Monday, February 26, 2018

Resensie | Cecile Cilliers – Die ou vrou en die priester en ander verhale (2018)

Die ou  vrou en die priester en ander verhaleCecile Cilliers. H&R, 2018. ISBN 978 0 7981 7699 6

Resensent: Joan Hambidge

Cecile Cilliers is veral bekend as rubriekskrywer: Beeld, De Kat en Sarie. Daar was Boeksusters op Kyknet saam met haar suster, wyle Madeleine van Biljon waar hulle onderhoude met skrywers gevoer het. Sy was eerste nie-predikantsvrou wat tot vise-voorsitter van die Sinodale Komitee verkies is. Sy het ook enorme werk verrig vir alle vroue in die kerk en op ouderdom 84 debuteer sy as kortverhaalskrywer met Die ou vrou en die priester en ander verhale. Boonop met ‘n pragtige Robert Hodgins-skildery op die voorblad.

In 2012 lees ek haar verhaal “Brood” in die bundel Bloots (samestellers: Karin Eloff en Peter van Noord) en wéét: hier is ‘n kortverhaalskrywer wat wag om gepubliseer te raak. Die ware kortverhaalskrywer skryf soos 'n digter en gebruik min woorde, suggestie, beelde – en ontgin emosies op ‘n eerlike wyse.

Elise Muller, Henriette Grové, Petra Müller, Nanette van Rooyen, onder andere, is voorgangers – en hier kom Cecille Cilliers en sy voeg haar by die lang galery van vroue-kortverhaalskrywers, te veel om op te noem. Corlia Fourie en Annemarié van Niekerk het die uiteenlopende stemme gebloemlees.

Die bundel is vanuit ‘n vroulike perspektief geskryf en Hélène Cixous se Sorties (Uitgange) oor die verskille tussen die manlike en vroulike skryfwerk is hier aanwesig. In die eerste verhaal word daar na die maan getjank (18), vir Cixous 'n simbool van die vroulike dimensie: 

Women must write through their bodies, they must invent the impregnable language that will wreck partitions, classes, and rhetorics, regulations and codes, they must submerge, cut through, get beyond the ultimate reverse-discourse, including the one that laughs at the very idea of pronouncing the word "silence", aldus Cixous.

Goeie kortverhaalskrywers is kunstenaars uit eie reg. Hulle is nie romanskrywers onderweg nie.

Ons lees kortverhale (onbewustelik) na die slot toe. Daar moet “closure” wees. Dikwels neem die verhaal ons terug na die eerste sin, die eerste gewaarwording soos in “Herrnhut”, uitgebou rondom onbeantwoorde liefde. ‘n Jong skoolmeisie se drome en die ouer man se sobere reaksie (selfbeskerming?) word belig en hoe hierdie insident haar sou raak vir die res van haar lewe. 

Die oortuigende kortverhaalskrywer span al die sintuie in, en “Die fox fur” handel dan ook oor die mag van die reuksintuig. Hier is Cilliers besig om ‘n hele vergange wêreld van hoededose en pelse aan die vergetelheid te ontruk. En ook die verwonde hoofkarakter se gevoel van onbehendigheid en verlatenheid rondom ‘n ingewikkelde verhouding met die moederfiguur te aktiveer.

In “Die trourok” word sowel politieke as religieuse kwessies aangespreek. Die mag van gebed, ‘n fratsongeluk en hoe ‘n ander kind die plek inneem van die gestorwene. Lobola teenoor die bygeloof dat die dra van ‘n trourok voor die groot dag ongelukkigheid mag veroorsaak, word in hierdie klein juweel van ‘n verhaal ópgehef. Rondom ‘n trourok word ironie ingespan.

Cilliers teken haar karakters met min woorde, maar hulle kom hélder voor jou staan.

As ‘n kenner van letterkunde (Cilliers het ‘n doktorsgraad in Afrikaans behaal) kan sy ‘n verhaal laai met subteks en intertekste wat nooit die verhaal stuit nie. In die skitterende “Die hitte van die Karoo” word daar verwys na Robert Hodgins se skilderye om die hitte van die Karoo te konkretiseer. Van Wyk Louw se liefde wat so kon skif tot haat, dra die storie vérder, met ‘n herinnering aan Doré se Adam en Eva wat uit die paradys verjaag word.

‘n Vernuftige spel met buite- en binneteks, omdat Hodgins op die voorblad staan. En die leser neem na sy uitstaande werk wat saam-vertel. In “I’m sorry” analiseer sy ‘n gelade politieke situasie en hoe mense dikwels namens ander intree om selfsugtige redes. Op ander plekke is daar verwysings na Totius; selfs M.E.R. Die priester word via Chesterton ingekleur in ‘n analise van oudword, geloof, selfstryd (en die dood)  in die komplekse titelverhaal.

Die verhale handel oor tussen-posisies of die skemer plekke van die gees: ‘n jong meisie se jeugdige obsessie met ‘n ouer man; ‘n vrou wat verlang na haar oorlede man; ‘n huwelik van stiltes en verwyte na die kinders die huis verlaat het; onvervulde begeertes en drifte; ‘n gesteelde ring wat ‘n teken moet word vir ‘n herbesoek van ‘n verhouding; bloedskande; Alzheimer se siekte; die dood …

Hierom verhale van die ouer, lewenswyse mens. Hierom is elke woord op sy plek. Elke insig ryp en beleë. Fredric Jameson se politieke onbewuste en Cixous se vroulike onbewuste word in verhaal na verhaal gekarteer.

Een punt van kritiek: die blakerteks se aanhaling uit 'n verhaal gee nie die werklike omvang van die bundel weer nie.

‘n Sjarmante, gevoelige debuut. Daar is ‘n handvol stories wat hierdie leser áltyd sal bybly.