Monday, March 4, 2013

Dan Roodt - Moltrein (2004)



Dan Roodt. Moltrein. Praag, 2004. ISBN 0 9584635 8 1.

Resensent: Joan Hambidge

In aansluiting by sy uitstekende debuut Sonneskyn & Chevrolet, is Dan Roodt se jongste roman Moltrein ‘n teks waarin skryf- en leeskonvensies op die kop gekeer word. Anton du Preez, die hoofkarakter, word deur ‘n wasseryfirma se afleweringswa doodgery – ‘n subtiele toespeling op die grote Roland Barthes se einde. (Roodt het ook ‘n MA-verhandeling oor Barthes voltooi.)

Wiele/ry/ beweging (rota= wiel) is die basiese energie wat hierdie teks voortstu. Dit is ‘n roman wat Barthes se ‘nulpunt van skryf’ tot die outobiografiese-biografie, Roland Barthes deur Roland Barthes, ontgin en heraktiveer. Du Preez se storie word gered deur sy broer wat dit dan oorhandig aan dr. Dan Roodt, taalaktivis en agent provocateur van die Afrikaanse letterkunde.  Metafiksie en narratiewe truuks vorm part en deel van hierdie teks wat sterk psigoanalities gelees wil word. (Is hierdie teks die manifestasie dat Roodt ‘n anargis is soos hy telkens bely oor sy taalpolitieke uitsprake? Maar ons los die werklike Roodt vir die duur van hierdie roman uit.) Moltrein is ook ‘n reis deur die onbewuste en Jacques Lacan se bekende essay van die trein wat op twee stasies stop, kom ook aan bod. Wie kyk? En na wie/wat word gekyk? is ‘n ander belangrike tema in hierdie roman met Carole Bouquet, die Bond-meisie as ‘n ikoon en lusobjek vir die fokalisator, Anton du Preez, ontheemde in Parys, musiekonderwyser, Afrikaner…

‘n Hele galery van bekende skrywers soos Proust, Balzac, Flaubert, e.a. word hier uitgestal. Brink se Die ambassadeur en sy reistekste word aangespreek en ‘n minder romantiese beeld van Parys en die hoerebuurt word geskilder. Die teks is ten beste nostalgies in aanbod. Daar is ‘n verlange na die verlede (Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria waar die karakter o.a. Latyn bestudeer) en die leesgewoontes van ‘n jong kind.  Die enorme kultuurverskuiwings in ons land word hier van buite bekyk. 

Die liefdeslewe van Du Preez en Erika de Ruiter word geil en heerlik beskryf. Hulle fluister Afrikaanse vloekwoorde in mekaar se ore om die krag van Afrikaans in Parys te beklemtoon. Geen suggestie of  innuendo nie. Roodt gaan al die pad.  Sy verhouding met die ryk vrou (ook ‘n omkering van die ‘sugar daddy’-beginsel) word knap hanteer. ‘n Ski-vakansie eindig sleg vir die hoofkarakter wat met ‘n beseerde knie moet voortbeweeg en sy geliefde versaak hom. Wanneer hy via Rooi Rose ontdek dat sy getroud is met ‘n ryk Stellenbosse wynboer, rugbyspeler (ook ‘n konvensie uit die liefdesroman wat sneuwel), word nog ‘n klomp tekste vir ons oopgemaak.  Barthes se stelling dat ‘n geslaagde roman soos ‘n vertikale krag deur alles beweeg en dat die leser soos ‘n waterwyser kragpunte moet raaktrek (S/Z), kom eweneens aan bod. 

Houellebecq se Atomised klop ook verskillende dimensies en tekste saam, die ongehoorde en onaanvaarbare veral.  Moltrein kan ook net gelees word as ‘n storie; maar die uitsnuffel van al die intertekste – soos ‘n weggooi verwysing na die mistisisme – maak dit vir die letterkundige leser ‘n plesierrit. Die roman bewys dat tekste buite die sisteem – soos Kontrei van Kleinboer – hoogs noodsaaklik is, omdat dit die stereotipe idee van wat ‘n goeie of groot roman nou eintlik behoort te wees, afbreek. Boonop soos in Atomised en Platform is die skrywer vreesloos voor die stereotiepe of die polities-korrekte versugting.

Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se taaalpolitiek hou nie, negatief ingestel wees teenoor die roman. Die roman bewys egter Barthes/Foucault se se stellings oor die ‘dood van die outeur’ reg: die teks het sy eie drif, beweging of energie, onafhanklik van die werklike of konkrete outeur. I was gob smacked.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]