Thursday, November 19, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties I

I

Die onthulling van professor Wim de Villiers, rektor aan die Universiteit van Stellenbosch, oor die toekoms van Afrikaans as voertaal is met skok begroet. Dit is geen geheim dat universiteite tans in 'n krisis gedompel is nie en aan Stellenbosch, my alma mater, is die studenteverset - gelei deur die Open Stellenbosch Forum - veral teen Afrikaans geloods. Ons het almal die Luister-video gesien.

'n Nagraadse student aan die UK spekuleer die rektor het voor 'n kruispad gestaan: toegee aan die studente se eise of die kritiek van Afrikaanse simpatisante. Kennelik besluit die studente belangriker is as die dosente, konvokasie, alumni, en ander ondersteuners van die US. Ondertussen het Breyten Breytenbach en Johann Rossouw met skerp en oortuigende argumente gekom oor waarom dit 'n dwase besluit sou wees. Die rektor krabbel terug na die persverklaring en omsendskrywe wat ek in die nag van 12 November gelees het en 'n e-pos waarin hy deur die studente toegejuig word oor sy taalplan wat nog nie deur die raad of senaat goedgekeur is nie. Een e-pos van studente word selfs met 'n Amandla afgesluit. Die senaat moet eers só 'n beleid goedkeur en 'n mens maak die afleiding dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie. 'n Raadslid het immers in die pers hiervan kennis geneem.

II

'n Mens onthou hoe daar 'n paar maande terug in die pers berig is (op 'n Sondagoggend in Rapport) dat die Geesteswetenskappe voortaan in Engels sou kommunikeer. Na skerp reaksie is dit ontken, teruggetrek, weggepak, toegedoek. Die jongste besluit het 'n lang geskiedenis (as ek reg onthou): dubbelspraak, 'n voormalige rektor se skuinspraatjies, lekkasies uit die Raad waar een ding besluit word, en in die werklikheid iets anders. Ons het deur die jare verskillende taalplanne aangehoor: T-opsie, tolkdienste, parallelle medium-onderrig; alles woorde wat volgens my strategieë was om Afrikaans al hoe meer uit te rangeer. Hermann Giliomee en Marié Heese (volledig tweetalig en ingelig oor taalonderrig) het telkens gewys op die gevare van verengelsing indien die kwessie van moedertaalsprekers nie in ag geneem word nie. Dus: jy het 'n student wat nie Engels is nie, wat onderrig word deur 'n dosent vir wie Engels eweneens nie 'n eerste taal is nie. Self was ek al by lesings waar hierdie interaksie tussen dosent en student in die sogenaamde "common language" nie deug nie.

III

Daar word toenemend gepraat van "dekoloniseer ons universiteite" en 'n ander mantra is destabiliseer witheid.  (Al wanneer ek bereid is om witheid te destabiliseer, is wanneer ek 'n bottel wit wyn oopmaak.) Hoe ironies dat mense wat universiteite wil de-koloniseer, dit juis doen in die taal van kolonisering. Engels is nie net 'n taal nie; dis 'n magsbasis. Die jongste taaldebat, eerder taalherrie, dui ook daarop dat dit nie net om Afrikaans gaan nie, maar meertaligheid ontken en minag. Boonop word daar 'n Bestuur (die kollektief vir Outoriteit) besluite geneem, terwyl gesiene taalkundiges soos Neville Alexander, Raj Mesthrie en Ana Deumert sou kon help met die aanspreek van hierdie taalkwessie. Alexander se werk bly 'n baken; en laasgenoemde twee linguiste is verbonde aan die UK en sou 'n buite-blik kon gee. Aan die US is daar eweneens gesiene taalkundiges, taalpraktisyne en woordeboekmakers wat sou kon hand bysit.

IV

Maar as 'n Bestuur dit nodig ag om die kar voor die perde in te span, dui dit daarop dat 'n politiek korrekte besluit swaarder weeg as 'n kulturele een. Waarom moet die komplekse kulturele samestelling van 'n kampus vereng word? Afrikaans is Kaaps; daar is tsotsitaal; Moeslem-Afrikaans; Facebook-Afrikaans, Stellenbosch-Afrikaans, ensomeer: maar dit is veral 'n wetenskapstaal en 'n taal met kreatiewe uitsette ('n lekker universiteitswoord) met bekroonde en internasionaal gerekende skrywers. En 'n hele paar woon op dáárdie dorp. Dit is eweneens 'n ruimte waar woordeboekmakers woorde opteken en bewaar. En kundige vertaalkursusse aangebied word.

V

In een omsendskrywe word Afrikaans met vier a's gespel.  'n Verskrywing wat dui op die druk waaronder die skrywer was. Waarom, vra 'n mens jouself af, na hierdie jaar van etlike krisisse (waarvan geen universiteit in die nabye toekoms gaan herstel nie), moet die aankondiging teen latenstyd gemaak word? Dit, terwyl dosente bereid is om uitgestelde eksamens te akkommodeer, etlike aanpassings maak met betrekking tot verlof, ekstra lesings gee, studente bystaan, e-posse uitstuur om nóg 'n krisis af te weer. Administratiewe personeel se werkslading het eweneens verdubbel met die uitstel van eksamens.

Boonop word dit in die pers aangekondig op Vrydag die dertiende.

Krisisbestuur of 'n berekende stap? Maak die aankondiging wanneer almal reeds vuis- en media-voos is van brandende klaviere en traanrook. 'n Senaatsvergadering met waterbottels wat deur die lug vlieg. En nog 'n # op 'n ondeurdagte wyse deur die media flits. Slagspreuke eerder as denke.

Heyneke Meyer se ongewildheid word tans net deur  professor Wim de Villiers se omstredenheid getroef.



Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.