Sunday, August 6, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel VI)

Met reis word die inpak makliker. Jy begin in jou gedagtes al die klere sien waar dit moet lê in die tas. Die verskillende sakkies met zippies word toegemaak: medisyne, pilletjies, parfuum, tandeborsels, waspoeiers ...

Boeke in 'n aparte handtas met skootrekenaar.

My gids neem my lughawe toe en by die geldwisselaar probeer ek geld omruil om die wisselkoers te probeer bepaal. Helaas geen geluk. Hy het nie geld om te ruil nie. Stadig, rustig met geen sorge nie bepaal hy die koers. Niks jaag hom nie. Nou begin my ou self ontwaak. Ek raak haastig.

Kanselleer die transaksie na 'n halfuur se soektog van die jongeling op sy sel. Vlieg terug en bly sowat drie ure op die lughawe waar ek transaksies afhandel, klere en kos koop en dan huiswaarts keer per skommelbus.

"Are you back, Priscilla Queen of the Desert?", vra 'n kollega telefonies. Nee ek is in die vlees terug; in die gees nog nie.

Elke nag droom ek van die Namib. In een droom is daar 'n gids wat beloof ons sal wildsvleis kry môre. 'n Herhalende droom. Ons ry lang ente oor duine.

Dan ontvang ons wel die beloofde vleis.

Ek lees Kleinboer klaar en dink oor Koos Kombuis se resensie waar hy dit vergelyk met Brink se Die ambassadeur in die ondersoek na ras. Sekerlik tog Kennis van die aand? (Boekresensie/ Hierdie huis deur Kleinboer | LitNet. Besoek 6 Augustus 2017).

Vir dae staan die tas in die slaapkamer, onuitgepak. Klippe van die Etosha en Namib lê op die bedkassie. In die kombuis is daar klippe uit Peru. Op die vensterbank uit Japan.

Die Japannese ruimte: volledig anders as die Namib. Vinnig, modern, elektronies ...

In tempels ervaar jy wel stilte ...

Die bullettrein (sinkansen) wat jou vervoer in 'n oogknip.

Sopas ontvang ek Ernst F. Kotzé se Afrikaans-Japannese woordeboek (Research Institure for Languages and Cultures of Asia and Africa. Tokyo University of Foreign Studies, 2016).

Wat 'n boek is dit nie!

As ywerige woordeboekleser vergaap ek my aan die kundigheid (inleiding in sowel Afrikaans as Engels) oor uitsprake, oornames, tyd, woordordes en wat nog.

Woordeboek is soos horlosies: die slegste is beter as niks, en van die beste kan nie verwag word om presies reg te wees nie - aldus Samuel Johnson (xxx).

Ek dink aan die Tankas ('n vorm wat 1200 jaar oud is!) wat ek probeer skryf het:

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

*

haal die sinkansen
oor die ver Japan vreemd  
ek wis bepaald nie
hoe alles sou duur en duur
in ‘n reis andersoortig

*

die maan skyn nou hier
‘n laggende vet Boeddha
oor my wit futon
jou son skyn buite hoopvol
oor ons leë dubbelbed

*

‘n valentynsdag
bring vele kubersoene
te kus en te keur  -
kies vir jou ‘n soen perfek
onbreekbare internet

*

van Nagasaki
tot Kyoto, Osaka
Hiroshima, Tokio -
klink poësie alreeds op
in hierdie vreemde name

*

eens was ons liefde
koestersag soos ‘n duifveer –
nou net ‘n onthou
van ‘n skoolseun se kettie
laat bloedbevlekte merke

*

Saterdagaand één
op ‘n plattelandse dorp
dra ek saam met my
na plekke waar vervulling
‘n fata morgana bly                    

*

Sondagoggend sing
Callas haar liefdesberou
soos daardie Carmen,
die liefde ‘n stiergeveg
met hartstog, haat, dood en rou

(Uit: Ruggespraak. Protea, Pretoria. 2002)

Ek begin lees aan Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (Tafelberg) en lees 'n asemsnakkende mooi passasie oor Japan raak.

Daar is 'n DVD by die Japannese woordeboek wat beteken jy kan in Japan luister na korrekte uitsprake van woorde. Hierdie boek beklee 'n ereplek in my shosai (studeerkamer).

Ek skryf verder in die komende dae oor hierdie rooi woordeboek.

© Joan Hambidge