Bladsye / Pages

Wednesday, February 6, 2013

Pirow Bekker - Van roes en amarant (2008)



Pirow Bekker. Van roes en amarantProtea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 258 7.

Resensent: Joan Hambidge

Die digkuns van Pirow Bekker word met sy jongste bundel Van roes en amarant, netjies uitgegee deur Protea, bestendig in ‘n hele handvol gedigte wat ‘n wrang-ironiese, speelse en selfs satiriese blik verklap. Die stryd van die ouerwordende mens uigtgelewer aan slopende siektes en tanende liggaamsfunksies word in hierdie bundel ondersoek. In hierdie opsig tree dit selfs in gesprek met Barend J. Toerien se Huisapteek (2001).

Bekker is waarskynlik een van ons onderskatte digters, dikwels op die agtergrond, maar wanneer daar ‘n bundel verskyn, is dit vir die poësieleser ‘n plesierige onderneming om sy bydrae te lees.

Van roes en amarant (so verduidelik die woordeboek dit: Amaranthus, collectively known as amaranth or pigweed, is a cosmopolitan genus of herbs. Approximately 60 species are presently recognized, with inflorescences and foliage ranging from purple and red to gold. Members of this genus share many characteristics and uses with members of the closely related genus Celosia.) se voorblad is na ‘n foto van Rothea Olivier en versorg deur Martjie Bosman, daardie oerdeeglike redakteur van Protea uitgewers. Die plant wat nooit sterf nie, teenoor die roes of verdigris is die twee pole waaromheen hierdie bundel gebou word.
Die verskillende afdelingtitels gee ‘n bemoeienis met die digkuns weer en ‘n aanpassing by die oomblik (onder andere, “om tans aan te neem”).

Ons vind gesprekke met ander digters soos Gerrit Achterberg, Uys Krige, Leipoldt, Van Wyk Louw, e.a. Die markies de Sade word direk aangespreek. In “Anatomie van ‘n miskenning” (p. 99) word die skrywerslot van Toon van den Heever bekla. Van den Heever was te “uitheems” en:

Sy bundel is summier die lug ingeskiet
en die stukkies vir bloemlesings gevang.

Van den Heever se posisie is egter ook gelyk te stel aan die spreker in die gedig wat al self verby die “hardlywige keurder se kaak” moes kom.

Daar is speelse, selfs guitige verse in hierdie bundel soos “Lyfkaart” (p. 72) wat inspeel op Opperman se bekende gedig:

Die pad na ‘n man se hart
loop deur sy maag, sê hul – of wat?

Dan eindig die gedig met die ironiese einde:

Alle paaie, die hele kaboedel,
kom bymekaar in ‘n motorhektril.

Daar word oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe gedig. Siekte, die dood, ‘n testament, die rol van die digkuns, tuinmaak, die natuur en wat nog. In ‘n klein religieuse gedig, “Opstanding” (p. 65) staan daar:

Sou jy na al jou tastings in die duisternis
jou in die dood as enigste genesing wil berus,
dink aan ‘n graf by Jerusalem: Nooit was iets leegs
ooit weer vir heling so vol betekenis.

Die paradoks wat hier uitgewerk word, is part en deel van vele van die gedigte. In “Verknog” (p. 64) word die wete dat dit wat ons begeer of wil hê, juis nie gevind word nie. In “Duskant Cookham Lock” (p. 60) word sterk sosiale kommentaar uitgespreek. Die glorieryke geskiedenis wat bewaar word teenoor die ervaring van die Afrikaanse reisiger bring uiteraard skerp ironieë na vore soos die konsentrasiekampe, die verskille tussen die Teems en die Apiesrivier. Met Krige se “Tramode” as die interteks word daar gekyk na die name (en versugtinge) van kultuurverskille én die verengelsing van die moderne wêreld.
Daar word ‘n ode aan die onrus geskryf en Jacqueline du Pré tree in gesprek met haar tjello en die wete hoe haar siekte uiteindelik haar kuns aangetas het.

Dis veral die ironiese blik wat vir hierdie leser die leeservaring besonder aangenaam en boeiend gemaak het. In die gedig “Sundowner” (p. 27) word die dood in terme van die blou-uur beskryf. Daar word afskeid geneem van die tuin en huis:

Kyk, ék los, word wêreldburger,
was lank genoeg faktotum-waterdraer.
Ek sal ‘n London fog op julle lig:
Die mis kom orals eenders nader.

Dit spreek vanself dat dit vir hierdie leser ‘n uiters boeiende en opwindende leeservaring was. Wanneer ‘n bundel my aanspreek, maak ek donkieore by die gedigte waarna ek altyd weer sal en wil terugkeer. In hierdie bundel, ‘n besonder lywige een, staan daar ‘n hele paar van hulle.

Die digter neem vele dinge waar: ‘n tsoenami, ‘n toktokkie, die noodlot wat jou lewe verander (“Gestadig”, p. 19).

In “Die doppieklinker” (p. 22) posisioneer die digter homself as ‘n “ek-is-wat-ek-isser”. En dis hoe die meeste gedigte is: sonder swier, praal: met ‘n skerp blik onder die roes en verdigris deur.

Die bundel ondersoek dus die ewige spanning bekend aan die digkuns tussen dit wat taan en dit wat behoue bly; dit wat vernietig en dit wat genees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]