Sunday, July 16, 2017

Resensie | Johan Myburg – Uittogboek (2017)

Johan Myburg – Uittogboek. Protea Boekhuis, 2017. ISBN 978-1-4853-0776-1

Resensent: Joan Hambidge

Johan Myburg debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel heet Kontrafak (1994) en word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn Kamermusiek en so pas: Uittogboek. Dit is ’n komplekse bundel wat handel oor die geskiedenis, ver en naby, en die programgedig is ’n herdigting van die bekende sterfgedig van die Romeinse keiser Hadrianus (76-138 n.C.).

Myburg se bundels was nog altyd deurgekomponeer, veral rondom musiek en die skilderkuns. Dieselfde geld die jongste bundel wat die leser kan oopmaak op enige plek om die kontrapuntale aard daarvan te kan raaksien. “Ombra mai fu” (52) is ’n sentrale vers wat dit illustreer. Dit is die openingsaria van Handel se opera Serse (1738), wat al deur soveel sangers vertolk is. Oorspronklik gesing deur ’n castrato en nou veral in moderne tye deur hoë tenore, contralto’s en mezzosoprane.

Ombra mai fu
di vegetabile,
cara ed amabile,
soave più.

Nooit was die skadu van ’n plant, liefliker, mooier of soeter as jy . . . (losweg so vertaal).

Dié bundel getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie.

Myburg se vorige bundels het swaar gedra aan ’n T.T. Cloete-invloed. In hierdie bundel het hy dit genoegsaam verwerk en sy eie stem gevind. Cloete is steeds daar, maar nou meer in die troop van die apophrades, soos Harold Bloom dit tipeer in A Map of Misreading (1975), oftewel die terugkeer van die dooies.

In “Reitzstraat, Potchefstroom” (44) lewer Myburg verslag van hierdie mentorskap en besef hy hoe belangrik vormbeheer is: “Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket / van tuine en die toorkrag van ’n rymende eindkoeplet.”

Die digter lewer ’n bundel met ryk tematiek en daar is vele vorme wat ontgin word, soos prosaverse, stringverse, eksperimente met die distigon, vierreëlige verse. Daar is lykdigte en reisverse. Ars poeticas en stemmingsgedigte. Daar word verwys na skrywers soos Marguerite Yourcenar, Maurice Blanchot; kunstenaars soos Elza Botha en Diane Victor.

Daar is gesprekke en palinodes, onder meer “Nanas de la nada” (105-107). Dit is gegrond op César Antonio Molina se “Vivir sin ser visto” (“Lewe sonder om gesien te word”), ’n koerantartikel wat die digter in Madrid gelees het. Hier word die buitelandskap teenoor die binnelandskap afgespeel en die reisende digter word immers getref deur die nuutheid of vreemdheid van ’n ander bestaan, soos verruklik beskryf in die lang gedig oor Venesië (46) waar die stad gesien word soos ’n borsspeld op die lapel van die see.

Van bo gesien lyk die stad
op ’n druppel soos ’n vis
of is dit ’n sinker.

Die gedigte is middelpuntsoekend en -vliedend (“Sentripetaal”, 58) en hierom word die hadida uit verskillende hoeke digterlik en taksonomies belig. Die digter is sowel tuis as ontheemd (46) en in “Passacaglia” (45) word ’n stuk kunsteorie skitterend verwoord.

Dit is ’n stadige, stylvolle dans van Spaanse oorsprong (uit die 17e eeu) met vele variasies wat ’n sleutel is tot hierdie bundel met verskillende weergawes en ’n terugkeer na ’n tuin van herinneringe.

Myburg is ’n gerekende kunskritikus en hierom vind ons dan vele besinnings oor die beeldende en skilderkuns.

Sy gedigte werk sterk klankmatig en die musikaliteit sluit aan by Johann Johl se Gewalste woord (1990).

Die digter aktiveer Cangiante, ’n modus van skilder uit die Renaissance-tydperk teenoor Unione, Chiaroscuro en Sfumato. Cangiante (letterlik verandering, van die Italiaans “cangiare”) aktiveer die afwisseling van emosies én kleure.

In “Spätsommerstag” (42) word die liefde pynlik-navrant belig. In “Postuum” (60) wonder die spreker of die “ingekiste” tevrede was met die blomme by die begrafnis?

“Prosopopeia” (95) is weer ’n ander sleutelgedig wat handel oor Egiptiese doodsrituele, waarin die uittogboek van ’n sterwende via papirus tot ’n moderne gedig oorvertel word. In die Grieks is dit letterlik persoonsverbeelding of personifikasie dan.

Die digter as buikspreker wat telkens “objective correlative” vind om sy eie emosies te maskeer. Hierom vele apokriewe briewe en gesprekke met historiese figure, soos die skitterende “Apokriewe brief” (61) van die kardinaal Cisneros aan Gabriel Alonso de Herrera in 1513. Oënskynlik ’n brief oor boerderye, wat dan weer politieke kommentaar word op boekverbrandings in onrustige tye. “Kitab al-filaha” (56) is eweneens ’n gedig wat sowel die landbou as die kuns van skoonheid aanspreek.

In “Deuntjie” (57) staan daar:

My huis is so gehawend
soos dié van ’n Moorse koning:
Buite vrot die pleisterklei
maar binne is my woning.

Dit is ’n ryke, komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry.

Johan Myburg

Van die Karoo tot Kastilië, van Xerxes tot Gustav Mahler in ’n bundel van “om te leef om te oorleef om oorleef te word”, 70). Dit is ’n bundel van tanatografie, maar terselfdertyd word die lewe besing en gevier.

George Seferis, die diplomaat-digter, gooi hier ’n lieflike draai:

In Pretoria dans bome met kastanjette, strooi
Jakarandasneeu in die lente. Die res, meen Seferis,
Is saai, ’n grafstad waarin hy lewend toegegooi
Is, ’n skaduryk waarin hy dolend soek na ’n poort. (19)

“Elegie op die wyse van ’n impasse” (77) is ’n sterk politieke vers wat kommentaar lewer oor die paspoort wat eventueel verstryk. (Eventueel hier dan nie as moontlik nie, maar uiteindelik.) Afrika sprei oop soos ’n kassaweblaar.

Dit is ’n eerste lesing wat deur dieper besinnings sal moet gaan om reg te laat geskied aan Uittogboek.