee voor die leser, is dit nou agter blindings en verskuild:

Blindings

’n Nuwe dagbreek val deur die hortjies in dun repe.
Op die bedkassie jou nota: Ek het uitgetrek.
Oplaas is die waansin oor & ons, als inbegrepe,
beter af. Twee keer is ek deur drie woorde gewek.

(37)

Die “vlesige samekoms van ‘n driftong” (41) is nou in die herinnering van die spreker wat in “I. Die lywe van woorde” (39) ‘n bestekopname maak van sy voormalige seksuele bestaan wat nou in die testament van die gedig staan. In hierdie gedig se pendant (II. Men of a certain age) word Barthes letterlik betrek:

Wat om te sê? Dat dit my plesier gee
om te weet dat my woorde plesier gee

Hierdie siniese dog vermaaklike vers word ‘n analise van die digter-as-trofee. Die besoek aan ‘n party word ‘n opsomming van gesprekke wat die digter altyd te wagte is en hoe partygangers nie die digterlike persona los van die werklike mens kan lees nie. Hierom moet hy aanhoor hoeveel die gedigte vir ‘n persoon beteken het en verwag die partygangers ten minste grensoorskrydende gedrag van die digter. Die uitroep – in navolging van Reve – beklemtoon dat die spreker geen erg het meer aan openbare blootstelling nie en terselfdertyd bewus is van die prys wat elke digter betaal wat openlike gedigte skryf.  Die verse uit Nagsweet (1991) veral word so in die gemoed van die spreker herbesoek en die leser beweeg saam met die spreker van “kollig” tot “kollig”.

Hierom is die mise-en-abyme (III. Vals bodems) ‘n noodwendigheid waarop die gedigte afstuur.

Woorde word die vertroosting en oplossing uit die pynlike bestaan. Roland Barthes se siening dat taal ‘n vel is wat jy teen ‘n ander vryf,  word betrek. “My taal sidder van begeerte”, skryf Barthes verder en in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes (1975), bely Barthes dat hy in hierdie teks homself tot taalobjek verklaar. Ook  by De Lange vind hierdie genadelose disseksie plaas. Die geliefde is nou net ‘n woord, ‘n portmanteau (“Lippediens”, 56) en”Om mani padme hum” (62) word die grieselskilderye van Goya en Cussons saamgesnoer …

Immers ‘n hunkering se grein …

Die grein van begeerte, die grein van skryf; beswerend teen ondergang, die dood.

Die reeds genoemde “Die digter as ronkedoor” (63) praat met Eybers se “Digteres as huisvrou” – en al die parodieë en antwoorde wat hierdie gedig al aangestig het. Dit is ‘n pynlike analise van eensaamheid: ‘n slaaf van sy aptyte …

“Vincent van Gogh, twee stoele” (65) tree in gesprek met ‘n vorige Van Gogh-vers (“Die aartappeleters” uit Waterwoestyn, 1984). Die ekfrastiese vers word nou ‘n analise van sy eensame bestaan waar die twee stoele dui op afwagting dat die toestand verlig sal word …

Die gedig vir TT Cloete “Plaasmiddag, Vredesfort-distrik” (67) aktiveer ‘n gesprek met hierdie digter – onlangs oorlede – en die afdeling sluit af met ‘n gedig “Boerneef Redux’ (68) waarin die digter treur oor die digter Boerneef wat eers na sy dood na waarde geskat is. (In die vierde afdeling word die kwatryne vir TT ‘n gesprek met die digter nadoods.)

In die afdeling “IV. Aansterflik” word die titel uit Cussons direk betrek, nes die motto uit Opperman  se “Vigiti Magna”:

… wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas

Dit aktiveer eweneens Boerneef se beroemde gedig oor die twee Tafelberge wat hy ken; die jeug se Tafelberg was waterpasreg, terwyl ou man se ervaring daar anders uitsien …

Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek ‘n kind
met ‘n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met ‘n ou man se dink en wag
die begin op die Plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met ‘n ou man se pieker en wag

 (Palissandryne, 1964)

Omdat die digter hier in die ruimte van die liminale beweeg en die pleroma ondersoek, is die ontginning van die droom eweneens tersaaklik, soos in die gedig “Allen Ginsberg se boeke” (77).

Die droom as ‘n modus van vrees, word hier via Ginsberg vergestalt dat die digter vrees dat ook sy boeke in vreemde hande sal beland en waarskynlik verkeerd vertolk mag word.

Die moderne mens is egter uigelewer aan die kuberruimte en virtuele geskenke (“Kuberkrismis”, 79) wat die eensaamheid net verder bevestig. Inderdaad maak TV van die wêreld ‘n kleiner plek (“Telstar”, 81).

De Lange se besondere hantering van die beelddig word in die afdeling “V. Die swaartekrag van as” beklemtoon. Lady Di se “dubbelbestaan” neem ons terug na die afdeling wat waarsku: vals bodems. En dit is dan Snyman se idee van vlegwerk wat hier tersaaklik raak. Gedigte wys heen na gedigte in ander afdelings en die leser word gedwing en om heen-en-terug te lees. By MM is dit die minnaars wat “vals  / ontboesemings verkwansel” (86). Die aangrypende vers oor Michael Jackson is meer as ‘n beelddig; dit word ‘n ars poetica waarin die digter hierdie figuur as metafoor gebruik vir die digkuns as sodanig:

metaforiseer / reduseer / towenaar

Alles kodes vir die digterlike proses. Die Mandela-vers bewys die behendigheid van die digter-as-vormvas, as een wat soos Opperman die engel uit die klip kan verlos. Om oor so ‘n ikoon ‘n geslaagde gedig te skryf, wil gedoen wees.

In “VI. Rust-mijn-ziel: ‘n hartseerwals” (alreeds voorberei deur die ouderwetse kwatryn op bladsy 76 en in ‘n vorige afdeling dus) word die impak van die figuur Aucamp op De Lange se psige verdiskonteer.

In Vreemder as fiksie (1996) is die gesprek begin; hier is dit nou vermetaforiseer waar die leser bewus gemaak word van Aucamp se impak op die digter se lewe. Meer nog, hy gebruik Boerneef ook hier (mits dese wil ek vir jou sê …) om hierdie gesprek te voltooi. Maar ook Leipoldt praat hier saam, die Slampamperman.

En die slampamperliedjie impliseer tog die aanspreek van die ander, die Boetie – met die wete dat ons harte vol is van pyn en gemors.

Ook die afskeid van Adam Small tref. Die digkuns bly net sprokkelwoorde.


III

Die vlegwerk van hierdie bundel bevestig hoe deurgekomponeer dit is. Van Wyk Louw en Cussons is steeds aanwesig, maar dit is veral Boerneef en Aucamp waarop die lig val.

Die stem van die digter, die grein van die stem, klink hier helder op in ‘n bundel waarin die digter met soberheid sy lewe en sy posisie binne die digkuns in oënskou neem.

Hy plaas homself telkens teen ander digters, maar sonder dat sy unieke stem vals opklink.

En ‘n lywige een is dit. ‘n Mens wil waak teen die gebruik van die woord “laatwerk”, maar dit is ‘n bundel geskryf teen latenstyd, maar nog met soveel drif en lewe. En wat hierdie digter se statuur bevestig.