Monday, June 6, 2016

David Cornwell – Like it matters (2016)


David Cornwell – Like it matters. Umuzi, 2016. ISBN 978 1 41520 160 2

Resensent: Joan Hambidge

“I knew a guy once who tried to keep me sober by teaching me some Buddhist stuff, and he used to say when your mind’s got drugs in, it is like being stuck to flypaper in a room with a beautiful floor ..”

‘n Beter begeleidende shout of blakerteks sou ‘n mens kwalik kon uitdink. David Cornwell is ‘n skrywer en musikant (hy is lid van KRAAL) en Like it matters is sy debuutroman. So kort op die hakke van die wonderbaarlike Huilboek van Ryk Hattingh wat sopas by Human & Rousseau verskyn het en Wasted van Mark Winkler wat verlede jaar by Kwela uitgekom het.

Aldrie hierdie uitstekende tekste stel die leser voor aan die “naked I” wat sonder skroom van sy ellendes en verlede weergee. By elkeen is daar alkohol of dwelms aanwesig. En telkens ‘n opstand teen die verdrukkende patriargale samelewing waarin die komplekse, outsider-figuur sukkel om sin te maak van sy lewe.

Die verskoppeling verskaf ook vir die leser werke wat hy gedoen het: waiter, kroegman, die afvee van doudruppels op tweedehandse motors, o.a. om te verduidelik dat hy uitgelewer is aan 'n onbestendige bestaan (62).

Daar is Edward Hopper coasters (94) wat 'n kode is vir die lees van die roman. Hiermee wil die verteller (eintlik die skrywer) die troostelose bestaan beklemtoon.  Hopper (1982 – 1967) word beskou as een van die grootste realistiese skilders van die twintigste eeu. Sy bekende leë landskappe en stadstonele aktiveer enorme eensaamheid. Op die tafel sien die verteller ook die volgende opjekte: “an evil eye, a quill and a mostly empty bottle of purple ink, a jaw harp, some tarot cards, a small statue of some kind of tree done in iron and wire and precious stones”.

Watter kaarte?, wonder die leser.

Uiteraard waag ‘n mens ‘n raaiskoot: die gehangde man,  die towenaar, en Die wiel van geluk …
Bladsy 251 wil-wil antwoorde verskaf vir die nuuskierige, strukturalistiese leser.

Die geroeste sleutel waarmee hy ‘n deur probeer oopmaak, is ‘n verdere belangrike kode vir die lees van hierdie roman.

Die beskrywing van die verloederde Muizenberg en ‘n ou Monza is vinjette wat hierdie leser nooit sal kan vergeet nie. Hierdie skrywer se oog vir détail is waarskynlik sy sterkste punt. ‘n Kar se spoilers lyk soos die vlerke van ‘n vlermuis!

Die gebruik van Afrikaanse woorde in die vertelling maak die belydenis uiters outentiek.
Die d-, f- en p-woorde is hier. Ook blasfemiese taal. Want dit is hoe sulke mense immers praat.

David Cornwell

Ons beleef soms die bewussynstroom van die paranoïese, angstige verteller wat selfs nie weet watter sportsoort in 2010 die Wêreldbeker gekry het nie. Hy is te hoog, man. En die vertelling boots sy bewussyn na deur soms nie punte aan die einde van sinne te plaas nie.

Die effek van verskillende verslawings word goed verduidelik; cocktail-dronk teenoor die gebruik van khat of die rook van ‘n joint.

Dit is ‘n goed gekonstrueerde roman wat met stilisties uitstekend is. Die toets vir ‘n goeie roman: jy kan dit op enige plek oopslaan en bewonder vir die taalgebruik. Dis die storie van Ed en Charlotte wat uitgelewer is aan ‘n wêreld wat onder hulle uitspiraal; nee eerder uitbliksem.

Vir hulle is die lewe nie ‘n karnival nie en soos Kierkegaard onse Ed waarsku via ‘n boek: as jy te veel fokus op die lewe se verval, gaan jy bepaald seerkry. Hier beteken verval “drug lords” en betrokke raak by “shady deals”.

Die pers en selfone word uitstekend ingespan om die storie vooruit te laat loop. Dubbelpratery word deur die selfoon verraai en die Cape Times en Argus is die koelbloedige optekenaars van die einde waarop alles afgestuur het. (My lips are sealed.)

En die vertelling is vol poëtiese wendinge (die see lyk soos “crushed velvet”) en tussen die pynlike onthullings van ‘n karakter wat “f- dik gerook is”, is die leser deurgaans bewus van ‘n fyn struktuur en knap stilistiese beheer.

Rehab, ou geboue, mense wat onwetend betrokke raak by ‘n kultus wat ‘n “snuff porn ring” blyk te wees, is verdere troebel motiewe.

Die ellendes van nou gaan terug na ‘n pynlike jeug. Maar daar is ten slotte redding …
Fear and loathing in Muizenberg.

Die roman is besonder mooi uitgegee (in hardeband) met ‘n treffende voorblad deur Gretchen van der Byl.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)