Friday, January 13, 2017

Die stilte van die skrywers

Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litnet en Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge