Sunday, June 18, 2017

Etienne van Heerden – Die wêreld van Charlie Oeng (2017)


Etienne van Heerden – Die wêreld van Charlie Oeng. Tafelberg, 2017. ISBN 978 0 624 08052 7

Enkele e-notas by Etienne van Heerden se roman

Sopas verskyn Etienne van Heerden se jongste roman oor die 500 bladsye lank. Dit is 'n komplekse teks waarin die verteller Tian Kilian probeer sin maak uit die dood van sy ouers op Slootplaas. Daar was vuurwerke. Hierdie is net 'n paar kanttekeninge.

Op die spoor van ene Charlie Oeng (Koekepan, Gelatenheid, Soutchinees) probeer hy die raaisel oplos. Amsterdam en Hong Kong veral, word nuut bekyk.

'n Veelheid van karakters (in wese argetipes) is hier aanwesig: Jenny May, Ouma Voetjies, Ouma Ogies, Cor van Gogh, Sy, Juffrou Latsky, die moeder, die vader ...

My lesing van die roman wil op énkele kwessies let. Die ongelooflike suspension of disbelief wat ingespan word om hierdie roman te laat werk met sy veelvuldige vertellyne en -strategieë. In Matchpoint van Woody Allen verskyn die twee vermoorde figure aan die moordenaar in 'n droom wat ook waar kan wees en daar word via Sofokles besin of dit nie beter sou wees om nooit gebore te word nie. 'n Besondere voorbeeld van suspension of disbelief. Die twee vermoordes kla die moordenaar aan - en hy in skuldgevoelens "sien" hulle. (Woorde Wat Weeg / Woody Allen/ Blue Jasmine en A street car named desire. Besoek 17 Junie 2017). 

Die wêreld van Charlie Oeng is 'n verpakking van al die temas wat ons aantref in Van Heerden se vorige romans: skuld en boetedoening, vergelding, soektog, 'n hofsaak, 'n  regter / landdros / prokureur.

Van die plaas- tot stadsroman. Hierdie teks is 'n episodiese roman. By tye ook 'n sensasie-roman.

Daar is kommentaar op die uitgewersbedryf; op skryfkuns ook.

Wat vir hierdie leser opvallend was, is die versweë intertekste: Juffrou Latsky, die Latyn-onderwyseres is 'n kopknik na Maria/Marie uit Sy kom met die sekelmaan (Hettie Smit) en Swart koring (Joan Hambidge). Daar is eweneens verwysings na die skrywer se eie werk wanneer jy fynlees. Toorberg is veral hier!

Die ses-en-dertig oud-Chinese krygstaktieke ('n mitiese boek) is 'n verdere paper chase en in die woorde van die werklike outeur: 'n misleiding! 36 hoofstukke word gekonstrueer rondom hierdie mantras soos "Die geleende pad lei tot die verowering van Guo". Vals bodems, verkeerde uitgange en die mise en abyme is dus hier die towerwoord.

Inderdaad 'n storie-binne-in-'n-storie ...

En soos metafiksie en postmodernistiese tekste dan ook werk, mag die skrywer die waarheid "aanpas", soos onder andere oor Cor van Gogh. Ons dink hier aan D.M. Thomas se The White Hotel waar Freud se siening van histerie besoek word, veral die Pelican-volumes 3, 8 & 9. Thomas intimeer dat die "waarheid gelieg" jou juis by die meer essensiële waarhede kan uitbring. En Freud kan ook as letterkunde gelees word, nes die mitiese Chinese boek wat ook iets vertel van die skrywer wat homself moet verweer teen die groter geskiedenis en private verlede. Historiografiese fiksie.

"Die storie van die luislang wat sy eienaar wil eet, is 'n urban myth wat nogals wyd bekend is. Ek het dit die eerste keer by 'n kollega gehoor", verneem ons in die Erkennings op bladsy 557. Daardie kollega bestaan wél, in die vorm van die literator op Woorde wat weeg en die skrywer van Vuurwiel wat in Hong Kong (o.a.) afspeel.

Verskeie weergawes van die mite bestaan: die luislang wat in 'n mandjie langs die bed lê en een nag langs die vrou op die bed kom lê en haar afmeet. Slavoj Žižek in The Pervert's Guide to the Cinema DVD, (2) haal Hitchcock en die paling aan. Baie Freudiaans en uiteraard dan ook die vrees vir penetrasie. Die sardoniese Alfred H begin met 'n limerick en grappe (raaisels) is immers een van die maniere waarop die onbewuste oopgemaak kan word.

Die geskiedenis van die Oos-Kaap in die sestigerjare en die bestaan van die Chinese gemeenskap in Nederland word saamgesnoer.

Krygstaktiek 36 is uit die duim gesuig, verneem ons. Waarheid en verdigsel, leuen en fiksie, word ondersoek. Briewe, belydenis, selfs fotoboekies, 'n IPad, o.a. word deel van die vertelaanbod. 

Van Cicero tot Confucius, van die Tao tot Jung.

"Ek vertel dit in die derde persoon, om myself te beskerm." (553)

Tog het ons hier 'n naked I wat telkens weerloos staan voor die geweld wat die wêreld inhou. 'n Roman as 'n dapper weerstand teen die geskiedenis. 

Hierdie roman het my weer teruggeneem na die werk van John Fowles. In sy studie oor Fowles skryf Peter Conradi (Methuen, 1982) oor die feit dat hierdie skrywer sowel ernstige as gewone lesers boei. Dit is eweneens van toepassing op Van Heerden se tekste waar die fabulasies ook tot gevolg het dat daar nooit closure kan wees. Die leser, in Žižek se terme, weet dat dit is 'n "leuen", maar laat sigself toe om emosioneel geboei te word (The Pervert's Guide to the Cinema, DVD 3).

By Fowles en Van Heerden is daar 'n terugkeer na ouer werk: daardie "innovatory attack on his own fluency", aldus Conradi (16). 

Fowles se The Magus het oorspronklik in 1966 verskyn en die hersiene uitgawe in 1977. 

Wat Conradi skryf oor Fowles is hier van toepassing: “The novel, like certain mannerist art, puts its own conventions on a kind of show trial, convicting itself in public of deception, but oddly intensifying its own illusionism in doing so” (20). 

Die trompe-l'oeil. Of ellips (451). Besluit self of die leer onder jou uitgetrek word in die besinnende verteller se woorde en of die roman homself insluk.

Vir sommige lesers mag die boek te lank wees, maar om al die verhaallyne saam te trek behoef 'n uitgebreide boek.

© Joan Hambidge

Sunday, June 11, 2017

S. J. Naudé – Die derde spoel (2017)

S. J. Naudé – Die derde spoel. Umuzi, 2017. ISBN 978-1-4152-0747-5 (Druk) | ISBN 978-1-4152-0748-2 (ePub)

S.J. Naudé se roman is 'n gebeurtenis, 'n enorm, pakkende roman. Daar is enkele kwessies wat ek in hierdie bespreking wil aanraak.

Dit is 'n roman wat op verskillende wyses kommentaar lewer op kuns en hoe kuns resoneer in die mens se gemoed. Op bladsy 338 dink Etienne na oor Axel se kuns:
Namate Etienne al meer kuns in die museums en galerye van Lon­den en Wes-Berlyn gesien het, het die aura begin kwyn. Axel probeer te hard, het hy besluit. Sy werk dra óf die hart op die mou óf is te obskuur. Wat dit kortkom is flitse van vreemdheid én herkenning wat gelyktydig by mens tuiskom.
Op bladsy 238 van S.J. Naudé se pas verskene roman verskyn die beroemde gedig van D. J. Opperman getitel "William Blake":
William Blake
 Hy het veronrus in die late
nagte deur Londen se strate
rondgedwaal; en is vereensaam van die mens
teruggedryf tot by die grens
waar hy gesels met blom en dier en gees;
maar weet dat God in iedereen moet wees
met eienskappe ingeperk
teenstrydiglik in tand en vlerk,
in wurm en die roos, die lam, die tier;
dat Hy die hartstog is, maar ook die vuur
wat alles lok tot daardie gulde gang
waarna die moeë sonneblom verlang.
Dit is 'n baie belangrike kode vir hierdie roman wat o.a. afspeel in Londen.

Opperman se bekende dictum oor die digter wat moet wegskryf van homself, is hier tersaaklik. Dit is wat in hierdie roman ook gebeur. Alles word 'n metafoor vir iets anders ...

'n Mens word as leser eenvoudig meegesleur deur die digterlike aanslag van hierdie aangrypende roman (Die takke rimpel soepel saam met senings. 112) en ek ken min boeke waarin verlore liefde so pakkend en pynlik beskryf word. Etienne se soektog na die verlore Axel sal hierdie leser altyd bybly. Sý film heet immers Om in Axel se wêreld wakker te word.

Die storie handel oor 'n jong man, twee-en-twintig jaar oud, met 'n boelie-vader. Hy vlug uit Suid-Afrika om diensplig te vermy in 1986. In 'n kunstenaarkommune raak hy verlief op Axel, 'n Duitse kunstenaar, wat hom bekendstel aan eksperimentele kuns. Hy raak obsessioneel betrokke by hom en die verdwyning van Axel (en Etienne se soektog) word aangrypend vertel. Meer wil ek nie verklap nie; ook nie oor die reis na Buenos Aires en die konfrontasie met die ou vrou wat weet waar die derde spoel is nie. Die brief waarop oor en oor getik is:
Alles wat sy oor dekades op haar eie in ’n Argentynse woonstel aan niemand kon sê nie. ’n Swart kreet. Die geskiedenis op een bladsy saamgepers. ’n Biblioteek op ’n vel papier. Plek-plek begin dit disinte­greer soos ’n ou gordyn. (335)
Die vakuum van ink. Alles in hierdie teks neem 'n mens na Jacques Derrida se Writing and Difference. 'n Teken wat staan in die plek van 'n ander teken. Die onbewuste as 'n biblioteek of argief sonder 'n sisteem.

Etienne is 'n student in filmkuns, ontdek die eerste van drie spoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Die soektog na die spoele word gesinkopeer met die soeke na die geliefde. Dit word besonder akkuraat beskryf en die liggaamlike dimensie is helder.

Die geliefde oorrompel hom volledig (Om in Axel se wêreld wakker te word. 112)

Die hoofkarakter beweeg tussen die verskillende ruimtes van Berlyn.

Die roman lewer egter sterk politieke kommentaar en uiteraard is daar verwysings na Leni Riefenstahl.

Die roman is eweneens 'n stuk filmkunde. Films word 'n metafoor vir die onvermoë om direk te vertel of bely.

So begin Hoofstuk 7:
September. Etienne neem inleidende kursusse in kamerawerk en kinematografie, regie, draaiboekskryf en filmredigering. Hy het ’n keuse tussen filmteorie en -geskiedenis. Daarby neem hy ’n seminaar genaamd “Verlore kontinentale films”. “’n Filmverhaal is ’n reeks voortdurend veranderende beelde wat gebeure vanuit ’n verskeidenheid oogpunte uitbeeld,” lui sy Amerikaanse filmtegniekhand­boek. Hy lees van visuele beplanning. Oor storieborde. Objektiewe en subjektiewe kamerahoeke. Die bepaling van kamerahoogte en -hoeke. Hoe om naby-, lang en mediumskote optimaal af te wissel. En van komplekser kamerabewegings, op dollies of vanaf hyskrane.
 Hy hou van die ultralang skoot, die wye lens wat epiese taferele in­neem. Sy handboek demonstreer dit met rame uit cowboy-flieks: drie eensame ruiters op die vlaktes, ’n trop bisons wat voor ’n stofwolk dreun. Of ’n veldslag met sneuwelende soldate. Sy ander gunsteling is die “Dutch tilt” – ’n lae kamera wat teen ’n skerp hoek op ’n speler gerig word. Dit disoriënteer die kyker, verduidelik sy handboek, en suggereer die speler is gedisoriënteer, dronk of ontsteld. In extremis.
Ook die filmmaker Andrei Tarkofski (wat dood is aan longkanker, omdat hy Sluiper gemaak het in ou fabrieke, naby chemiese aanlegte in Estland ) én films verloor het, is 'n ander belangrike sleutel. Siekte en dood loop immers regdeur hierdie teks.

Die kinematograaf se toon is pedanties, deklamerend: “Ná Tarkofski se dood het sy produksiebestuurder vertel hoe hulle een oggend in die 1970’s, toe hy aan Sluiper gewerk het, ’n toneel in ’n grasveld moes ver­film. Die vorige aand het Tarkofski die landskap uit elke denkbare hoek bespied. Toe hulle begin skiet, spring hy op en waai met sy arms. ‘Sny, sny.’” Die kinematograaf maak verspotte wuifbewegings; die teoretikus frons. “Oornag, blyk dit toe, het ’n paar veldblommetjies oopgegaan. Die assistente moes sywaarts deur die gras beweeg, soos krappe, om niks te versteur nie, en elke laaste blommetjie pluk. Eers tóé kon die skoot voortgaan.”

Die les is nie vir Etienne ooglopend nie. “Ja,” sê die redigeerder, “en daarna is die materiaal verwoes in ’n Sowjet-laboratorium wat nie ge­weet het hoe om die Amerikaanse Kodak-film te ontwikkel nie. Tarkof­ski moes van voor af begin. Hy het in totaal meer as 5 000 meter film gebruik.” (113).

En Tarkofski se Spieël is hier - nes die implisiete verwysing na sy puik Notalsghia, 'n film wat werk met droom en werklikheid; waansin en normaliteit.

Die Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland en hoe pornografie in ou films daar uitgesien het, word insigryk vertel.

Die beskrywing van Axel se siekte word so pynlik-eerlik vertel met 'n kopknik na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe. Ook die moeder se siekte gryp aan die keel.

Dit is 'n boek oor verlies en die soektog na dit wat behoue gebly het in die drie spoele. Maar met die refrein dat kuns (musiek, beeldende kuns, films, skryf) ons enigste behoud is. Soos die bevrore paddas wat kan oorleef in die winter met harte wat ophou klop, bloed wat vries, organe wat stop ... (261).

Die kommentaar op Oos- en Wes-Berlyn, die geskiedenis van toe, die vlymskerp analise van die Afrikaanse patriarg, is eweneens boeiend. Nes die bestaan in kommunes en road trips.
Soos die woord vuurvliegie in die naaldprik van fosfor in 'n Berlynse muur. So is hierdie roman.

Dit is kosmopolitiese roman wat verskillende ruimtes verken: Londen, Berlyn, Buenos Aires, Suid-Afrika ...

Bibliografie:


Derrida, Jacques: Writing and Difference. Vertaal deur Alan Bass. Routledge & Kegan Paul, Londen. 1978.

S. J. Naudé