Thursday, December 3, 2015

Joan Hambidge: Reaksie op Amanda Gouws se "Identiteit is nie die vertrekpunt" (2015)

Amanda Gouws

Brief: Die Burger, 03.12.2015

Amanda Gouws se reaksie in Die Burger (“Identiteit is nie die vertrekpunt”, 1 deser) bring ‘n paar kwessies aan bod wat ek graag hier beantwoord.

Oor die verdwene Randse Afrikaanse Universiteit en waarom Afrikaanse sprekers toe nie hewig reageer het nie. Ek onthou dit anders. Wyle professor FIJ van Rensburg en JC Steyn, en andere,  het hulle sterk uitgespreek hierteen, maar die demografie van Johannesburg kan nie met Stellenbosch vergelyk word nie. Johannesburg is ‘n sterk Engelstalige stadsgemeenskap; Stellenbosch is in die Wes-Kaap geleë met ‘n Afrikaanse gemeenskap. Dis soos om Wallonië met Vlaandere te vergelyk.

En presies waar word taal en kultuur ooit van mekaar geskei?

Sy meen Afrikaans is “verpolitiseer”. ‘n Eng siening van die geskiedenis, veral met Engels se geskiedenis as sterk bemarkers en voorstanders van konsentrasiekampe wêreldwyd. Opvallend dat Britse historici veral sterk standpunt inneem teen die Britse optrede tydens die ABO.

Sy het dit ook teen “uitheemse taalmodelle”. Wel, hierdie “uitheemse” taalmodelle is van toepassing hier te lande. Afrikaans is ‘n semi-kreoolse taal wat behoort aan hierdie land en waarom dit verpand vir Engels?

Om kultuur wat”floreer” gelyk te stel aan die taaldebat, is nie hier relevant nie. Natuurlik sal Afrikaans gepraat word en woordfeeste van krag tot krag gaan. Ons het dit egter oor die posisie van Afrikaans as wetenskapstaal, ‘n posisie wat wat wys hoe die taal getransformeer het van kombuistaal tot internasionale taal wat, nota bene, deur intellektuele in my vakgebied begryp word by internasionale kongresse, omdat hulle Duits magtig is.

Om landverlaters wat hul prysgee met die taaldebat hier te lande te wil vergelyk, is onhoudbaar. Ofskoon daar plekke in Australië en New Zeeland mense is wat steeds Afrikaans praat, was dit húl keuse om hul land te verlaat. En gaan lees gerus Danie Marais se As almal ver is (2009) oor watter impak ‘n bestaan in die vreemde op identiteit het.

As skrywer en dosent van Afrikaans en alumna van die US, neem ek standpunt in teen diegene wat ‘n sterk inheemse taal met ‘n lang skryftradisie probeer verloën. Ook onrusbarend hoe veel mense en polemici hul tans uitspreek oor taalfilosofie (en-politiek) en daar weinig van weet. Gaan lees gerus JC Steyn se klassieke teks Tuiste in eie taal (1980) en dink na hoe 'n Afrikaanse koerant ook afhanklik is van Afrikaans aan universiteite.


© Joan Hambidge