Sunday, February 11, 2018

Gedig | Joan Hambidge - Erfstuk: Maggie Laubser (2018)

Maggie Laubser, Seelandskap

Op reis in Colombië
dink ek na oor
pelligro en disponibel
by die lees van jou testament:
gevaarlike rotse, see
en dan die berg waarna jy
jou hele lewe lank sou
bly terugverlang.
Die skildery staan waar dit staan.
By my terugkeer
kyk ek na die erfstuk
wat restourasie behoef
soos hierdie gedig
in proses: 'n bed
gloeiend toe 'n kooltjie
uit 'n sigaret skiet.
Oor 'n bergpas digby
Villa de Leyva
'n brandende boom
één met dié gloed
van herinnering
nes die nota
van jou
in 'n kruik
geberg.

© Joan Hambidge