Sunday, June 18, 2017

Etienne van Heerden – Die wêreld van Charlie Oeng (2017)


Etienne van Heerden – Die wêreld van Charlie Oeng. Tafelberg, 2017. ISBN 978 0 624 08052 7

Enkele e-notas by Etienne van Heerden se roman

Sopas verskyn Etienne van Heerden se jongste roman oor die 500 bladsye lank. Dit is 'n komplekse teks waarin die verteller Tian Kilian probeer sin maak uit die dood van sy ouers op Slootplaas. Daar was vuurwerke. Hierdie is net 'n paar kanttekeninge.

Op die spoor van ene Charlie Oeng (Koekepan, Gelatenheid, Soutchinees) probeer hy die raaisel oplos. Amsterdam en Hong Kong veral, word nuut bekyk.

'n Veelheid van karakters (in wese argetipes) is hier aanwesig: Jenny May, Ouma Voetjies, Ouma Ogies, Cor van Gogh, Sy, Juffrou Latsky, die moeder, die vader ...

My lesing van die roman wil op énkele kwessies let. Die ongelooflike suspension of disbelief wat ingespan word om hierdie roman te laat werk met sy veelvuldige vertellyne en -strategieë. In Matchpoint van Woody Allen verskyn die twee vermoorde figure aan die moordenaar in 'n droom wat ook waar kan wees en daar word via Sofokles besin of dit nie beter sou wees om nooit gebore te word nie. 'n Besondere voorbeeld van suspension of disbelief. Die twee vermoordes kla die moordenaar aan - en hy in skuldgevoelens "sien" hulle. (Woorde Wat Weeg / Woody Allen/ Blue Jasmine en A street car named desire. Besoek 17 Junie 2017). 

Die wêreld van Charlie Oeng is 'n verpakking van al die temas wat ons aantref in Van Heerden se vorige romans: skuld en boetedoening, vergelding, soektog, 'n hofsaak, 'n  regter / landdros / prokureur.

Van die plaas- tot stadsroman. Hierdie teks is 'n episodiese roman. By tye ook 'n sensasie-roman.

Daar is kommentaar op die uitgewersbedryf; op skryfkuns ook.

Wat vir hierdie leser opvallend was, is die versweë intertekste: Juffrou Latsky, die Latyn-onderwyseres is 'n kopknik na Maria/Marie uit Sy kom met die sekelmaan (Hettie Smit) en Swart koring (Joan Hambidge). Daar is eweneens verwysings na die skrywer se eie werk wanneer jy fynlees. Toorberg is veral hier!

Die ses-en-dertig oud-Chinese krygstaktieke ('n mitiese boek) is 'n verdere paper chase en in die woorde van die werklike outeur: 'n misleiding! 36 hoofstukke word gekonstrueer rondom hierdie mantras soos "Die geleende pad lei tot die verowering van Guo". Vals bodems, verkeerde uitgange en die mise en abyme is dus hier die towerwoord.

Inderdaad 'n storie-binne-in-'n-storie ...

En soos metafiksie en postmodernistiese tekste dan ook werk, mag die skrywer die waarheid "aanpas", soos onder andere oor Cor van Gogh. Ons dink hier aan D.M. Thomas se The White Hotel waar Freud se siening van histerie besoek word, veral die Pelican-volumes 3, 8 & 9. Thomas intimeer dat die "waarheid gelieg" jou juis by die meer essensiële waarhede kan uitbring. En Freud kan ook as letterkunde gelees word, nes die mitiese Chinese boek wat ook iets vertel van die skrywer wat homself moet verweer teen die groter geskiedenis en private verlede. Historiografiese fiksie.

"Die storie van die luislang wat sy eienaar wil eet, is 'n urban myth wat nogals wyd bekend is. Ek het dit die eerste keer by 'n kollega gehoor", verneem ons in die Erkennings op bladsy 557. Daardie kollega bestaan wél, in die vorm van die literator op Woorde wat weeg en die skrywer van Vuurwiel wat in Hong Kong (o.a.) afspeel.

Verskeie weergawes van die mite bestaan: die luislang wat in 'n mandjie langs die bed lê en een nag langs die vrou op die bed kom lê en haar afmeet. Slavoj Žižek in The Pervert's Guide to the Cinema DVD, (2) haal Hitchcock en die paling aan. Baie Freudiaans en uiteraard dan ook die vrees vir penetrasie. Die sardoniese Alfred H begin met 'n limerick en grappe (raaisels) is immers een van die maniere waarop die onbewuste oopgemaak kan word.

Die geskiedenis van die Oos-Kaap in die sestigerjare en die bestaan van die Chinese gemeenskap in Nederland word saamgesnoer.

Krygstaktiek 36 is uit die duim gesuig, verneem ons. Waarheid en verdigsel, leuen en fiksie, word ondersoek. Briewe, belydenis, selfs fotoboekies, 'n IPad, o.a. word deel van die vertelaanbod. 

Van Cicero tot Confucius, van die Tao tot Jung.

"Ek vertel dit in die derde persoon, om myself te beskerm." (553)

Tog het ons hier 'n naked I wat telkens weerloos staan voor die geweld wat die wêreld inhou. 'n Roman as 'n dapper weerstand teen die geskiedenis. 

Hierdie roman het my weer teruggeneem na die werk van John Fowles. In sy studie oor Fowles skryf Peter Conradi (Methuen, 1982) oor die feit dat hierdie skrywer sowel ernstige as gewone lesers boei. Dit is eweneens van toepassing op Van Heerden se tekste waar die fabulasies ook tot gevolg het dat daar nooit closure kan wees. Die leser, in Žižek se terme, weet dat dit is 'n "leuen", maar laat sigself toe om emosioneel geboei te word (The Pervert's Guide to the Cinema, DVD 3).

By Fowles en Van Heerden is daar 'n terugkeer na ouer werk: daardie "innovatory attack on his own fluency", aldus Conradi (16). 

Fowles se The Magus het oorspronklik in 1966 verskyn en die hersiene uitgawe in 1977. 

Wat Conradi skryf oor Fowles is hier van toepassing: “The novel, like certain mannerist art, puts its own conventions on a kind of show trial, convicting itself in public of deception, but oddly intensifying its own illusionism in doing so” (20). 

Die trompe-l'oeil. Of ellips (451). Besluit self of die leer onder jou uitgetrek word in die besinnende verteller se woorde en of die roman homself insluk.

Vir sommige lesers mag die boek te lank wees, maar om al die verhaallyne saam te trek behoef 'n uitgebreide boek.

© Joan Hambidge