Wednesday, September 2, 2015

Joan Hambidge - Lady Gaga [Gedig]


Lady Gaga
Joan Hambidge

"Doen wat julle wil
met my lyf", tart sy
'n Marilyn-konterfeitsel.
Soms dra sy selfs 'n vleisrok
wat lyk soos Parma-ham
opgehang in 'n egte Italiaanse restaurant.
Sy wys hoe rou haar binneste lyk,
dié moderne fenomeen.
Vlees stulp uit, waarsku Lacan immers,
jou binneste klont op jou lyf.
Marilyn dalk geteel met Madonna?
Dog outentiek in haar nadoen
van ander ikone, vertolk sy
selfs Julie Andrews se songs uit
The Sound of Music op 'n Oscar-aand.
Wat sal ons doen met hierdie probleem,
genaamd Lady Gaga?
Is sy bloot krieselrig, 'n gaga,
of 'n ware embleem
wat in oordrywing
met springteuels ry?
Laat ons nie haar stertvlere uitpluk nie:
Lady Gaga die na-aper
is uniek en kostelik:
so geen sout op haar vere,

sy is iets vir die fynproewer.