Sunday, November 29, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties II


Afrikaans is 'n wetenskapstaal en die huidige debat erken telkemale die posisie van Afrikaans. Die hewigheid van die debat laat 'n mens nadink oor die volgende:

waarom moet ons luister na rubriekskrywers wat Afrikaans minag? Hoekom word hulle idees nie eerder in 'n Engelse dagblaaie uitgestal nie?

waarom laat polemici  (eerder fulguriete) hulle uit oor taalkwessies as hulle nie eens die verskil tussen 'n senaat se rol en 'n raad begryp nie?

waarom word 'n taal wat hier getransformeer het van Hollands en ander tale in sig dra en 'n semi-kreoolse taal is, verminder word?

waarom 'n taal verklein met soveel skrywers, bloemlesings, woordeboeke en vakwetenskaplike tekste?

waarom laat mense wat nie die kompleksiteite van taal begryp nie, hulle nie maar eerder uit oor hul eie vakgebiede nie?

waarom bydraes lees van mense wat nie die verskil ken tussen alumus en alumna nie?
waarom kyk hierdie napraters van Engels nie eerder na Kanada en België alvorens hulle meen ons moet nou die Rubicon oorsteek nie?

waarom word prosedures aan 'n universiteit geminag en moet 'n raad agterna daarop wys dat 'n taalbeleid nie sito-sito verander kan word sonder om al die taakspanne en rolspelers in ag te neem nie?

waarom word 'n drakoniese beginsel geuiter dat die amptelike voertaal (selfs in koshuise!) voortaan in Engels sal geskied?

waarom luister na diegene wat nie die verskil verstaan tussen 'n taal as gesprekstaal en wetenskapstaal nie?

waarom word die gedagte uitgespreek dat dit nie 'n universiteit se rol is om Afrikaans te beskerm nie, maar tog word hierdie debat (wat bepaald nie histeries is nie) oor 'n universiteit veral in Afrikaans gevoer?

waarom die dawerende stilte van onse groot skrywers woonagtig in die Bos?

'n Mens kan net 'n satiriese opera oor hierdie kwessie skryf: Macchiavelli in Stellenbosch. Met die senaat as 'n koor wat mymer "Wiff all respect, Mistah Blyde Boodskap" en "We speaka da Engliesh so internashional and inclusif". Met manlike castrati, fopdos-soprane jubelend op "O moenie huil nie, o moenie treur nie ...". Met die Eersterivier as 'n Rubicon.

Mag die paar helderdenkendes - wat nog oor is - die ryke tradisie van kreatiewe skrywers aan hierdie instansie eer waar hulle manuskripte in bewaring is vir 'n nageslag. Is dit te veel gevra dat daar herbesin word juis omdat die implikasies hiervan ander Afrikaanse departemente en almal wat in Afrikaans werk, mag raak?

Goed dat soveel mense buite die universiteit hierdie ding sien presies vir wat dit is: nogmaals 'n geswig voor die regering van die dag se kortsigtige politieke eise.

Soos dit opgeteken staan: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.

© Joan Hambidge

Wednesday, November 25, 2015

Joan Hambidge - Spectre, James Bond: ‘n nota


So ‘n paar jaar terug het het ek van my beste vriend ‘n boks James Bond-rolprente ontvang ter geskenk. En vir ‘n lang tyd hierdie films deurgewerk en die verskillende aspekte van die films ondersoek. Die belangrikste is hoé James Bond getransformeer het van ‘n chauvinistiese man wat ‘n vrou klap op die boud (Sean Connery) tot M (Judi Dench) wat hom aantree oor sy seksuele gedrag (Pierce Brosnan). Sy noem hom ook ‘n seksuele dinosourus.

Die motors, die musiek, die klere – alles is ‘n representasie van die wonderlike aanbod van 007. Dit het alles begin met Dr No in 1962 en nou in 2015 met Spectre is dit steeds ‘n relevante stuk sosiale kommentaar. Die wêreld se vrees vir anargie en terrorisme is nou die tema van die film – met Daniel Craig as ‘n bykans bloedlose, robotagtige James Bond.

Die DVD’s bevat ook onderhoude met filmmakers en Terence Young wat die regisseur was van Dr No en From Russia with love (1963) – met Sean Connery – imponeer met sy sin vir presies wat sy kykers verwag: aksie, ‘n held, en natuurlik, die spanning tussen die Ooste en die Weste, die sogenaamde koueoorlog.

Die aksie is steeds aanwesig in die jongste film, maar die skeidslyn word opgehef. Dit is nou terreur (Spectre as ‘n bose organisasie) met James Bond se halfbroer as sy teenspeler.

Om nie te veel van die storielyn te verraai nie (die film is twee en ‘n halfuur lank!), is daar troebel Freudiaanse spanninge wat hier uitgespeel word; globale beheer; die poging om die 00-missie uit te wis; die binnedringing van die vyand na die hart van die organisasie én besoeke aan eksotiese ruimtes soos o.a. Mexiko, die Alpe, Tokio, Londen, Tangiers, ensomeer.

Daar word selfs ‘n grappie of wat oor Suid-Afrika gemaak!

Ten slotte ry Bond weg met ‘n ou Aston Martin as ‘n soort huldeblyk aan Connery!

Die film (geregisseer deur Sam Mendes) bevat etlike kopknikke na ander Bond-films en vir die ingeligte kyker is dit wonderlik om te sien hoe hoe die begin inspeel op Live and let die (1973) en die gebruik van voedoe. Die woestyntoneel wat in Tangiers afspeel, is duidelik ‘n parodie op Bernardo Bertolucci se 1990 film The sheltering sky. En die treinreis neem ons terug na From Russia with love.

So beskou, hou die films ook tred met die moderne kyker se postmodernistiese verwagtinge en die liefhebber van intertekste sal Spectre uitermate geniet in al die toespelings, verdraaiings en in-grappies.

Dit is die 24e James Bond en steeds is daar pret en genot.

Aan die begin word ‘n gebou verwoes en die mure stort ineen. James Bond slaan later ook ‘n muur sommer met sy vuis oop. Alles kodes vir die speurende leser dat jy besig is om ‘n 
skouspel of produksie te aanskou. Kyk dus fyn vir die verwysings na ander films …

Wie gaan die volgende Bond wees?

En soveel mense het al gestry oor wie die beste Bond was: Connery of die ironiese Roger Moore?

Die voormalige Shakepseare akteur, Timothy Dalton of Pierce Brosnan?

Of die eenmalige George Lazenby (teenoor Diana rig gestel), wat in On her majesty’s secret service (1969) die tragiese dood van sy eggenoot ervaar wat dalk die rede is vir Bond se voortdurende cruising van mooi vroue is en sy onvermoë om tot rus te kom?

In die jongste film is Moneypenny ‘n mooi swart vrou, Q ‘n nerd en egte kuberkraker en die humor steeds daar.

‘n Licence to kill, shaken not stirred en die goeie wat die bose oorwin, bly steeds die mantras van die gewilde films wat genderstellings maak en die politiek van die dag aanspreek.

Uiteraard was daar ook omstredenheid agter die skerms, soos Pierce Brosnan wat moes plek maak vir Daniel Craig; die spanning tussen Albert R. Broccoli en Harry Saltzman (wat alles in die ekstra-DVD’s te siene is); ‘n stotterende Ian Fleming wat sy idee van die ideale Bond verklap; en ja, die opwindende gebruik van bekende en ernstige akteurs soos Judi Dench, Christopher Walken, Steven Berkoff, die biseksuele Alan Cumming as Boris Girshenko in Goldeneye (1995), Grace Jones, ensomeer. (List of James Bond films - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 24 November 2015)

*

In my studie oor gender het ek die volgende oor Bond geskryf:

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) word die genese van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element van hierdie genre in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology". Aksie beteken alles vir hierdie soort held en as daar niks gebeur nie, is hierdie held (soos James Bond) volledig identiteitsloos. Palmer verwys dan ook na die belangrike passasie in From Russia, with love:
The blueberry arms of the soft life had Bond round the neck and they were slowly strangling him. He was a man of war and when, for a long period, there was no war, his spirit went into decline.
 In his particular line of business, peace had reigned for nearly a year. And peace is killing him. At 7.30 on the morning of Thursday, August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned (Palmer, 1978,  85).
Dieselfde geld Sherlock Holmes in Wisteria Lodge, argumenteer Palmer verder:
My dear Watson, you know how bored I have been since we locked up Colonel Carruthers. My mind is like a racing engine, tearing itself to pieces because it is not connected up with the work for which it is built. Life is commonplace, the papers are sterile; audacity and romance seem to have passed for ever from the criminal world.
 Die James Bond-verhaal funksioneer rondom binêre opposisies en Umberto Eco in "James Bond: une combinatoire narrative" het die volgende opposisies uitgewerk: opposisies van karakters soos held/skurk; held/vrou - opposisies van waardes soos geldmag/idealisme; programmering/risiko. Bond is dan by uitstek in staat om telkens te kan improviseer binne 'n moeilike situasie, soos Palmer aantoon(1978, 7). Bond steek 'n sigaret aan en glip die pakkie in sy bo-sak wat uiteindelik verhoed dat 'n koeël hom tref. Hy maak asof hy dood is en vind dan 'n mes digby sy baggasie wat hom uit hierdie netelige situasie red. Hy dra dus altyd 'n "bag of tricks" met hom saam wat wys op die gevare wat as't ware voorsien of geprogrammeer is.

Ook sy vyand het hul stel planne wat daarop ingestel is om Bond s'n te neutraliseer. Wat wel tersaaklik is, is dat Bond telkens staatmaak op vorige missies waarop hy dan improviseer binne 'n moeilike of dreigende situasie.

Palmer (1978, 14) meen egter dat Eco se klassifikasie nie voldoende is nie. Hy verwys na die amateur/professioneel/burokraat as 'n handiger sisteem.

Volgens Palmer is die amateur en burokraat nie in staat om uit ervaring te leer nie. In die wêreld van die burokraat is daar niks nuuts en onverwags om te ervaar nie. Alles bestaan soos wat dit behoort te bestaan.

Ook die amateur kan eweneens nie uit ervaring leer nie, gewoon omdat alles nuut is. Hierteenoor is die professioneel, soos Bond met sy licence to kill, in staat tot improvisasie. In vele Bond-romans en -films is dit juis hierdie aspek wat die leser/kyker betrek. In die jongste Bond-films is die spesiale effekte al hoe aanskouliker. Die oortreding van reëls of aanwysings word dikwels in Bond-tekste gevind omdat dit die enigste manier is wat hy werklik sy vyand kan uitoorlê. Palmer (1978, 63) betrek tereg Casino royale (1953) waar Bond van dobbeltafel na dobbeltafel beweeg ten einde meer te wete te kom oor sy vyand.

Tog herhaal die films telkens dieselfde struktuur wat herinner aan Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1913) waarin die optrede van dieselfde figure telkens teruggevind kan word: die held of doener; die Prinses of "sought-after person"; die boef, en dies meer.

Elkeen van hierdie karakters het volgens Propp spesifieke funksies. Palmer wys ook daarop dat die skurk byvoorbeeld betrokke raak by 'n situasie weens wraak, geld of 'n maglus (soos in die geval van Dr. No)(1978, 16). Om die eksotiese lewenstyl uit te leef, moet die skurk dus beweeg in die wêreld van die ondergrond of die onwettige bestaan. In hierdie opsig is Fleming se skurke in wese parodieë op onderwêreldse mens of primitiewe krag, soos dikwels in feëverhale aangetref word. Hulle leef selfs onder die see of in luukse skepe; in tombes van staal wat dit uiters moeilik maak vir die held om hierdie gevaarlike onderwêreld (ook 'n manifestasie van die onbewuste) te betree.

Palmer voorsien dan ook die volgende tabel:

Professionalism                                    Amateurism
                                  Bureaucracy

Reciprocity              Ectopia
                                   One-way information flow

Experience                Arrogance
                                    Incompetence

Participation             Isolation

James Bond-verhale maak ook spesifieke gender-stellings wat die leser/kyker nie kan negeer nie. Bond met sy Aston Manor en beretta het 'n licence to kill. Hy drink sy Martini's "shaken and not stirred" en hy is bestand teen moegheid of enige nagevolge van sy liefdesavonture. Hy word voorgestel as 'n super-man en vroue is eweneens nie bestand teen sy sjarme nie.

Hulle is dan dikwels die prooi ten einde 'n missie suksesvol af te handel. Maar die vroue gebruik Bond ook weer vir húl doeleindes wat die kritiek dat Bond misogonisties is, bevraagteken. Ook is dit so dat hierdie teks hul gender-rolle oordryf en bykans parodieer. Dit wat vergroot word (die term blow up uit Umberto Eco se The role of the reader, 1978) moet uiteraard weer beskou word.

Die uitstal van James Bond se machismo is sowel die Fleming-tekste as die films maak 'n spesifieke gender-stelling. Op die oog af lyk Bond misogonisties en sou die leser/kyker selfs kon kommentaar lewer op die seksisme waaroor verskeie feministiese kritici al kommentaar gelewer het. Die vroue is egter ook spioene wat Bond soveel misbruik as wat hy hulle gebruik.

Bond se machismo word geëwenaar deur vroulike lis of geslepenheid. Hierdie vroue vertolk net oënskynlik die rol van die "tweede seks". In wese is hulle gelyk aan hom en manipuleer hulle hom soveel deur middel van seks as hy vir hulle.

*


Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: 'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UK, 2000.

© Joan Hambidge




Thursday, November 19, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties I

I

Die onthulling van professor Wim de Villiers, rektor aan die Universiteit van Stellenbosch, oor die toekoms van Afrikaans as voertaal is met skok begroet. Dit is geen geheim dat universiteite tans in 'n krisis gedompel is nie en aan Stellenbosch, my alma mater, is die studenteverset - gelei deur die Open Stellenbosch Forum - veral teen Afrikaans geloods. Ons het almal die Luister-video gesien.

'n Nagraadse student aan die UK spekuleer die rektor het voor 'n kruispad gestaan: toegee aan die studente se eise of die kritiek van Afrikaanse simpatisante. Kennelik besluit die studente belangriker is as die dosente, konvokasie, alumni, en ander ondersteuners van die US. Ondertussen het Breyten Breytenbach en Johann Rossouw met skerp en oortuigende argumente gekom oor waarom dit 'n dwase besluit sou wees. Die rektor krabbel terug na die persverklaring en omsendskrywe wat ek in die nag van 12 November gelees het en 'n e-pos waarin hy deur die studente toegejuig word oor sy taalplan wat nog nie deur die raad of senaat goedgekeur is nie. Een e-pos van studente word selfs met 'n Amandla afgesluit. Die senaat moet eers só 'n beleid goedkeur en 'n mens maak die afleiding dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie. 'n Raadslid het immers in die pers hiervan kennis geneem.

II

'n Mens onthou hoe daar 'n paar maande terug in die pers berig is (op 'n Sondagoggend in Rapport) dat die Geesteswetenskappe voortaan in Engels sou kommunikeer. Na skerp reaksie is dit ontken, teruggetrek, weggepak, toegedoek. Die jongste besluit het 'n lang geskiedenis (as ek reg onthou): dubbelspraak, 'n voormalige rektor se skuinspraatjies, lekkasies uit die Raad waar een ding besluit word, en in die werklikheid iets anders. Ons het deur die jare verskillende taalplanne aangehoor: T-opsie, tolkdienste, parallelle medium-onderrig; alles woorde wat volgens my strategieë was om Afrikaans al hoe meer uit te rangeer. Hermann Giliomee en Marié Heese (volledig tweetalig en ingelig oor taalonderrig) het telkens gewys op die gevare van verengelsing indien die kwessie van moedertaalsprekers nie in ag geneem word nie. Dus: jy het 'n student wat nie Engels is nie, wat onderrig word deur 'n dosent vir wie Engels eweneens nie 'n eerste taal is nie. Self was ek al by lesings waar hierdie interaksie tussen dosent en student in die sogenaamde "common language" nie deug nie.

III

Daar word toenemend gepraat van "dekoloniseer ons universiteite" en 'n ander mantra is destabiliseer witheid.  (Al wanneer ek bereid is om witheid te destabiliseer, is wanneer ek 'n bottel wit wyn oopmaak.) Hoe ironies dat mense wat universiteite wil de-koloniseer, dit juis doen in die taal van kolonisering. Engels is nie net 'n taal nie; dis 'n magsbasis. Die jongste taaldebat, eerder taalherrie, dui ook daarop dat dit nie net om Afrikaans gaan nie, maar meertaligheid ontken en minag. Boonop word daar 'n Bestuur (die kollektief vir Outoriteit) besluite geneem, terwyl gesiene taalkundiges soos Neville Alexander, Raj Mesthrie en Ana Deumert sou kon help met die aanspreek van hierdie taalkwessie. Alexander se werk bly 'n baken; en laasgenoemde twee linguiste is verbonde aan die UK en sou 'n buite-blik kon gee. Aan die US is daar eweneens gesiene taalkundiges, taalpraktisyne en woordeboekmakers wat sou kon hand bysit.

IV

Maar as 'n Bestuur dit nodig ag om die kar voor die perde in te span, dui dit daarop dat 'n politiek korrekte besluit swaarder weeg as 'n kulturele een. Waarom moet die komplekse kulturele samestelling van 'n kampus vereng word? Afrikaans is Kaaps; daar is tsotsitaal; Moeslem-Afrikaans; Facebook-Afrikaans, Stellenbosch-Afrikaans, ensomeer: maar dit is veral 'n wetenskapstaal en 'n taal met kreatiewe uitsette ('n lekker universiteitswoord) met bekroonde en internasionaal gerekende skrywers. En 'n hele paar woon op dáárdie dorp. Dit is eweneens 'n ruimte waar woordeboekmakers woorde opteken en bewaar. En kundige vertaalkursusse aangebied word.

V

In een omsendskrywe word Afrikaans met vier a's gespel.  'n Verskrywing wat dui op die druk waaronder die skrywer was. Waarom, vra 'n mens jouself af, na hierdie jaar van etlike krisisse (waarvan geen universiteit in die nabye toekoms gaan herstel nie), moet die aankondiging teen latenstyd gemaak word? Dit, terwyl dosente bereid is om uitgestelde eksamens te akkommodeer, etlike aanpassings maak met betrekking tot verlof, ekstra lesings gee, studente bystaan, e-posse uitstuur om nóg 'n krisis af te weer. Administratiewe personeel se werkslading het eweneens verdubbel met die uitstel van eksamens.

Boonop word dit in die pers aangekondig op Vrydag die dertiende.

Krisisbestuur of 'n berekende stap? Maak die aankondiging wanneer almal reeds vuis- en media-voos is van brandende klaviere en traanrook. 'n Senaatsvergadering met waterbottels wat deur die lug vlieg. En nog 'n # op 'n ondeurdagte wyse deur die media flits. Slagspreuke eerder as denke.

Heyneke Meyer se ongewildheid word tans net deur  professor Wim de Villiers se omstredenheid getroef.



Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.