Wednesday, August 10, 2016

Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge

Joan Hambidge

’n Produksie wat aan die lewe en werk van die Afrikaanse digter Joan Hambidge gewy word, gaan op die Tuin van Digters op Wellington en die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom te sien wees.

Babette Viljoen en Olga Leonard (BO-produksies), wat bekend is om hul verhoogverwerkings en toonsettings van Afrikaanse digters soos T. T. Cloete, Elisabeth Eybers en Totius, behartig ook hierdie produksie.

Leonard sê hulle het vir Hambidge ontmoet op die Vrystaat-kunstefees verlede jaar met die opvoering van hul produksie Eeu van Eybers.

“Ons het in ’n koue sweet uitgeslaan toe ons haar in die gehoor sien, maar sy het ons produksie gekomplimenteer en selfs ’n CD gekoop. Daarna het ons weer gesels toe ons ’n gesamentlike huldeblyk aan T. T. Cloete gedoen het op die Tuin van Digters op Wellington in September 2015.

“Hy sou self opgetree het by die ­geleentheid, maar ná sy dood in Julie 2015 het ons met toonsettings en ­voor­lesings deur Hambidge aan hom hulde gebring.”

Leonard sê hulle het dit goedgedink om Hambidge se 60ste verjaardag te vier met ’n produksie. “Tydens ’n koffie-afspraak het ons gesels oor die woord ‘60’ en gespeel met ‘six-love’, soos in tennis en sy het baie ­gehou van die idee om dit ‘sixty-love’ te noem. Die titel Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge verwys na ’n oorwinning en terugblik oor ’n lewe en reis deur 60 jaar.”

Om ’n beeld van meer as 20 bundels weer te gee het bepaalde uit­dagings aan hulle gestel, het Viljoen gesê. “Sy het al meer as 600 gedigte gepubliseer. Joan het sekere gedigte uitgelig, en die reis-tema staan baie sterk in haar werk. Ons het besluit om hierop te fokus, en sodoende ’n ­tipe reis deur haar lewe te onderneem, aan die hand van reisgedigte, asook liefdesgedigte, gedigte oor ­familieskap, ouers, eensaamheid en die dood.

“Daar is uittreksels uit haar blog wat deurlopend deur die produksie gevleg word en die reis-tema met ­ander werke bind.”

“Die teks is in oorleg met haar ­geskryf,” het Leonard gesê.

Viljoen en Leonard hanteer die konseptualisering en produksie­bestuur en doen die toonsettings.

Lize Beekman is die musiekregisseur, Pierre Andre Viviers die regisseur en verhoogontwerper en Alanka Craffert gaan die voorlesing en vertellings doen. Viljoen, Leonard en Craffert gaan die verhoog deel.

- Willem de Vries


*Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge sal op 18 September op die Tuin van Digters op Wellington op die verhoog wees en van 4 tot 7 Oktober op Aardklopkunstefees op Potchefstroom.

(Hierdie artikel word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)