Wednesday, March 9, 2016

Joan Hambidge - Oorlog & Vrede (BBC, 2016)



I
War and Peace, die 2016 televisiereeks van die BBC, het ek op my rekenaar bestudeer. Dit is gebaseer op Leo Tolstoi se beroemde en klassieke roman Oorlog en vrede en gee uiteraard ‘n gekondenseerde weergawe van die komplekse roman.

Hierdie reeks is waarskynlik een van die mees tydige tekste wat sterk resoneer met die politieke onrus en omwentelinge wat ons tans beleef. Dit is aan die begin gesitueer in Rusland in die jaar 1805 en die verandering in die Russiese geskiedenis tydens die Napoleontiese oorlog. ‘n Tyd van prinse en landhere, van ‘n spanning tussen dienskneg en landheer teen die doek van groot politieke omwentelinge.

Teenoor die groter politieke en sosiale onrus, is daar die kleiner menslike dramas. Liefde, verraad. Ouers wat kinders laat trou met iemand van aansien (en dus met geld) teenoor ‘n kind wat hom hierteen verset en in liefde glo.

Wanneer die knorpot Prins Nikolai Bolkonsky (vertolk deur Jim Broadbent) sy seun dwing om vir ‘n jaar van sy geliefde weg te bly, beland sy in die kloue van ‘n emosieswendelaar. Andrei kan Natasha se indiskresie nie vergewe nie en ná sy dood is dit die goeie Pierre wat haar versorg en met haar trou. Pierre kom tot inkeer: hy vind begrip by die Vrymesselaars wat hom leer ander mense te dien en weg te beweeg van eie behoeftes. 'n Mens mag net wraak neem, word hy geleer, as jou wraak die vyand tot ander insigte bring.

Die reeks wys ook op die verhouding tussen baas en slaaf, die konsep van lyfeienis en uiteraard is die genderdiskoers geweldig belangrik in hierdie film. Vrouens is onderdanig aan mans. Hulle word verneder en weet niks nie (Bolkonsky snou sy dogter dit toe) en 'n vrou wat 'n seksuele oortreding begaan word verwerp deur die gemeenskap. Nastasha dra swaar aan haar "ontugtige" verhouding met die pierewaaier wat haar verlei. Pierre se losbandige vrou, Helene, word weens haar buite-egtelike swangerskap verminder deur die Russiese gemeenskap. Vroue wag op mans en hul identiteit word deur hul mans se status bepaal. Sy sterf ook tragies aan ‘n oordosis; waarskynlik omdat sy nooit buite haar eie behoeftes kan beweeg nie. Sy is ook die een wat haar broer Anatole voorstel aan Natasha in ‘n bose verleidingspel, wel wetend dat hy reeds getroud is.

II
In dieselfde tydperk wat ek hierdie ongelooflik aangrypende reeks bekyk, gee ek lesings oor Bahktin (1895 - 1975) en begryp ek vir die eerste keer die volle betekenis van die begrip liminaliteit of oorgang. Hierdie reeks wys op die oorgang van die ou orde na die nuwe wêreld waar alle mense as gelykes behandel word. Die chronotoop (te wete tyd en ruimte) van die film word eg weergegee.  Al hierdie konsepte staan opgeteken in David Lodge se Modern Criticism and Theory: A Reader (1988). Dis kostuums is tydsgetrou (in hierdie opsig is dit 'n periodedrama) en die herkenbare Russiese stede word oortuigend uitgebeeld. Varke en hoenders loop deurmekaar op 'n plasie. 'n Besoeker aan die Russiese landskap sal die Hermitage herken.

Ofskoon die fokus die verhouding tussen Pierre, Natasha en Andrei behels, is dit polifonies in aanbod. Die kyker word blootgestel aan die mores van die tyd en verskillende sub-verhale is merkers van hierdie verhaal. Die pierewaaier, Anatole verloor sy been in die oorlog en Andrei vergewe hom.

Word Helene “gestraf” vir haar roekelose liefdesontrou?

III
Die spel van Jim Broadbent as die onredelike vaderfiguur is uitstekend. Greta Scacchi (uitgespreek Skakki) as Countess Natalya Rostova gee 'n besondere vertolking van 'n vrou wat saam met haar man al hul besittings verloor en haar eie kouse moet stop. Die eens beeldskone Scacchia is in hierdie rol oud en opgepof. Gillian Anderson daarenteen, as Anna Pavlovna Scherer is beeldskoon en kil.

IV
Die politieke verandering word deur 'n verskietende komeet gesimboliseer.

Die kyker ervaar die impak van hoe 'n vuur Moskou verwoes het en die koue in St Petersburg. Veral die Veldslag van Austerlitz en Borodino word uitstekend gekarteer. Napoleon word gefnuik deur sy onvermoë om te kan oorleef in 'n koue Russiese winter.

Die impak van briewe (wat deur ander gelees word), kom ook te berde. Geliefdes ontvang briewe wat ‘n diensmeisie lees sodat sy vir Natasha kan waarsku oor die ellende waarop sy afstuur. Dit was ook ‘n tyd van die tweegeveg.

Pierre daag Dulokhov uit tot ‘n tweegeveg omdat hy sy vrou, die hartelose Helene wat verskeie minaars het, verlei het. Pierre is die oorwinnaar.

Die hele reeks beweeg tussen opposisies: Rusland / Frankryk; liefde / smart; wraak / vergifnis; oorlog / vrede.

Dit is ‘n uitstaande reeks wat hierdie kyker vir bykans drie weke lank oor en oor gekyk het. Die spel is uitmuntend. Die film se nougesette oorlogformasies verdien eweneens vermelding. Soos die danstonele. En die Russies wat gesing word.

Die akteurs praat in hul gemaklike aksente – hier is geen faux-Russies of -Frans te hore nie.

© Joan Hambidge