Tuesday, January 3, 2017

Paul Thomas Anderson, in drie sleutels

I

Hard Eight is hierdie briljante filmmaker se eerste film en is in 1996 vrygestel. Dit word beskryf as neo-noir met Philip Baker Hall, John C. Reilly, Gwyneth Paltrow en Samuel L. Jackson, en kamee-optredes van  Robert Ridgely, Philip Seymour Hoffman en Melora Walters. Dit is gebaseer op 'n kortfilm: Cigarettes & Coffee (1993).

Hall, Reilly, Ridgely, Hoffman en Walters verskyn ook in latere films van Paul Thomas Anderson.

Die filmstruktuur is 'n sirkelgang. Die begrafnismusiek waarmee die film begin, lui die sentrale tematiek van die dood in.

Dit begin en eindig by 'n diner (Jack's Coffee Shop). 'n Jong man, John (John C. Reilly) sit voor die diner. Hy vertel aan ’n ouer man Sydney dat hy nie geld het om sy moeder te begrawe nie. Sydney (Philip Baker Hall)  neem hom na Las Vegas en wys hom hoe om geld te maak. Die dobbelverhaal is aanvanklik suksesvol.

Dan spring die verhaal na twee jaar later. Die plek: Reno.

John raak bevriend met Jimmy ('n grensoorskrydende sekureiteitsman) en Clementine (Paltrow), 'n kelnerin en prostituut; aanvanklik is net Sydney bewus hiervan.

'n Tweede reddingspoging vind plaas wanneer Sydney haar en John in die slaapkamer langs syne plaas sodat hulle betrokke kan raak by mekaar.

Gwyneth Paltrow, as Clementine

Een nag ontvang Sydney 'n oproep van John en Clementine. 'n Sekstransaksie het skeefgeloop en hul hou 'n ernstig-beseerde man gevange wat nie $300 vir seks wil betaal nie. Hulle het ook die man se vrou gebel en is onseker of sy die polisie gebel het. Hulle vertel Sydney dat hulle ook intussen getroud geraak het. Sydney raai hulle aan om na die Niagara valle te gaan vir hul wittebrood.

Na hul vertrek, verwyder Sydney enige bewysstukke.  Dit was Jimmy se rewolwer en hy vertel dat die man die volgende dag by die casino opgedaag het en nie die polisie gebel het nie.

Jimmy (Samuel L. Jackson) en John (John C. Reilly)

Jimmy (Samuel L. Jackson) konfronteer Sydney en dreig hom in die onverwagse slotwending. Die kyker het eerder verwag dat die polisie sou opdaag oor die sekstransaksie in die motel.

Indien Sydney hom nie $10 000 gee nie, sal hy John vertel dat Sydney sy vader doodgemaak het. Sydney gee hom $6 000. Hy gaan later na Jimmy se huis en vermoor hom. Die film eindig weer in die diner en ons sien hoe Sydney die bloed op sy hempsmou bedek.

II
Daar is briljante dialoog. “You know, the first thing they should have taught you at hooker school is to get the money upfront”, sê Sydney aan Clementine, 'n ironiese naam.

Die titel van die film slaan op geluk. “When good luck is a good shot, you have to hedge your bets.” Dit is die film se blakerteks met twee dobbelsteentjies van vier elk, die moeilikste kombinasie om te kry. (Urban Dictionary/Hard Eight. Besoek 1 Januarie 2017)

Waarom help Sydney vir John? Waarom is hy die mentor? Uit 'n skuldgevoel? Die kyker moet self hierdie vrae beantwoord.

Ons is soos Sydney wat na die video kyk van hul troue, en gelaat word met baie vrae ...

III

In sy kultusfilm Inherent Vice (2014), gebaseer op 'n Thomas Pynchon-roman, maak Pynchon ook 'n buiging in die film.  Dit gee nogals 'n speurtog af tussen al die lelike mans om Pynchon te eien in hierdie aweregse send-up van polisiefilms wat beskryf word as 'n crime-comedy.

Daar is waansinnige ekspedisies en ondersoeke met “Doc” Sportello waarin waarneming deur dwelms vertroebel word. Joaquin Phoenix, Josh Brolin en Katherine Waterston lewer uitstekende spel, soos Owen Williams. Om die ingewikkelde roman van 384 bladsye te verfilm, is lofwaardig. Sortilège in die roman, word die voice over in die film.

Die LAPD en FBI word gesatiriseer in hierdie over the top-film. Hierteenoor is Hard Eight sober, gedistansieerd.

In sy epiese There Will be Blood, 2007 (met Daniel Day-Lewis en Paul Dano) is 'n mens deurgaans bewus van die stadige skote van die kamera. Die spanning tussen godsdiens en geldsug word briljant vertel.

Dit begin in Nieu-Mexiko in 1898 en die stadige filmskote wat die harde, ongerepte natuur vasvang is uitstekend. In dramatiese tonele - soos ontploffings - bly die kyker bewus dat hierdie filmmaker in beheer is van die epiese gang.

Teenoor Eli, die religieuse fanatikus wat glo die ongelukke gebeur, omdat die olie-soektog nie geseën is nie, staan Daniel, die harde, ongenaakbare avonturier.

Daniel Plainview (Daniel Day-Lewis) en Eli Sunday (Paul Dano)

Daniel se soeke na olie en die ontdekking daarvan, kleur sy waarneming. Hy neem selfs 'n kind aan om as 'n gesinsman bekend te staan. Tydens 'n ongeluk, word sy seun doof en in 'n ontstellende toneel, stuur hy die kind na 'n skool vir dowes. Hy lieg en bedrieg om iewers te kom en wanneer ene Henry opdaag en hom voordoen as broer, word die film se boodskap duidelik.

Eli Sunday (Paul Dano)

Die lekeprediker wat voorgee hy kan genees en die “broer” wat die werklike broer se dagboek gesteel het, is die dryfkrag van die film. Hy vermoor die “broer”. In 'n ander wrede toneel dryf hy die spot met sy dowe seun en vertel hom dat hy nie sy kind is nie - waarop W.H. bely dat hy bly is hy is nie sy pa nie. In die dramatiese slot is daar 'n konfrontasie tussen hom en Eli, die lekeprediker.  Hy vermoor hom - en die oop einde suggereer dat Daniel Plainview “finished” is, soos hy sê.

Paul Thomas Anderson

Drie uiteenlopende films in verskillende sleutels vertel. Dit wil gedoen wees.

© Joan Hambidge