Thursday, August 3, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel IV)


Dis so stil in die woestyn ek kan my Mondaine hoor tik.

Die dag begin met goeie nuus: die geld uit die ATM is terugbetaal en na 'n paar lengtes in die binnenshuise swembad is ek reg vir die pad: Naukluft Lodge.

Eers die kliniese Hilton-hotel en Windhoek is besonder skoon en wen glo elke jaar die prys vir die skoonste stad in Afrika.

Die voormalige uitgewer kry nie haar draai nie en ons ry verby al die landmerke in Windhoek omring deur die Khomas-Hocland en die Auas-berge. Soos die Katutara-township, die Reiter von Südwest, die Alte Feste oftewel die museum, die botaniese tuin, unsw. Ons sien drinkers op die stoep sit, maar hierdie reis is om die natuurskoon te besigtig.

Ses ure lank se reis na Solitaire met twee Hong Kong-mense agter en ek voor langs die gids. Ons ry verby bergkwaggas en springbokke.

Ek verkyk my aan die wewer-neste wat soms 'n boom laat omtiep, so groot is hulle. Hierdie neste kan tot 'n 100 kg swaar raak. Die wewer op egte Afrikaans heet die versamelvoël. 

Die Spreetshoogtepas durf ons rustig aan. Soms stop ons vir foto's en dan is ons weer
veilig.

Hierdie onpretensieuse landskap praat met my. Dit sit in my DNS - waarskynlik omdat ek gebore is op Aliwal-Noord hunker ek na ooptes. Na grond. Daar is lieflike plaashuise gebaai in stilte.

Tot by Solitaire.

By die Naukluft-lodge is daar geen internet nie en al die jongelinge op hul Samsungs is vies. Die aand is daar 'n egte Namibiese braai met wildsvleis, hoender, knoffelbrood en natuurlik: Apfelstrudel.

Ek gaan vroeg rus. Dis immers moreoggend ons reis na die Sossusvlei-duine en ons moet vier-dertig op wees.

Kleinboer is my bedtydstorie en ek is ontroer deur die ervaring van sy vrou se dood en die begrafnis daarna. Hy beskryf die ritueel van 'n Zoeloe-begrafnis met die drie emmers vloeistof ...

Hy verwys ook na Johan van Wyk, daardie uitsonderlike digter wat na homself verwys as 'n giraffe in 'n bordeel ...

Heldedade kom nie dikwels voor nie is ook in my reistas vir lees. 'n Knap bundel met waarskynlik die beste ekfrastiese verse in Afrikaans.

Ek sit my lig af en droom van my vriend Gerrit. Hy maak 'n hek oop in die droom vir my. Hy is sowat ses jaar gelede onverwags oorlede en ja, in hierdie ruimte is 'n mens voortdurend bewus van die oorgang tussen lewe en dood. Maar dit bedreig nie. Ek is immers die afgelope tyd deur soveel geliefdes verlaat. 

By die Naukluft vertel 'n vrou van 'n jong Russiese kind wat op die boottrip in die water geval het. Gelukkig het die gids haar betyds kon red.

Die wekker lui. Brekfis en dan 'n uur lank se ry deur warrelende stof tot by die duine. Imposant. Beeldskoon. Onwrikbaar. Onbeweeglik.

Die jongeling uit Hong Kong stap die duin flink uit. Ek helaas doen dit minder adret.

Terug Landrover toe. Ons skaats oor die woestynsand. Tyd vir stilte. Ek lees Kleinboer, wyl ons wag op 'n foto-sessie. Sy vertelling hoe hy lepels vis met 'n magneet in sy huis wat die vorige bewoner se kinders in die muuropening laat val het. Oor sy tweelingbroer. Sy ouers: die streng, wiskunde-onnie en die ongasvrye, agterdogtige en neurotiese moeder. 'n Resep vir rebellie. Maar Kleinboer vertel alles soos dit is. Sonder skroom, skaamte of skuld.

Met die lotto-nommers tussenin waarin hy arbitrêre saak saamsnoer. Wat 'n fantasie het hierdie man nie. Dis eerlike Yeoville-neo-realisme waarin die verteller vir sy leser wys dat ons Afrika kan waardeer en geniet.

Verby Big Daddy en Big Mama se duine. Tot by Sossusvlei. Tot by die canyon. Goedskiks ses Landrovers is in die sand gesnoeker. Geen mens in sig nie en die gids weet te vertel hulle is "gered" deur 'n Namib-viertrek.

Ons hou piekniek onder die bome by 'n outydse tafeltjie. Smul aan hard gekookte eier, toebroodjies, jogurt en koffie. Die Hong Kongelinge gesels opgewonde oor die natuurskoon in hul taal. Ek en die gids praat Afrikaans. 'n Wonderbaarlike ervaring van hierdie land is hoe suiwer en amper outyds die Afrikaans is. Geen Engelse sleng of stoplappe nie.

Ek neem foto's. Ek verkyk my aan die bome. Ek vind nou berusting toe ons by Weltevrede-lodge verby ry, die naam van my moeder se meenthuis.

Middagete sit daar vier vinkies en bedel by my tafel. Ek voer vir hulle krummels. Hulle is boodskappers uit die ander oord.

My sak val oop. Daar is 'n pakkie note in van vorige bestemmings: Turkye, Sjina, Argentinië en Chili.

Matriks, Indeks en Astrak is my trits waarin ek 'n fase van my lewe afhandel.

Woestynlandskap
(Tierra de sombra
come mi boca.)
Federico García Lorca

In hierdie landskap sonder genade
waaier my hele lewe voor my uit:

ek sien my ma wat padkos pak
vir 'n reis na haar familie in die suide.

Soggens hou my vader woordeloos toesig
wanneer ek my tas vol klere pak

en my mentor hoor ek goedskiks lag
oor ek tans boom- en voëlname bemeester.

In vele fotobeelde sit hulle roerloos, wagtend
in die volledige geheimenis van die dood ómhul.


© Joan Hambidge