Friday, October 13, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Ryk Hattingh (2017)

Foto: Le Roux Schoeman

Ryk Hattingh

All of us have a place in history. Mine is clouds.
Richard Brautigan


"My aard, soos 'n vonk,
is ook onkenbaar," beskryf
jy jouself in
Huilboek
'n laaste testament
ongeteken.
Op Monitor
lewer ek 'n kort huldeblyk
oor jou vroegoggend
in hierdie verraderlike paradys
waar ons steeds sing van bomme.
"Skoenmaker hou jou by jou lees!",
sou jy kon uitroep.
"Wat weet jy van verlange
na 'n vaderland
wat klou soos nga
aan 'n kietiekombers?"
My vooraf geredigeerde
afskeidswoorde
verklap helaas nie
hoe ek nie trane kon keer
oor hoe jy
voor sonsopkoms
in 'n ander tydsone
deur 'n tonnel
beweeg
kaalvoet
tot binne-in my grafskrif.

11 Oktober 2017


© Joan Hambidge