Sunday, January 10, 2016

Joan Hambidge - Santiago de Chile [Gedig]


'n Foto, skryf jy iewers,

is 'n opslagkoeël: iets
wat tref en wond
in die loopgraaf
van herinnering.
Nommer DSCF0177
geliasseer in 'n reisverslag
Chili 2015-2016
(dus die oorgang van een jaar
na 'n ander verwonding) verklap
die boustyle van hierdie stad:
modern en ouderwets,
lig en somber. 'n Woonstelblok
vol afwesige bewoners, lamppale,
robot, 'n boom en lug voltooi
die komposisie. 'n Horlosie selfs
met twee tydsaanduidings:
ek onthou dit was so om en by
drie namiddag op pad terug
na my hotel The Singular op Merced 294.
Wat opval is die kruis
toé hiervan salig onbewus.
Genade, hoop, verlossing
op my pelgrimstog in Santiago
opgesom in dié foto:
'n vloekskoot.


© Joan Hambidge