Sunday, April 16, 2017

Nicky Stubbs - For Friends & Family (2017)



Nicky Stubbs - For Friends & Family. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798171250

Resensent: Joan Hambidge

I

‘n Kulinêre liefdeslied. So word hierdie pragboek bemark.

Kookboeke is nie net resepteboeke nie. Dit is in wese geskiedenisboeke. Dit vertel die verhaal van ‘n samelewing se siening van kos. Ek, terloops wantrou mense wat nie van eet hou nie.

Peter Veldsman se opdatering in 2010 van Leipoldt se kosboek (van 1933) bly ‘n belangrike argief. Daar  word vertel hoe Leipoldt as dokter van huis tot huis gegaan het en resepte opgeskryf het. Veldsman noem hierdie boek: “‘n prikkel tot die wonderwêreld van plaaslike kos sowel as die kookmetodes van Europese en ander kosghoeroes. Dit bly ‘n droomboek waaruit jy ongedroomde kosdrome kan droom”.

Die oudste kookboek is die Chinese Hong Ts.


In sy inleiding skryf Leipoldt dat die kookkuns so oud soos die mensdom self is. Vir hom is die kookkuns internasionaal. Ons manier van kook en kosbereiding verskil nie van ander lande nie. Elke land het wel sy eie skottels. Dit wat ons as eg Afrikaans ervaar, is geregte onder ‘n ander naam. Tog het ons wel unieke veldkos soos wateruintjies, veldkool, jakkalskos, ensomeer. Hy spreek eweneens die kwessie aan dat ons hier ‘n man vind wat resepte byeenbring; in daardie tyd was dit immers die terrein van die vrou.

My moeder was ‘n begenadigde kok wat kon eksperimenteer met wildsvleis met groot stukke knoffel daarin. Een van my gunsteling-geregte uit my jeugjare is haar gerolde beesvleis met toutjies opgebind. Of daardie varktjoppies wat sy sag laat stowe het in die oond met rys en appelmoes. Of haar beetslaai met uie in. Haar aartappelslaai met fyn gekapte ui, pietersielie en gekookte eiers. Met tuisgemaakte mayonnaise.

Een van my geliefde boeke – op my kombuisrak – is die Biba’s Italy (New York, 2006) se resepteboek oor Italië.

Die Fegato alla Veneziana het ek al getraai. Lieflik.

II

Nicky Stubbs se boek is ‘n glansryke antwoord op Kook en geniet, daardie treffer wat Huisgenoot se wenresepte nooit kon troef nie. Sy het ‘n Cordon Bleu-kookkursus voltooi en in sowel Londen as in Frankryk gekook. Verder het sy in restaurante gewerk, kooklesse gegee en vir tydskrifte geskryf. Sy ken dus die bedryf van binne en buite. Skrywer én resensent, as jy wil!

Die toets glo om te besluit of ‘n resepteboek werk, is om van die resepte in jou kombuis te beproef. Kook is nie my forté nie, maar my bedrewe buurvrou het ‘n paar resepte op die proef gestel en sy is beslis beïndruk. Trouens, ek moes pleit om my boek terug te kry om die resensie te voltooi met die allerpragtigste foto’s. Ek mog wel proe aan die baksels!

Sy haal Elizabeth Luard aan wat in Family Life ons attent maak op die genesing van kos. “Take a short view of life. Look no further than dinner or tea.”

Toe my oorlede moeder se Kook en geniet met ‘n trek na die aftreehuis verlore geraak het, kon ek onmiddellik haar troos met ‘n tweedehandse een. En Peter Blum se vrou het, toe Koos Human haar na jare in Londen raakgeloop het, gevra vir hierdie einste boek toe meneer Human wou weet wat hy vir haar kon stuur.

Nicky Stubbs praat dus met ‘n meer moderne gourmande en kok. Sy gee vir ons foto’s van haarself (en familie) wat hierdie resepteboek dan persoonlik maak. Die grootouers - woonagtig buite Kokstad - waar die kinders vrugte en groente gaan pluk het.

Dis dus enersyds ‘n nostalgiese reis die verlede in, maar andersyds ‘n uiters praktiese boek vol wenke. Sy vertel jou wat jy behoef om te kan kook. Ook wat jy in die spens benodig. Byvoorbeeld die soorte mosterd wat sy aanhou.

Tussen al die “grênd” resepte, is daar ook ‘n afdeling wat heet “Simple meals”.  Soos Hamburgers & Chips. En Makaroni & kaas, ‘n dis uit my jeug wat my nog steeds bekoor. Om my te nooi vir boerekos (dit weet my buurvrou), is die grootste treat denkbaar, omdat ek bykans elke aand van my lewe uiteet. Dit is my plek van sosialisering, maar met die voordeel: die volgende dag smul ek aan ‘n “doggie bag” en vermy slegte kafeteria-kos soos die pes. (Dit was immers Susan Sontag wat beweer het dat die slegste kos op aarde by universiteite te vinde is. # Badfoodmustfall, dink ek.)

En kyk watter gelukkige man lag uitbundig op bladsy 72!

Die kos is mooi gefotografeer; die “roast potatoes” (88) laat die mond behoorlik water. Haar raad: “keep it simple and as unfussy as possible”. In die afdeling oor “Beef & Lamb” – ek is nie vegetaries nie, maar lesbitaries – het my mond gewater. Dis amper weer tyd vir oxtail (osstert klink vir my terloops, obseen), en Saigon in Kaapstad is onoortroffe met ‘n Oosterse glimmer daarby. En die afdeling “Pork” – na Philida met my as romankarakter – is dit welige, wulpse, woeste hamboude vir die stadige kookproses.

‘n Soettand het ek nie, maar ‘n mens kan hier onder andere duidelik die Franse invloed sien.

Dis ‘n lieflike boek wat ‘n mens inspireer. Miskien gaan ek tog iewers in hierdie dae ‘n kookkursus aanpak. Vleis kan ek braai en jare gelede beman ek en vriende ‘n gastehuis op Swellendam. Ek braai die fillet en vra vir die gaste of alles wel is. Weke later besoek mense weer die plek en die man vra: “What happened to your excellent chef, the rather large lady?”

Lees en geniet. Dis nadat jy ook gekook het.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)