Friday, March 3, 2017

Lina Spies – Sulamiet (2016)




Lina Spies – Sulamiet. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-47-6

Resensent: Joan Hambidge

Bevry van die kalender se heerskappy

Onvervulling en die soeke na ‘n oplossing vir hierdie pynlike toestand, kan gesien word as die onderbou van hierdie bundel. Daar is min digters wat hierdie eksistensiële dilemma so raak verwoord as Lina Spies. Ons vind die bekende temas hier: liefde, verganklikheid, die dood (met aangrypende lykdigte, o.a. oor Heinrich Grebe), geloofsake, vriendskappe, die natuur, musiek, en ook: die immer durende gesprek met die digkuns en ander digters. “Die huis van moontlikhede”, soos Emily Dickinson dit dan verwoord. Eybers op haar beurt praat van “woorde - goedkoop grabbelsak / of diamantbedryf”.

In vertalings wys Lina Spies op die eensgesindheid tussen Eybers en Dickinson. Sy het hieroor ‘n studie geskryf: Die enkel taak - Die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Queillerie, Kaapstad. 1995.

By Spies is daar ‘n losser versbou (as by bogenoemde twee digters) en ons vind hier ‘n meer narratiewe aanslag. Daar is egter in die gedigte (dikwels onverhuld) ook ‘n spanning tussen beeld en toepassing. In die verruklike “Himne aan die herfs” (28) bewys sy hoe sy hiermee werk.

Sy is ‘n besondere natuurdigter - soos Ina Rousseau en Johann de Lange - wat die unieke aard van elke seisoen kan opvang. Deur Spies se oë sien jy die Stellenbosse berge wat verkleur.

Haar kennis van die musiek is duidelik sigbaar in verse vir (en oor) sangers soos Cecilia Bartoli, gekritiseer oor haar vertolkings, wat op ‘n omweg ‘n soort ars poëtika word:

elke voël sing immers soos hy gebek is
tot eer van die Ewige Vader

(“Hemelpoort”, 72).

Politieke onreg word aangespreek in verskeie verse, o.a. oor Nelson Mandela, en in “Dekrete van deernis” (85) praat sy met Adam Small. Ook die sanger Randall Wicomb (“Die man met die kitaar”, 86) word vereer met ‘n lykdig oor die pyn wat hy moes deurmaak weens die raspolitiek van die land. Sy kyk na ‘n skildery, Inferno van Judith Mason oor verkragting van ‘n jong dogtertjie en lewer kommentaar hierop in “Die weerloses” (64).

Breytenbach vereer sy tereg as ‘n groot digter en taalstryder in “Uitnodiging tot die dans” (82). Die oerkrag van sy gedigte bly vloei vanuit die buiteland; ten spyte van hoe Afrikaans tans (veral aan universiteite) verminder en uitrangeer word. Die politieke uitsprake van die digter is hier duidelik ‘n interteks.

Oor geloofsake lewer sy belangrike kommentaar. Die digter se siening van die NG Kerk en geloofsake waarin Christus “vereng” word, is algemeen bekend. Hier is “Verlies” (61) ‘n kernvers met die besef dat ons Jesus by die kruispad kwyt geraak het. “God is in my woordeloosheid”, bely sy in “Transendent” (76).

“Herrysenis” (69) tree in gesprek met Olga Kirsch se besinning oor die land van verbond. Spies transporteer die Riviere van Babilon na moderne kunstenaars soos Isaac Stern, Yehudi Menuhin en Itzhak Perlman (die Israeli-Amerikaner). Die volk wat altyd op vertrek staan, het viole met hulle saamgedra. In die slot wanneer sy Zuckerman se vertolking hoor van Max Bruch se vioolkonsert in die Endlersaal, 23 Augustus 2014, bewys sy hierdie siening van die wandelende Jood.

Dit is dan Spies se handtekening: om uit die historiese gegewe iets persoonliks te maak.

Vir my is die korter, meer gedronge verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ‘n onderwerp of persoon, loop dikwels hier die gevaar om te wydlopig of woordryk te raak - soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ‘n kwessie van smaak.

Harold Bloom, die bekende Jiddisj-Amerikaanse teoretikus verwys na “the anxiety of influence” en hoe skrywers met mekaar in gesprek tree.

Spies is ‘n polemiese persoon én digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die lot van die enkelvrou - “huidhonger” of body loneliness word eerlik beskryf.

Celan se “Todesfuge” word goed vertaal.

Bloom wys ook hoe die groot digter “swerve” en iets nuuts bybring tot die kanon.

Hier het ons verse wat die invloed van Eybers en Dickinson registreer, soos Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1975). Haar unieke aanbod is die praatvers, die intiem-persoonlike aanslag. En tematies verryk sy die Afrikaanse digkuns met haar verse oor Joodse vervolging en die holokaust (Shoah). Ook die “herwonne paradys” (in gesprek met Ina Rousseau) en die siening van Jesus as die Joodse rabbi is belangrike temas.

Die titel is uit Hooglied 6: 11 en 13 wat erotiese liefde aktiveer:
Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom … Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien.
In “Belydenis van ‘n Sulamiet” (41) waar sy standunt inneem téén die Puriteinse siening oor die liefde, net soos sy die kerk kritiseer vir hul beperkinge wanneer hulle Christus toe-eien en sekere mense uitsluit.

Dit is ‘n bundel met ‘n ryke tematiek waarin ‘n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir ‘n verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel, uitgegee deur Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)