Saturday, June 11, 2016

Vir N. P. van Wyk Louw se geboortedag – ’n vers uit 'Lykdigte'. Ter herinnering.



N.P. van Wyk Louw (1906 — 1970)


I

Die mise-en-scène:

’n blik op ’n steeg: ’n koue
Amsterdamse wintersdag teen
’n Kaapse herfsdag. Die gemoedstoestand:
verlies, nostalgie, ’n psigiese keerweer.


II

In ’n ander stad, op ’n ander kontinent
kon jy ongeveer drie dekades terug
met suiwerheid en presisie
’n hele digkuns herskryf.
In jou digterlike kladboek besin
oor die winterlandskap van die hart,
na verlange wat bly knaag: ’n beer
se onverdrote kap-kap in die sneeu.
“’n Ysbreker sou sneeu...”
Jy laat die beeld. Jy begin weer.
“Vir sneeu het Eskimo's
een-en-twintig of meer woorde...”
Die hart van liefde het koud
geword: soos ’n yssplinter.
Ook dít skrap jy. Met fyn potloodskrif
in die kantlyn: die beelde nog te tam.
In ’n Amsterdamse kroeg stol
twee jenever-glase heimlik onthou.


III

Die volgende dag probeer jy weer. Die burgery
se geroesemoes steur jou: “Pils!Pils!”
Jy laat jou drankie soos ’n onbestelde
versreël wag. In jou kladboek staan:
“Die mens is ’n walg.” Net dit.
Boesman-tekeninge in ’n grot:
fyn, vlug — immer, immer op trek
soos ’n hart (sonder hawe). Skrap.
Hoe stel mens liefde voor?
Ons Liefde? Die liefde?
Altyd op trek soos ’n Boesman
iets gewigtigs aanstip teen ’n grot
se wand: wisent, eland, kameelperd.
Net sjamaans mag boontoe praat
namens ander. Hul towerspreuke
vertel ’n verhaal van oorwinning, dood,
trek. Klein hiërogliewe van verdriet.
Daardie dag, daardie dag toe jy, meisie in bruin
my lewe verlaat: Verlaat lewe my.


IV

Dit was Mei-fees in Amsterdam, die eerste.
Lente toe jy na my (deur die gode gestuur) 
gekom het. En winter was dit toe jy finaal
weg is. Daar was tekens, ja tekens.
Soos voetspore in die stil-stil sneeu.
’n Silwer herberg met drie vensters.
In my hand ’n klein liefdespand.
Onthou, onthou hoe jou mond trek, die lyne
om jou oë...Soek vergeefs ’n beeld
om die verdriet van weggaan te verbeeld:
“Jy't weggegaan en jy bewoon
die silwer herberg van die hart
en buite voer daar iemand merels
teen die wind”. Onvoltooid.
My halwe kring soek nog vergeefs
na voltooid-heid. Kortstondig was jy:
’n Indiese somer, my middernagson.
’n Himne, my ode aan die skoonheid...
Toe die iteratief-duratief van verdriet.
Voor jou, geliefde wat nie wou bly:
toe jy na my kom, die ou-ou gek
was dit Mý-(laaste)fees in Amsterdam.


V

’n Swartbrief oor die verre oseaan
vol nuus van liefdesmoord en verraad
laat jou terugkeer na jou vaderland.
Vir ons pyn was daar geen passaat.
Die verlies van ’n jonger broer laat
jou terugkeer na jou moeder ontroosbaar.
Jy laat helaas, helaas ’n groter trooste-
loosheid agter: ’n onheilige digter
na sy heelheid soekend, soekend...
O vrou in  bruin, ek groet jou
met die helderheid van ’n digter
omgeef met eensaamheid; van eensaamheid
palindromies vir ewig deurdrenk.


VI

Altyd die ewigheidsteken,
’n inskripsie vir jou.


VII

En sy? Die geliefde vrou?
Sy verlaat die koue herberg
vir ’n soele okerlandskap
Hier ’n nuwe taal geleer
— die lispelende s van Katalaans
nooit werklik bemeester —
buitelende seuns verwek,
’n man behaag, vertrou, bemin
en kortstondig ’n kring voltooi.


VIII

Haarself moes sy suiwer
’n brandstapel gemaak
en prewelend gebid:
“Eenmaal in ’n vuurgloed eenmaal...”
Vir dae gebloei oor hom
en ’n onbesonne verbintenis.
In swart drome helder gedroom
oor heelheid, vervulling, geluk.
Bedags na die yke op haar lyf gekyk:
die aflaat betaal ten duurste.


IX

Maar die vuur van onthou
sou bly skroei soos ’n bergbrand
met versreëls soos skarrelende skilpaaie,
en in vele slapelose nagte
sou sy ongeposte briewe skryf —
sy adres immers ónbekend,
die bestemming vaag —
aan hom:” Jy had nie gelyk
oor die intellek of God; ons
is nie net ’n gedagte of Idee.
Ons is Gees, soekend na Hom.”
Soek ’n rymwoord vir verduur.
Die fyn membraan tussen hulle
kon selfs die dood nie ophef.
Sou hy kon voel hoe sy aan hom dink,
steeds met sy idees worstel?
Twee paar oë wat een sou word.


X

Ek helaas, kan net by benadering skryf
’n afleiding maak, wederregtelik inkyk
op hierdie Abélard en sy Heloise
oor ’n liefde groter as woorde:


XI

“Mens kan net eenmaal iets so volmaak
soos die ewigheid van ’n gedig ervaar,
net eenkeer liefde so onhoudbaar,
so volledig, so volmaak, so totaal,
in iets broos soos ’n roos vertaal.”


XII

Die digteres plaas haar pen neer.
’n Kaapse herfsdag gloei soos vuur.


(Uit: Lykdigte. Tafelberg, 2000)