Friday, June 3, 2016

Joan Hambidge - Argief




Op soek na ‘n misgeplaaste objek in my biblioteek-cum-argief waar ek tuisgaan, kom ek af op Roland Barthes se Writing degree zero wat onder my dubbelbed geland het. Die bed het vier kaste onderin. Hier berg ek ‘n kamera, ekstra brille, pille en ‘n ekstra sleutel vir my motor. Aan die ander kant van die bed is daar twee laaie met lakens en ‘n ou kombers uit my jeug.

Vanoggend soek ek na die objek. Haal die matras van die bed af om te kyk of dit nie dalk iewers ingegly het. Of moontlik geberg in een van die laaie?

Maar die soektog-na-die-verlore-objek konfronteer my met ‘n legger wat ek gehou het tydens ‘n navorsingstydperk aan Harvard en briewe van my moeder. In haar netjiese handskrif. Briewe waarvan ek al vergeet het.

In dieselfde legger is daar e-posse van Johann de Lange as ‘n “bevestigende vlam” van ‘n lang digtersvennootskap en vriendskap.

Langs die legger is daar ‘n netjiese houer met ou pille, botteltjies, medisyne – artefakte uit die ooskus van Amerika. Objekte wat ek nie kan weggooi nie, omdat dit iets representeer van ‘n tydperk, ver terug in die tyd (1999) toe Barbara Johnson nog geleef het.

Ek stof af …

Ontdek ook ‘n e-pos van ‘n voormalige vriendin.

Die dood van ‘n vriendskap. Ek stap na my raak en kyk na Barthes se A lover’s discourse. Dikwels is vriendskappe al lankal verby, maar ‘n mens kan dit nie aanvaar nie.

“To know that one does not write for the other, to know that these things I am going to write will never cause me to be loved by the one I love (the other), to know that writing compensates for nothing, sublimates nothing, that it is precisely there where you are not — this is the beginning of writing”, aldus Barthes in sy liefdesboek.

Maar ek moet nou ophou soek na die verlore objek. Ek het ‘n visumafspraak om 1nm vir ‘n reis na Wenen. Freud, Wittgenstein en Klimt se stad. Die stad van The third man en Bad timing.

Ek is vroeg by die konsulaat en ‘n jong Xhosa-vrou gaan my dokumente deur. Ek verwag altyd die ergste met sulke besoeke. Iewers vind die beampte fout. Jou foto is verkeerd – jou lippe is effens oop. Of jou bankbesonderhede is verkeerd. Of jy moes eers hierdie visum kry voordat jy daardie een kan kry, unsw.

Die mag van die burokraat.

Hierdie vrou is iets heel besonders. Ons is albei gebore op Aliwal-Noord roep sy met vreugde uit. En ja, sy kom van Johannesburg en kan Zoeloe, Xhosa, Afrikaans (’n bietjie) en Engels praat.

Ek vertel haar van die taalstryd op Stellenbosch.

Sy kyk my in ongeloof aan.

“Ons swartmense en Afrikaanse mense se taal is van hier,” sê sy sonder skroom. Langs ons sit ‘n Russiese vrou en haar kind. Hulle luister na ons gesprek. Sy praat Russies met haar kind wat hier gebore is en Afrikaans kan praat. Bly Russies praat met hom, beveel ek. Dit raak ‘n wonderlike gesprek oor moedertaalonderrig.

Sy is van Vladivastok. Die seun gaan na Bishops. Nou word my vingerafdrukke gekiek.

Ek is op die sisteem.

Betaal ‘n boel geld vir my reis na Freud se stad.

Dieselfde aand ontdek ek die verlore objek:

Orfeus en Euridike *

As jy soos Euridike
in ‘n algebra van nood
voortydig die onderwêreld betree,
sal ek soos Orfeus
daagliks my lot betreur.

Miskien sal jy die grein
van my stem herken in dié dood
wanneer my woorde
jou in dié tussenplek bereik:
ek sal nie terugkyk, ek beloof.


Bibliografie:

Writing Degree Zero (1968).
Roland Barthes by Roland Barthes (1977).
A Barthes Reader (1982).
A Lover's Discourse : Fragments (1990).

The Grain of the Voice: interviews 1962-1980 (1985.

© Joan Hambidge