Friday, January 15, 2016

Joan Hambidge: Taalverraad en ou vrot vis


 
’n Psigolinguis sal waarskynlik meer opgewasse wees vir die taak om Amanda Gouws se skrywe ("'Taalstryd' gaan nie net oor taal", Die Burger, 12 deser) te analiseer. Maar aangesien ek buite verband aangehaal word, ’n paar kanttekeninge.

Gouws is reeds daarop gewys dat sy buite haar diepte is deur ’n gesiene taalkundige Ernst Kotzé, maar nou krabbel sy terug dat eintlik is die kwessie aan die US ’n politieke een en vanuit haar meerdere posisie, as politieke wetenskaplike, kan sý ons reghelp. Vergetend dat sy onbewus was van hoe mense indertyd by RAU (nou UJ) die taalkwessie aangespreek het. En kennelik oningelig oor J.C. Steyn se taalstudies.

Behalwe vir die uwe, word Breytenbach en Adam Small, verder ingespan om haar posisie te verstewig.

Met die drog-der-drogredenasies dat dit nie net enkeles is wat die taalplan ondersteun het nie, maar ’n meerderheid van senaatslede.

Dan gaan sy verder: sy swaai kwistig begrippe soos venyn en verraad rond om haar teenstanders verdag te maak.

Ek het gepraat van taalverraad; en ek staan daarby.

Indien Afrikaans as wetenskapstaal uitrangeer word aan die US, sal dit negatief wees vir alle tale, modern, klassiek en inheems.

En die 1976-opstande (wat oor meer as taal gehandel het) word weer afgestof deur Gouws.

Daardie ou vrot vis, soos Tim du Plessis dit so klinkend gestel het nou onlangs in Rapport.

Afrikaans is gebruik in die struggle, professor Gouws. Gaan lees Hein Willemse se insiggewende studies hieroor.

Het Neruda ooit Spaans verwyt toe die militia sy droom aan skerwe laat spat het en sy vriend Allende vernietig het?

Hoe kan ons saamwerk, wonder ek, as ons regsgeleerdes het wat die grondwet interpreteer asof dit ’n postmodernistiese gedig is?

Ons ontken nie die politieke konteks nie. Inteendeel. Nou onlangs weer geluister op YouTube hoe die rektor (sonder skroom) aankondig hoe sy bestuursplan daar uitsien.

Verskeie geesteswetenskaplikes, taalkundiges, skrywers, et al., het reeds hul misnoeë te kenne gegee.

En meen dat rubriekskrywers wat so anti-Afrikaans is, moet maar elders hul heil (of sal ek seg, heiland) gaan soek. Ruimtes in Engelse koerante mag dalk minder krities wees oor sulke uitsprake.

Ofskoon taalkundiges – buite Afrikaans – ook ’n wenkbrou lig oor die eensydige en anglomaanse drif wat inklusiwiteit so verkeerd vertolk.

© Joan Hambidge