Wednesday, August 17, 2016

Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier (2016)



Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier. Tafelberg, 2016. ISBN 978 0 624 07574 5

Resensent: Joan Hambidge


Enkele kanttekeninge

I

Elke jaar doseer ek ‘n kursus oor die representasie van die ABO in die gedigte van ons ouer digters: Marais, Totius en Leipoldt. Marais se ambivalensie oor die oorlog, versus Totius se intense betrokkenheid (“Vergewe en vergeet”) teenoor die ironiese distansie van Leipoldt wat vanuit die buiteland na die oorlog kyk. Hieroor skryf H. J. Snyman insigryk in Merwe Scholtz se huldigingsbundel vir hierdie digter: Leipoldt 100 wat in 1980 by Tafelberg verskyn het. Snyman se essay heet: “Leipoldt se deuntjie: ironie of nostalgie?”

Die ironiese sintese, soos hierdie teoretikus dit noem, betrek Leipoldt se kragtige “’n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”. As mediese student was hy veral in die lyding van jong kinders geïnteresseerd en die stryd van die Transvaalse en Vrystaatse republieke was uiteraard buite sy ervaringsgebied. ( “In die konsentrasiekamp” maak hy terloops ‘n toespeling, myns insiens, op Totius se “Vergewe en vergeet”.)

Snyman wys op die disjunksie tussen betekenis en bedoeling, die kenmerk van ironie (127). Irony and the Ironic (Methuen, 1970) van D.C. Muecke laat die leser ook verskillende moontlikhede van ironie en toepassings daarvan.

Elsabé Brits @ Liza van Deventer

Sopas verskyn daar ‘n boek oor Emily Hobhouse met nuwe bronne wat Elsabé Brits in ‘n trommel ontdek het in Kanada.

Brits se eerste ontdekking was natuurlik via Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde en danksy die korrespondensie met Jennifer Hobhouse Balme, kon sy nuwe lig werp op hierdie fassinerende geskiedenis. Van Vancouver-eiland terug in die lewe van hierdie uitsonderlike vrou: held of skurk of verraaier?


II
Hierdie leser het ‘n paar jaar gelede twee verse oor Hobhouse geskryf – by die aftrede van Hans du Plessis het dit in ‘n Festschrift verskyn. Hierdie figuur het my nog altyd gefassineer.

Emily Hobhouse in ‘n ongeposte brief aan Tibbie Steyn:

Ek dank jou
vir jou warm brief
uit die Verre Vrystaat

met biltong,
ingelegde vrugte,
flertsies groen kweper,
‘n klein karmenaadjie
my toegesend.

Ek proe my
aangenome land
in ‘n toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en spin
in ‘n verre Phillipolis…

O Tibbie,
hier is ek ‘n rebel,
‘n leuenaar,
‘n vyand van my mense…

Maar ek weet:
eendag sal my gees
weer sweef
oor die wye velde
van my Troue Land.

Hoe graag sou ek nie
by die monument 
wou klaag?
My dank vir die voordrag,
die lees van my brief:
vir die wonde wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra.


Emily Hobhouse, ‘n selfgesprek:

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog ruik?
Mag ek u vertel, meedeel
van die ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende kospakkies? Hoe ‘n vader sonder
steun sy kind se uitvaart moet aanskou?

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog klink?
Hoe ‘n moeder vir dae sonder trane
‘n lyk op haar skoot hou,
‘n woordelose wiegelied?
Op Springfontein word ‘n jong vrou
in ‘n grys sak ter aarde beklink.

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog proe?
Die rens melk, die vleis vrot,
skifsels meel langs vlieë en luise,
luise en vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte soos gapende wonde.

Heer Kitchener, Heer Milner,
vandag het ‘n baba van drie maande gesterf.
En op hierdie dag, die hereweet,
nog twee ander…
Vir die vaders, vegtend tot die bitterend,
‘n swart-en-wit-kiekie
die enigste nalatenskap…

Heer Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit blom
in die hand
van ‘n kind, stóm.

Heer Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor my aan.


III
Emily Hobhouse

Brits se boek lewer belangrike addenda tot die reeds vertelde verhaal. Die uitleg van die boek is vir hierdie leser ongelukkig te “besig”. Ek sou ‘n soberder boek verkies het. Daar is te veel spatsels en vlekke vir my smaak.

Dit is 'n relevante teks vir alle lesers wat belangstel in hierdie figuur, indertyd voortreflik weergegee deur Wilna Snyman in 'n eenvrouvertoning in Dear Mrs Steyn.

“Al ons ellende spruit uit ons onvermoë om alleen te wees” (190) – een van daardie sub-tekste wat die leser by die lees van hierdie boek bybly.

Daar is vir die belangstellende leser – soos die uwe – geweldig baie tersaaklike inligting. Die plattegrond op bladsy 150 gee ‘n konkrete voorstelling van Emily se reis deur die verskroeide aarde ná die Anglo-Boereoorlog, 1903.

Ook haar belangrike brief aan Jannie Smuts ontruk die ellende aan die vergetelheid:

“You think it is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an English person. Your defeat is material, ours is moral” (152).

Die foto van Petronella van Heerden (afgeneem in 1915 in Londen nadat Emily haar in Amesterdam besoek het, 237) is lieflik.

Lizzie van Zyl, uitgeteer en siek met ingewandskoors
Die Britse siening versus die Suid-Afrikaanse siening van die skending van menseregte (uitstekend weergegee in Herman Binge se Verskroeide aarde) is iets wat ‘n mens se lesing bepaal. Hierdie leser het dit nog altyd as ‘n skreiende onreg ervaar en historici wat vandag probeer beweer dat die boerevroue onhigiënies was en daarom in die kampe gesterf het, begryp nie hoé haglik die omstandighede in die kampe was nie. En hoe aansteeklike siektes werk neffens vuil water ensomeer nie.

Die ikoniese foto van Hobhouse – geneem toe sy reeds in haar sestigs was op bladsy 289 – vra om ‘n gedig. Nes die foto van Rachel Isabella (Tibbie) op bladsy 291.


IV

Hobhouse se stryd vir vroueregte en stemreg en haar teenkanting teen onreg, is alombekend. Die plakkaat op bladsy 84 vertel alles: as sy nie die onreg aan die groot klok gehang het nie en ‘n sogenaamde “distress fund” help stig het nie, wat sou gebeur het?

Ongeveer tien jaar gelede het ek deur Verenigde Koninkryk gereis en haar huis besoek in St Ives in Cornwall.

Ons onthou immers haar woorde:
"Truth for ever on the scaffold. Wrong for ever on the throne!"