Tuesday, May 2, 2017

In memoriam Karel Schoeman (1939 – 2017)


Om die werk van Karel Schoeman as groot te beskou, is nie oordrewe nie. Trouens, sy dood ruk ‘n mens tot stilstand omdat die Afrikaanse letterkunde ‘n skrywer van statuur verloor het. My eerste kennismaking met Schoeman se werk was in 1975 toe ons sy Op ‘n eiland (1971) behandel het in die eerstejaar prosakursus aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die subtiele hantering van die liefde en die besoek aan die versonke stad, word toe ‘n eksamenvraag, een wat jou leserskennis toets vir subtiliteit in hierdie prag stemmingsroman.

“Die hoop beskaam en die liefde beteken afstand en verlange en verlies” (127) en die volgende binnespraak sou vele lesers herken en vir jare daarna kon opsê:
Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit ‘n maan gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil – o ja, daar is eilande. (132) 
Die roman eindig met die woorde:

Dit is ‘n lang reis van die eiland na Piréus.

En onderaan: 9 Junie 1970.

Tydens my eerste jaar as dosent aan die UK, doseer ek hierdie roman. Ek verwys na die besoek aan die versonke stad as die motoriese moment en hoe daar altyd ‘n spanning is tussen die vertellende en belewende aspekte van die vertelling. Ook die binnespraak is tersaaklik.

Schoeman se gebruik van sub-teks en sy subtiele hantering van ‘n gay-liefdesgegewe, is eweneens belangrik. En natuurlik: die agterna-perspektief en die gebruik van “vreemde” woorde. Die sirkelgang van die roman …

Die tersluikse verwysing na Le Rouge et le Noir van Stendhal met die wete dat daardie hoofkarakter toelaat dat sy emosies hom sal oorrompel … (The Red and the Black - Wikipedia. Besoek 2 Mei 2017).

By die heruitgawe van die roman, skryf ek soos volg op my blog:

Daar is hartgrypende passasies oor onvervulde liefde en begeertes regdeur die teks:
mense wat mekaar toevallig in ‘n trem aanraak, by haltes afklim – maar die begeerte word nooit opgelos nie. (Woorde wat Weeg/ Karel Schoeman - Op ‘n eiland, 2009. Besoek 2 Mei 2017). 

En later sou ek sy verruklike ‘n Ander land lees (1984), Afskeid en vertrek (1990), Hierdie lewe (1993) en veral: Die uur van die engel (1995) as persoonlike hoogtepunte uitsonder.

En natuurlik sy vertaling van Rob Nairn se ‘n Stil gemoed bly ‘n wonderbaarlike vertaling. So word hierdie boekie bemark, ‘n Inleiding tot die Boeddhisme en Meditasie:
'n Stil gemoed is 'n eenvoudige inleiding tot die Boeddhisme en meditasie. Die Boeddhisme is wesenlik 'n aantal metodes om met die verstand en gemoed om te gaan. As ons hierdie metodes verstaan en op ons lewens toepas, sal hulle ons inherente vermoë om innerlike vrede, erbarming en wysheid te ervaar laat ontplooi deur die potensiaal van ons gees te ontwikkel. Mediteerders in die Weste ervaar unieke probleme as gevolg van hul kulturele, sosiale en sielkundige agtergrond.
('n Stil Gemoed / Rob Nairn. Besoek 2 Mei 2017).

Sy Witnesses to war (1999) waar hy fungeer as redakteur van dokumente rondom die Anglo-Boereoorlog, is eweneens vir my ‘n persoonlike baken.

Hier sien jy die samehang tussen sy historiese werk en sy kreatiewe tekste. Hoe die navorsing die romankuns voed.

Schoeman skryf in sy Voorwoord dat mense oorloë romantiseer. Hierdie oorlog was egter een verveling, frustrasie, futiliteit en fisiese ongemak, skeiding, destruksie, swak vervoer en kosvoorsiening, disenterie, blase, stof, modder, vlieë, luise - teen die konstante agtergrond van potensiële geweld en gevaar. Hy wys op die geweld teen vroue in  die konsentrasiekampe en hoe kinders dikwels op doodskiste geslaap het.

26 370 wit vroue en kinders is dood in die ABO en veel meer as die 14 154 swart mense  as wat die offisiële statistiek weergee. (Woorde wat Weeg/ Karel Schoeman (Red.) - Witnesses to war, 1999. Besoek 2 Mei 2017)

Sy Na die geliefde land is verfilm as Promised land (2002).

In ‘n nuusflits uit Engeland, stuur ‘n vriend die volgende nuusberig aan:
Karel Schoeman died this morning in the Bloemfontein retirement village where he'd lived for the last few year. He took his own life, aged 77, and left a sober, unemotional and detailed explanation with his attorney, who has now released it to the media. The note describes his increasing lack of interest in research and writing, and his gradual physical deterioration. Not wanting to be a burden to others, and disinclined to deal with the indignities and pain associated with the later ageing process, he decided to commit suicide. He talks a bit about the necessity of public debate around assisted dying and the individual freedom to take one's life at the end. In spite of the legal restrictions operative in this country he notes that with knowledge and the assistance of relevant contacts there are ways to achieve a peaceful self-death.
En dit is ‘n raak opsomming van Schoeman: ‘n sobere, nie-sentimentele uitkyk wat kenmerkend was van sy skryfwerk.

Die invloed van Schoeman se werk op J.M. Coetzee se skryfwerk – veral die vroeëre Schoeman  – moet nog deeglik beskou word. Twee groot skrywers wat die landskap van stilte verwoord.

© Joan Hambidge