Wednesday, December 27, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Moeder: foto uit haar jeug


 Op 'n ou vergeelde foto sit my moeder,
onbekend tot nou vir my, die kyker,
op Kersdag 2017 stil gepresenteer
met ander foto's aan haar erfgename.
'n Foto het 'n punctum, weet ek danksy
Barthes en ander kenners van camera lucida.
Toé was foto's uniek, minder alomteenwoordig
met selfies en sosiale media. Eenmalig selfs,
vir die digter wat probeer bepaal, verstaan:
wie was die fotograaf, wat dié geleentheid?
Was sy reeds verloof, onbewus van dié afdrukke
en een wat haar lewe sou opskryf in gedigte,
'n ongevraagde quodlibet, in 'n blinde huis

waar foto's in 'n boks stof en versreëls opgaar?

© Joan Hambidge