Monday, December 11, 2017

Rubriek | Joan Hambidge - Is die Kanon in sy kanon?


Die meester-diskoers oor wat ’n “goeie” gedig is, word hier en elders te lande gedekonstrueer en herbesoek. Vier nuwe digbundels by Naledi.


I

In sy gesaghebbende studie oor kanonisering, The Western Canon: The Books and School of the Ages (1994), skryf Harold Bloom ons leef in die tyd van onsekerheid en kan nie nou al bepaal watter stemme binne die Engelse letterkunde oor ’n dekade die toon sal aangee nie.

Dieselfde geld die Afrikaanse digkuns, waar soveel uiteenlopende digters tans publiseer. Lina Spies het onlangs verminderend hierna verwys as “op die lopende band”, maar die paradigma van die Groot Kanoniseerder (soos D.J. Opperman of André P. Brink) word deur hierdie menigte aanslae ondermyn of ondergrawe – van Kaaps tot korrekte Afrikaans; van die gedig as fotostaat tot praatvers; van postmoderne verse tot estetiese verse; van die gedig-as-knapsekêrel tot loodsware erns . . .

Bo en behalwe NB-uitgewers het Protea Boekhuis en veral Naledi die afgelope tyd sterk bundels gelewer, soos Knapsekêrels van Pieter Fourie, Sulamiet van Spies en ’n nuwe Daniel Hugo-bundel, wat in 2018 verskyn.

Die “kleiner” uitgewer buite die tradisionele hoofstroom het inderdaad ’n plek en bestaansreg. Dink maar aan Wilma Stockenström wat indertyd by De Reijger-uitgewers (van Wilhelm Grütter) verskyn het totdat Opperman haar raakgesien het.

Wat volg, is ’n bespreking van tendense soos dit na vore kom in vier bundels wat die afgelope maande by Naledi verskyn het. (Lees in hierdie verband ook Hein Viljoen se insigryke bespreking in Stilet 22(2) van September 2010. Dit verskyn ook op Versindaba (www.versindaba.co.za) – tik “Groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie” by die soekbalkie in.)

Hier sowel as in die buiteland word die meester-diskoers van wat ’n “goeie” gedig is, gedekonstrueer en herbesoek. Vir elke sytak – postkoloniale diskoers, gay-diskoers, eko-gedigte, politieke verse, of wat ook al – is daar inderdaad ’n ander manier van lees.


II

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. Prys: R175

René Bohnen debuteer in 2000 met Spoorsny en volg dit op met In die niks al om (2011). In haar jongste bundel, wat handel oor die natuur en wetmatighede, spreek die digter sowel die plasma om die son en sterre aan as die votum en meditasie. Ook opvallend is die verwysing na digterlike vorms en tegnieke (onder meer koeplette, rondeel, kwatryne, sonnet, metafore, groen gedig . . .) wat ’n tematiese lyn vorm én ’n bemoeienis met die digkuns illustreer.

Verder is die digter voyeur, sy skryf oor reiservarings en die dood, en lewer sterk ekokritiek. Daar is ook verse oor die kunsteorie en fotokuns, en vir die digter is kuns ’n manier van gedigte nader roep.

Dit is ’n bundel van terugkyk en terugflitsverse wat nie-chronologies, bykans in sirkelgang, gelees moet word. Amanda Lourens som dit klinkend op in haar resensie op Versindaba: Sy wys daarop dat ons in hierdie dae van soveel debatte oor wat “goed” of “sleg” is, eerder na die hartklop van elke bundel moet luister.

Hier gaan dit om die “eilandjies van stilte” en, meen hierdie leser, ook om ’n spirituele ervaring van die lewe wat die digter wil deel:

want in die vakmanskap se sirkelgang
teken gedigte net
die grade van vryheid aan (bl. 36)


III

Vuurvas deur Carel Anthonissen. Prys: R190

Carel Anthonissen se debuutbundel, Vuurvas, met ’n mooi voorblad van ’n vuurlelie wat groei te midde van (of as gevolg van) brande, bevat religieuse sowel as aardse verse. Op die agterflap beskou Marlene van Niekerk dit tereg as ’n meditasie en ’n belydenis. Ook loutering . . . inderdaad word niks gelouter of gesuiwer sonder pyn nie, wat Van Wyk Louw se “Vroegherfs” oproep.

Vir hierdie leser is die mooiste verse die eenvoudige oomblikke wanneer meditasie, belydenis en loutering saam plaasvind, soos in die gedig “Wete” (bl. 80):

vanoggend met die dag se
aankoms in die stad –
die stad met sy gedrang
wéét ek opeens hoe diep
Jy reeds in my sisteem
geskag is
ook deur my bloedstroom 
vloei

Daar is ’n hand vol verse in Vuurvas wat beslis nie verminderende resensies verdien nie: “Bergklimmer” (bl. 29) met die gespook van alleenwees, die gesprekke met die vader en die afskeid aan die moeder asook die aangrypende “Wintersaandgebed” (bl. 73) sal in die onthouboek van die digkuns – of sekerlik myne! – opgeteken bly.

An Appetite for Poetry (1989) deur die Britse literêre kritikus Frank Kermode, wat al deur Nina Auerbach die “psalmis van literatuurteorie” genoem is, sal belangrike sleutels vir hierdie bundel verskaf.


IV

Die Goddelike komedie deur Dante Alighieri, vertaal en verwerk deur Cas Vos. Prys: R175

Cas Vos se vertaling van Dante se Die Goddelike komedie is uiters ambisieus. In Afrikaans vind ons Dante terug in motto’s of intertekste, onder andere by Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Blum, Cloete en Pirow Bekker.

Verskillende vertalings van hierdie magistrale gedig word aangestip waarvan Robert Pinsky se Inferno (1994) vir my ’n hoogtepunt bly. Net soos in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte raak die vertaler te geselserig in sy inleiding, soos op bl. 41: “Soms, net soms, kan daar dalk ’n vars briesie trek.”

Die digter situeer die gedig histories en wys op die geskiedenis van Florence en presies dít waarteen Dante gepolemiseer het. Insigryk word die leser herinner aan die struktuur van die canto’s en die canticas: “Inferno”, “Purgatoria” en “Paradiso”. Die ingewikkelde terza rima is by Vos aangepas. Sy tersines is in ’n aba-cdc-efe-rympatroon vertaal.

In die middel van ons lewensreis
het ek my in ’n donker woud bevind –
ek het die regte pad van die hand gewys.
Ag, hoe moeilik om woorde te vind;
alles so wild en woes, so donker en dig
as vrees my met elke gedagte verblind!

Die bundel bevat aantekeninge vir die speurende leser wat verdere navorsing wil doen. Soos die digter skryf: “soveel sinne, soveel gode”, en die leser kan dit vergelyk met ander vertalings binne die letterkunde. In Afrikaans was daar Delamaine du Toit, wat sy boeke self moes uitgee, maar later deur die Akademie bekroon is, en as jong student het ek die Italiaans vergelyk met Dorothy L. Sayers se vertalings.

Ten slotte is daar drie gedigte van Vos opgeneem: “Die stryd van Aleppo”, “As die gode afdwaal” en “Jesus en Dietrich Bonhoeffer” waar die noot hoog ingesit word.

Hier vind ons reëls soos:

Vlieë vroetel behaaglik met hul voetjies
aan sy wonde en slurp sy bloed (bl. 118)

Die vertaling is dus sterker as die oorspronklike gedigte.


V

Oop sirkel deur De Waal Venter. Prys: R175

De Waal Venter is ook bekend as vertaler en kortverhaal- en jeugboekskrywer, en sy nuutste digbundel, Oop sirkel, volg op Kiem (1963), Klawer (1966, saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert), Pols (1975) en die Engelse bundel Entangling States of Mind (2010). Volgens publisiteitsmateriaal moet die titel van die nuwe bundel só gelees word: “’n Sirkel het geen punt wat as ‘voor’ of ‘agter’ beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt.”

Afdeling I en III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom filosofie en wetenskap aan bod, die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie, en die sewende handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ’n wesenlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die “weinig beelding” en swak liefdesverse.

Van die geslag waartoe Venter behoort het ten tyde van sy debuut, het Breyten Breytenbach die sterkste na vore getree, terwyl Wilma Stockenström op haar beurt ’n besonderse stempel afgedruk het. Venter se verse sluit aan by die losser gestruktureerde verse uit die 1960’s en ’70’s wat assosiatief werk en wentel om opsetlik disparate én teenstrydige beelde. En so moet dit ook benader word.

In Oop sirkel is opwindende idees, veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig, te bespeur, maar daar is selde vuurwerk. Dikwels is dit net verkapte prosa omdat die digter ’n slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (bl. 73) en “Onbekende digter” (bl. 109), wat só klink:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu. . .

Op bl. 108 meen die digter “poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!” en probeer peil wát die ware gedig bepaal, maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm bly dit dikwels net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ’n organisme” (bl. 103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind ook talle selfbewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ’n voortdurende soeke na die “ware gedig”. Hier is Kermode nogmaals tersaaklik: In die genoemde teks tree hy in gesprek met Culler dat literatuurkritiek voortdurend aannames moet ondersoek oor wat goed/sleg in die digkuns behels.


VI

Persoonlik verkies hierdie leser die gedig met min woorde. Die tyd van onsekerheid, van onrus in Bloom se terme, maar die kleiner uitgewer bring die wins van vergelyking.

© Joan Hambidge


(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Saturday, December 9, 2017

Gedig | Joan Hambidge - Elisabeth Eybers: Pegasus (2017)



Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,
boetseer die ritme van jou vaart ...
Elisabeth Eybers: 'Amasone'

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer;
dit wis jy met afstand en ironie as selfbevestiging.
In die verte tot woordimmigrant gepromoveer,
ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding.
Uitermate, uitgedien is elke digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?


© Joan Hambidge