Friday, December 16, 2016

Joan Hambidge - Tilda Swinton & A Bigger Splash (2015)

I
Die uitmuntende aktrise Tilda Swinton vertolk in A Bigger Splash die rol van ‘n rocker.

Toevallig lyk Swinton ook soos David Bowie, die rocklegende, en skynbaar was hulle in die werklike lewe goed bevriend.

Die film A Bigger Splash is ‘n fassinerende analise van hoe bedrewe hierdie aktrise is as vertolker. In hierdie film is sy stemloos, vir die meeste van die tyd; die karakter het ‘n operasie ondergaan. Dit is wel so dat Swinton glo in daardie stadium nie wou praat in die film nie, weens persoonlike redes.

Die titel verwys natuurlik na David Hockney se beroemde skildery: A Bigger Splash. Dit is geskilder in 1967, in LA, toe Hockney kuns doseer het aan Berkley. Die skildery is glo ook ‘n representasie van die einde van ‘n verhouding. (A Bigger Splash - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Die titel van die film is dus ‘n belangrike kode: ‘n opbreek, ‘n einde. Vier karakters: twee vroue, twee mans se interaksie met mekaar op ‘n eiland, word ondersoek. Die twee geliefdes se respyt op die eiland word onderbreek deur die aankoms van die eks en sy dogter. (Die eks was betrokke by die sangeres se loopbaan en is ‘n musiekvervaardiger. Ons sien ook terugflitse.)  Die verhouding tussen vader en dogter is broeiend – die kyker kan inderdaad ‘n insestueuse verhouding tussen vader en dogter aanvoel. Boonop is daar migrante – wat ‘n sterk politieke boodskap oordra.

Die twee ekse raak weer betrokke. Onderneem uitstappies, het seks. Die huidige lover en die jong dogter (dit blyk later sy is 17 jaar oud) onderneem ‘n gevaarlike ekspedisie en het waarskynlik seks met mekaar.

Ralph Fiennes en Matthias Schoenaerts

Met die terugkeer is daar ‘n konfrontasie. Die twee mans raak in ‘n geveg betrokke. Die eks word oorrompel deur die huidige lover in die swembad. Agterna lyk dit na verdrinking.
Hy word sitgemaak in die swembad met ‘n vinielplaat voor hom.

Die kyker verwag dat die migrante die wending in die verhaal sou bring, maar dit is uiteindelik die jaloesie tussen die twee mans wat die oorhand kry.

Daar is ‘n polisieondersoek. En die polisiekaptein jaag hulle in, vra vir die rockster se handtekening – en so weet die siniese kyker word die verdere ondersoek opgehef. ‘n Siniese kommentaar dat roem tog deure oopmaak?

Of is dit dalk die gebrek aan bewysstukke en Tilda Swinton (Marianne) se stomme medepligtigheid wat alles laat eindig? (A Bigger Splash (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

II

Hierdie film van die Italiaanse regisseur Luca Guadagnino werk met subtekste.

Hy het al verskeie kere met Swinton gewerk in  The Protagonists (1999), I Am Love (2010), A Bigger Splash (2015) en in Suspiria (2017).

Hierna het ek ook I am love gekyk en ‘n mens word bewus van hoe hy telkens Swinton plaas in rolle waar sy getransformeer word fisies en psigies. Ook vertolk sy die rol van iemand wat in ‘n emosionele oorgang is. Sy raak verlief op haar seun se vriend, die sjef en die dood van haar seun bring 'n wending in die ryk familie se lewe. Hoe sy ten slotte fisies lyk, is emosioneel skokkend.

In A Bigger Splash is haar mede-spelers Ralph Fiennes (as die eks, Harry) – en hiermee bring hy ook ‘n veelheid van sý rolle na hierdie teks. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die naaktonele in The English Patient met Kristin Scott Thomas. Hierdie film van Anthony Minghella (van 1996) is gebaseer op Ondaatje se roman. Nes A Bigger Splash gebaseer is op die film La Piscine.

Matthias Schoenaerts

Matthias Schoenaerts (in die film 'n dokumentêre filmmaker, Paul) en Dakota Johnson (Penelope) maak weer ander assosiasies wakker.

La Piscine is ‘n interteks. Hierdie film van Jacques Deray (1969) het Alain Delon, Romy Schneider, Maurice Ronet en Jane Birkin in die hoofrolle. (La Piscine (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Dat dit afspeel op ‘n eksotiese en afgeleë eiland (Pantelleria) is eweneens belangrik.

III

Luca Guadagnino is ‘n heerlike ontdekking vir my as filmkyker.

Hy is gebore in Palermo, sy vader was Siciliaans en sy moeder Algeryns. Hy het groot geword in Ethiopië en begryp dus die lot van tussen-mense soos migrante.

© Joan Hambidge