Friday, December 25, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel VIII)


Deel VIII

Nou is dit Ou Kersaand in Puerto Natales. Die weer is oeserig: bewolk en reënerig. Nes jy buitentoe stap, begin dit te stuifreën.

But I go with the flow. Christopher Isherwood se "I am a camera" is so waar van reis. ‘n Mens neem die hele tyd waar, jy tel indrukke op soos ‘n magneet. Hopelik sal ek more die gletsers kan besoek. Nie goeie hoop nie. Die Andes is toegetrek.

Ek gesels met ‘n egpaar uit Santiago. Vertel vir hulle hoe Pablo Neruda eendag in Isla Negra ‘n sinkende skip aanskou het en twee dae later het hy en sy geliefde Matilde die see ingewem en ‘n stuk hout, glo ‘n deur, land toe gebring. En daardie deur was uiteindelik die lessenaar waarop hy geskryf het!

Die Canto general is geskryf op die deur van ‘n skip!

Al die objekte wat hy deur die jare versamel het soos skulpe het hy netjies skoon gemaak en uitgestal. Pragtige kleurvolle skulpe: goudgeel en selfs rooi.

Die betowering van die Andes gaan nie verby nie. ‘n Mens bly bewus van die berg se aanwesigheid.

Andes

Miskien sou ‘n mens hierdie berg
as UX design kan beskryf,
oor die genotvolle interaksie
en waarde wat ‘n mens put
uit hierdie objek, vir die doeleindes
van hierdie gedig, ‘n produk.

Die Andes was eerste hier,
en sal hier wees ná my vertrek.
Oor hierdie berg sal jy nooit
‘n in memoriam hoef te skryf,
of ‘n lykdig oor die ontslapene,
‘n stil vertrekkende nie.

Die berg is lewegewend,
gooi skadu's, huisves onbesonnenes
wat onbeskaamd tot bo klouter.
Vulkane het ‘n lewe van hul eie:
vol kokende lawa, of koue as
nes digters wat ophou dig.

Geoloë se voorspellings
gefnuik en buite voorskrif
staan die Andes stoets,
onbewus van al die huldeblyke,
foto's, skryfsels. Ook hierdie gedig
laat haar koud. Hierom versluier
sy haar agter ‘n grys wolk:

"Jy laat my, soos al die ander, koud."

*

En so elke tweede dag lees ek Die Burger aanlyn om te weet wat in Zumaland aangaan. Die moderne reisiger kan weens die internet en sms’e nie meer wegvlug nie. Jy bly op twee vlakke reis: tuis en die nuwe land. Bykans soos ‘n boot wat wil-wil wegvaar, maar vasgemeer bly.

Lees hoe twee regsgeleerdes meen Afrikaans aan Stellenbosch het geen spesiale posisie nie. Die een ‘n regsgeleerde “hou ‘n leerstoel”; waarskynlik eerder beklee?

Van hier stuur ek ‘n reaksie oor Afrikaans en hoe vertalings in elk geval die vetjies van ‘n taal afsny. Politieke korrektheid en ‘n beskamende onkunde oor taalpolitiek en -filosofie lê aan die basis van hierdie swiepende uitlatings.

Christi van der Westhuizen se reaksie oor Zuma laat my egter regopsit.

Ek begin aan ‘n brief komponeer:
My brief het betrekking op Christi van der Westhuizen (“Zuma is dalk ons skuld ook”, 16 deser) waarin sy beweer: “As Suid-Afrikaners moet ons ons afvra waarom ons op hierdie tydstip met so ‘n leier vorendag gekom het.” 
Hoeveel onse is daar in haar pond? En om die skuld opnuut te verplaas, selfs met ‘n dalk, ontneem Zuma en die ANC van agentskap. By geleentheid het Murray la Vita kwispelend verwys na me. Van der Westhuizen se wit kuif wat hom herinner aan Susan Sontag s’n. En dit is waar die ooreenkoms bly: by die kuif. 
Op die jongste foto’s is die kuif nie meer wit nie en Sontag sou beslis hierdie onsinnighede bevraagteken het as gedeë intellektueel. 
Van werklike diepsinnige, gebalanseerde sosiale kommentaar is daar selde iets te vinde in die beterweterige en eensydige rubrieke.
Genoeg van die taalstryd en politieke kommentators wat net sien wat hulle wil sien. En vergeet hoe die beursie dunner word in ‘n vreemde land danksy die wanbestuur van ons land.

*

Dis Oukersaand.

Die kalkoen wag.

A, daar lig die Andes se sluier!

Die sneeu lê dik. Tog sal ons hopelik more op die bootvaart kan gaan.

© Joan Hambidge