Monday, July 18, 2016

Reisjoernaal: Wenen | Lost in translation (ICLA Kongres, 2016)



Dag 1

Die jaarlikse ICLA-kongres vind in Wenen plaas. Ek besluit om ’n referaat aan te bied oor die simboliek van blomme in die digkuns van Emily Dickinson. “Lost in translation” noem ek dit én hoe enige vertaling uit ’n ander letterkundige sisteem in gebreke bly om haar “korrek” te vertaal.

Vertaling as verraad. Vertaling as ’n soeke na die “cross over”. Vertaling as appropriasie. Vertaling as sin maak, toe-eien.

Die referaatvoorstel word aanvaar en ’n week voor die kongres oor Komparatisme reis ek via Parys na Wenen. Premier Economic Class op Air France is uitstekend. Goeie diens en heerlike wyn met ’n sjarmante Fransman (uit Marokko) langs my.

Ek lees ’n speurverhaal. Die Franse lugwaardinne is beeldskoon en behulpsaam.

Die reis is uitputtend. Op sowel Charles de Gaulle as die Weense lughawe – beide nuut – moet ’n mens vir lang ente stap. In Parys selfs ’n treintjie om by ’n ander gebou uit te kom.

Dag 2

Na vier-en-twintig uur en vier minute is ek in Wenen. Die reisigers (na orals en nêrens) stamp jou uit die pad. (Is hierdie kulturele kode korrek? Ons sal sien.)

Wissel geld om. Ontdek so by my kool $50 van vorige reis in my rugsak!

Die hotel se taxi kom my afhaal. Hier staan ’n ongeskikte man (op sy sel) en begin stap. Sonder om te groet.

“Hoi. Hanou. Hokaai ounooi se pêre, waar gaan ons heen?”
“Na buite ... dis vier minute se stap.”
“Ek wag hier vir jou. Gaan haal asseblief jou motor.” My rugsak (met blomme op, gedenk ED) is swaar. ’n Ekstra sak met vars klere en boeke knor ook. Na ’n lang reis en stap deur lughawens gaan ek nie nou buite ook verder stap nie.
Ek wag. Hy ry verby. Ek wuif. Hy draai om.
Ek klim in die swart Mercedes. Hy begin skel.
“Ek het nie geweet jy moes hier wag nie ...”
Hy bliksem my tas in die kattebak.


Nou dink ek aan Coco Chanel se beroemde woorde: “Ek gee nie om wat jy van my dink nie; ek dink nie eens aan jou nie.”
Terwyl hy skel en knor en blaf, ignoreer ek hom.
Die selfoon in die motor lui. Hy gil op die vrou aan die ander kant.
Die swye word agter in die motor bewaar. Ek gedra my soos ’n adellike.
“Waar kom u vandaan?”, vra ek, omdat hy bepaald nie Oostenryks lyk nie.

“Van Egipte.” En dit breek die ys toe ek vertel van my reise deur Egipte en hoeveel ek van Luxor hou.

“Ja, maar dis nou gevaarlik.” Ek dink hoe ek en my voormalige geliefde in die suide van Egipte na Israel per bus gereis het – ’n jaar later, op dieselfde roete is buitelanders doodgeskiet.


Ons stop voor die hotel naby die universiteit: Hotel Rathauspark.

Klein en sjarmant.

Die kamer is perfek. Die ekstensies werk.

Ek is moeg. Na ’n dag se reis is my lyf gedaan.

’n Mens vergeet hoe reis alles uit jou haal en hoe erg die poorte van oorgang is: van lughawens na bestemming. Oomblikke van liminaliteit en geen sekerhede om aan vas te hou nie.

Jy is ontset. Van koers af. Jy het eintlik al vergeet watter harde werk reis is. Jou tas gluur jou verwytend aan oor die jongste beproewinge. Jy skil die pastiekomhulsel af. Alles lyk goed in die tas. Net die waspoeier het sneeumerke in jou sak gelaat.

Jy besluit om te gaan dut.

Die slaap op die vliegtuie was rusteloos. Vele kere waarskuwings dat die sitplekgordels vas moet bly.

’n Paar uur later skrik jy wakker. Verfris.

Jy pak jou klere uit.


Plaas boeke op die tafeltjie. Stort. Stap na die ontvangs, drink koffie en bespreek ’n reis vir die Saterdagaand: Wenen-in-die-nag. Jy moet die stad nou betree en die stad verken.

Ek stap om die hoek na die Einstein-kafee. Eet kaas Frankfurters met tjips.

Reis het bepaald nie ’n maklike formule nie, glo my.  E=m2 geld nie nou nie.

Wenen in die aand. ’n Reis per bus om die belangrikste bakens te sien. Ek maak notas. Die bus het net 8 mense wat deelneem aan hierdie reis oor die Donou, die paleise, standbeelde.

Beethoven se huise. As rustelose siel het hy dikwels verhuis. Die Strauss-huise. Hier het Mozart Don Giovanni die eerste keer opgevoer. Daar het Strauss nie gedans nie. Hier het Beethoven tot laatnag getimmer aan Fidelio. Daar kan jy ’n boottrip meemaak oor die Donou.


Orals speels Strauss-walse.

Daar is warempel ’n ambulans vir katte in Wenen. En orals veeartse wat net in katte spesialiseer!

’n Restaurant heet Lumen. Hoe gepas.

Die hoogtepunt van die aand is die Wiener Riesenrad.

Ons sit in ’n aparte karretjie. Voor ons is daar mense wat eet by ’n spesiaal gedekte tafel. Twee lovers sit alleen. Reg voor my ’n ma met twee jong kinders. Ek wuif vir hulle en toe ons stilstaan neem ek ’n foto van hulle en hulle lag. Hulle neem weer ’n foto van my.


Daar was oorspronklik 30 gondolas – soos dit heet – en tydens WOII is die Riesenrad beskadig; nou is daar net 15 waentjies oor.

Ek kyk af op die pretpark. Daar is jillende jongelinge op ’n figuur-8 tuimeltrein (roller coaster). Twee figure draai gillend vasgeklem in ’n masjien wat op en af beweeg. Ek onthou hoe ek en Johann de Lange in ons jeug by die Pretoria-skou op die ratelende big dipper ons adrenalien-vlakke beproef het. Vreesloos dit bestyg het. Wel Johann, nie ek nie.

(WienerRiesenrad - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 17 Julie 2016)


Hierdie ikoniese groot wiel (Wiener Riesenrad) sien ons natuurlik in The third man (1949) en in die James Bond-film The living daylights (1987).

Rondom die vervaardiging van The third man is daar ’n toer ontwerp waar jy selfs in die stad se tonnels kan inbeweeg.

Carol Reed se beroemde film met Orson Welles in die hoofrol, en draaiboek deur Graham Greene, bly bepaald ’n klassiek.

Met die Harry Lime-tema. Anton Karas se lied word ook in ’n restaurant gespeel. Orson Wells het die stank in die ondergrondse tonnels oordadig gevind en ’n waagarties moes namens hom optree.

(ViennaWalking Tour/ In the Footsteps of TheThird Man - Vienna | Viator. Besoek 17 Julie 2016).


Na die bustoer gaan ons na ’n wynlandgoed. ’n Aandjie van wyn. Twee manne op ’n viool en trekklavier speel Weense gunstelinge.

Toeriste van oralsoor klap en sing met die Radetsky-mars.

Net ’n eerste kennismaking met die stad.

Die wyn is jonk, maar goed. ’n Heute wyn.

Dag 3

Dis Sondag. Ek eet 'n brekfis in die hotel. Begin dan afstap (sowat drie blokke) na Freud se museum op die Berggasse. Dis kos tien euro.


Freud se studeerkamer

Die museum is in 1971 gestig deur Anna Freud met die hulp van die stad, Wenen en word beskou as een van die belangrikste intellektuele argiewe.


’n Mens moet wag weens te veel besoekers, maar ’n gawe egpaar laat my toe om eerste deur die bruin deure te stap. Hier het mense vir terapie gekom, totdat Freud na Londen moes vlug toe die Nazi's die stad beset het. Vir ongeveer 200 00 euro's kon hy vlug en sy beroemde sofa saam neem.  Hieroor het ek gedig in my bundel Meditasies:


43 Freud se sofa

Waar id is, sal ego wees.

Op hierdie sofa,
ikonies uitgestal in ’n museum
met totems daarneffens,
het Sigmund Freud die onbewuste
glo ontdek:
om te praat, te droom, grappe te vertel,
deur raaisels veral,
verraai ons glo iets
van ons ware aard.
Om jou tong uit te sny,
jou stil te maak,
iets wat die digter vrees?
Ek lê my neer
op Papa Freud
se beroemde sofa,
virtueel beskikbaar,
die reisende sofa as u wil.
Maar eers die sofa met sy donker kleure,
opgepofte kussings,
tapytbedekking of kelim.
Hier is beswaardes lêgemaak,
aangehoor: ont-vang, ont-knoop,
ont-boesem ten aanhore van die analis,
streng en dogmaties,
soekend na die verdringde redes
wars van religie.
Waak teen identifikasie met die onbewuste
sou sy kroonprins waarsku:
in ’n soele droom
presies in drie afdelings verdeel
waai die wind twee verse weg,
en later soekend
in die liasseerkabinet van my komputer
is die verse ónopspoorbaar.
In onrus vertrek ek;
nog dieper in die droom in
stap ’n vrouedigter en haar gewese man
se nou-reeds-oorlede vrou
saam-saam die trappe af
met my as toeskouer.
Nog verder in die droom
– as ek reg onthou –
verskyn Sheila Cussons,
daardie amper-heilige
met ’n fotokopie
waarop skeef afgedruk staan:
“Freud se sofa”.

Die vers het in 2013 ontstaan.

’n Mens kry ’n gehoorapparaat waarmee jy die verskillende kamers kan besoek. Tans is daar ’n spesiale uitstalling: This is the stronger sex. Women in psychoanalysis.


Korset (ca 1850-1900). Foto, Oliver Ottenschlaeger

Lou-Andreas Salomé, Marie Bonaparte, Helene Deutsch, Anna Freud en Sabina Spielrein met Anna Eckstein word hier vereer ten einde die sogenaamde “talking cure” te begryp. Party van hulle was van Freud se pasiënte; Anna Freud en Deutsch het onder hom opleiding ontvang. En so het psigoanalise begin in 1896, en versprei na ander lande: deur Salomé na Duitsland; met Bonaparte na Frankryk; Helene Deutsch het psigoanalise in die VSA gevestig, terwyl Anna Freud in Engeland dit gevestig het. Spielrein het weer die Russiese vertolker geword.


Anna Freud

Daar is ook ’n klein “tuisfilm”, soos Anna Freud dit noem, waar die gesinslede van Freud uitgebeeld word. Sy liefde vir honde (o.a. twee Sjinese keeshonde en ’n pekinees) sien ons met balletjies speel. Sy liefde vir sy kinders en kleinkinders: o.a. filmmateriaal van Lucian Freud wat later die beroemde skilder sou word, onder andere van windhonde!

(Terwyl verskeie mense die film beskou, is daar ’n lastige kind wat hard praat. Ek gee vir die ouers een van my beroemde humba-blikke en goddank, tot almal se verligting is hulle uit by die deur.)

Ons sien sy suster wat in ’n konsentrasiekamp gesterf het en beelde van sy moeder, sy vrou en Ernst Jones.

Freud het dit gehaat om afgeneem te word. Hy was baie lief vir reis en dikwels kon die gesin in somertye in beroemde spas of in Tirool bly waar hy onder andere Totem and taboo geskryf het.


Die gawe opsigter laat my toe om te skryf in die psigoanalise biblioteek, langs ’n beeld van Freud wat ’n streng blik op my werp. Amper asof hy wil sê: reis bring altyd nuwe insigte na vore. Dis hoekom ek altyd na Egipte en omstreke gereis het.

(Sigmund Freud Museum. Besoek 17 Julie 2016)

Freud het ook straf gerook terwyl hy geskryf het. Toe hy ernstig siek geraak het en nie meer kon rook nie, weens mondkanker, het hy al hoe moeiliker geskryf. Hier in die museum sien ons hoe Anna Eckstein die verminderde rol van vroue aangespreek het. Sy had ’n lelike neus en na ’n operasie, was die neus nog meer ontwrig.

Die besoeker word vertel hoe Freud sy kollega Breuer se idee van katarsis in terapie verder gevoer het met vrye assosiasie.

Anna Freud het haar vader se werk uitgebou. Sy is bekroon met ’n doktorsgraad aan Yale en in 1967 het Elizabeth II haar met die ‘Commander of the Order of the British Empire’ vereer.


Ludwig Wittgenstein

Wenen is ’n oorrompelende stad. Dit bekoor, maar jy is voortdurend bewus dat jy hier in ’n stad van kruispunte beweeg: die Nazi-besetting in die WOII; Beethoven, Mozart, Freud, Wittgenstein, Klimt.

Bad Timing van Nicolas Roeg met Art Garfunkel as die psigoanalis en Roeg se eggenoot, die verleidelike Theresa Russell bly ’n besondere film wat in hierdie stad afspeel.

Volgens die psigoanalis handel dit oor wie kyk, en wie afkyk. Die storie van Alex en Milena met Harvey Keitel as die speurder wat van Garfunkel wil weet: hoe laat het jy vir ’n ambulans gebel?

’n Film oor verkragting en obsessie.

Skokkende footage.

Rondom die tyd wat die film gemaak is, het Roeg verlief geraak op Russell, en Art Garfunkel se geliefde, Laurie Bird, het selfdood gepleeg.

Wat sou Freud nie van hierdie sake gemaak het nie? Dat kuns die lewe naboots? Dat die onbewuste sterker is as wat ons besef?


(Laurie Bird – Biography – IMDb. Besoek 17 Julie 2016) 



© Joan Hambidge