Sunday, August 28, 2016

Isobel Dixon – Bearings (2016)


Isobel Dixon – Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978 1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge

Met Weather Eye, A Fold in the Map en The Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar vierde solo-bundel Bearings is eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na Suid-Afrika.

Alles in die bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet; lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog, die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My Best Fiend.

Die bundel sny vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters" (34) en  "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...

"Nouns" (54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!

Gedigte het sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18) speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.

In hierdie ryk geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n leeskode is die trompe l'oeil om die "wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).

Die reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza ...

Die bundel bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig “Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psycho saam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.

In 2013 het sy saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat deur  Schubert se Der Doppelgänger geïnspireer is en aan Dark Matters vir De Materia Nigra et Obscura. In 2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.

J. M. Coetzee en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer; andersyds as sosiale en politieke kommentaar.

'n Digbundel wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.

'n Mens ontdek met elke herlees 'n ander dimensie!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)