Monday, October 3, 2016

Marié Heese - Maestro (2016)


Marié Heese - MaestroHuman & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7391 9

Resensent: Joan Hambidge

Marié Heese beklee binne die Suid-Afrikaanse letterkunde ‘n besondere posisie. As skrywer van Die uurwerk kantel (1976) tot historiese romans soos The Double Crown (2009), The Colour of Power (2011) en A Triple-headed Serpent (2012) waarmee sy buite die landsgrense beweeg en ‘n groter leesgehoor verower het. Met haar roman Vuurklip (2014) het sy die argeologiese roman aangepak, eweneens met sukses.

Heese is ook essayis, digter en jeug/kinderboekskrywer. Daar is ook ‘n reisverhaal met resepte: Die honger reisiger (2010).

Haar jongste roman Maestro – besonder mooi uitgegee – handel oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, die beroemde Italiaanse beeldhouer en argitek. Die roman se sub-titel aktiveer dan die Bildungsroman waarin die hoofkarakter se vormingsjare en dikwels moeilike lewe uitgebeeld word. Die leser ervaar dan die oorwinning, dikwels op spirituele of op ‘n kunstenaarsvlak. Miskien sal ander lesers dit as 'n Entwicklungsroman benader.

In ‘n nawoord (En toe?) vra die werklike outeur die vrae wat die leser vra by die lees van die historiografiese roman. Hier wys Heese met welke drif sy die geskiedenis besoek het, maar ook haar verbeelding gebruik het by die skryf van hierdie roman. Die roman bevat ‘n handige bibliografie vir die speurende leser.

Daar is vooraf ‘n dramatis personae – met ‘n asterisk waar die karakter fiktief is – om die leser te help navigeer deur hierdie komplekse, dog aangrypende roman.

Die eg-Italiaanse milieu word geskep deur die binnespraak van die verteller wat ‘n Italiaanse woord gebruik met die onmiddellike Afrikaanse vertaling ingebed in die teks – soos bozzetto (kleimodelletjie), ensomeer. Of as die leser kan aflei wat die woord beteken (fabricca), word dit net so weergegee.

Die verskillende hofies werk opsommend en is bekend aan die Bildungsroman. Daar is ‘n inhoudsopgawe wat die gang van sy lewensverhaal rig: Deel I: Onthoofde engeltjie; Deel II : ‘n Lewenslange stryd; Deel III: Die mens is soos gras; Deel IV: Meester van die wêreld.  Die Dramatis personae en En toe?-gedeelte wys op ‘n ouktoriale verteller wat in beheer is van die gegewe. Boonop is daar afdrukke van kunswerke.

Die sterk filmiese kwaliteit van die roman is opvallend. Die leser sien en ruik die omkopery, die diefstal – jy sien die kaaswiele, trosse fisante, duifeiers, en wat nog (102).

In hierdie dae van kitskos-romans, is die werk van Marié Heese en Dan Sleigh belangrike gebeurtenisse.  As jy belangstel in die sewentiende-eeuse geskiedenis behoort jy onverwyld hierdie roman te lees.

Die leser kan op enige plek die roman oopmaak en dit lees soos wat Roland Barthes aangetoon het in S/Z (1970/1974) wanneer hy vyf kodes gebruik om 'n Balzac-verhaal oop te maak. Al die kodes wat hy gebruik, is hier van toepassing: die spel tussen die referensiële kodes en die stem van die karakter. Ons vind in hierdie teks ernstige besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd uitgevoer is); Petrarca, die liefdesdigter gebore 1304, is hier neffens godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; die impak van Michelangelo ...

Innocentius X wat geswig het en Bernini ook opdragte gegee het; spanninge tussen kunstenaars, nydigheid, ensomeer. Kyk wat word oor die Dawid-beeld gesê en die fout in die komposisie.

Ook die kunstenaar as kulkunstenaar word behandel. Die impak van jeugtraumas wat hom in alle waarskynlikheid geïnspireer het om 'n kunstenaar te word, beskryf sy dwingend. Die mens wat tydelik is en tussen tertia en nona kan verdwyn, is 'n draad in die vertelling (68); nes die innerlike demone wat die kunstenaar voortdryf (463).

En die begryp van die choleriese persoonlikheid of aard (463).

Barthes se Sarrasine-lesing was van besondere nut om hierdie teks oop te maak: die oortreding van taboes (simboliese kode) en die hermeneutiese kodes (waar die 'waarheid' vertel moet word). (Die vyf kodes is: hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die Semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap).

Die kunstenaar se enorme ontwikkeling van die Barokstyl (saam met tydgenote soos die argitek Borromini en die skilder en argitek Pietro da Cortona). Maar die tyd het ook verander met die opkoms van die Neo-Klassisme. Veral die kunsgeskiedkundige Howard Hibbard  onder andere  het geweldig baie gedoen om sy bydrae opnuut onder die loep te neem. 

Hierdie roman neem die leser na soveel aspekte van kunsdebatte dat dit uiters frustrerend was om hierdie boek te resenseer, omdat 'n mens nog veel sou wou benadruk! Die veranderde rol van pouse, soms erkenning, ander kere afwysend. Die studies van James Fenton, Giovanni Caresi, Sarah McPhee, e.a. het die roman gerig.

Die toneel van 'n kind wat doodgery word deur 'n koets en die hartelose hantering hiervan is iets wat hierdie leser altyd sal bybly. Met 'n wasvrou wat die scudi ontvang  al was dit nie haar kind nie  en hartelose mans se hantering hiervan, en die jonge Bernini wat dit aanskou het en daardeur ontsteld was.

'n Mens sou meer wou skryf oor Galilei wat ook hier betrek word. 'n Egte Renaissance mens wat kon skilder, die luit bespeel het en boonop gestraf is vir sy wetenskaplike sieninge. Die pous was uiters magtig toe. Kettery en godslastering word ook hier ondersoek.

Maestro is ‘n hoogtepunt in Marié Heese se oeuvre. Sy versoen haar historiese belangstelling met ‘n besondere kreatiewe drif.  En sy lewer kommentaar op al die fasette van 'n samelewing met die skrywer wat 'n ander kunstenaar vereer.

Soos iewers geskryf word: beslis 'n okkasie vir 'n staande ovasie!

Marié Heese

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)