Friday, July 3, 2015

Joan Hambidge - ‘n Nota by Alexander Strachan se Brandwaterkom



I

Alexander Strachan se roman Brandwaterkom is ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met ‘n besoek aan Dwaalpoort.

Die kuns van ‘n geslaagde historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?

Arthur Blake se Boereverraaier is onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers? Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk. Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na vore.
Gaan lees die gedeelte oor Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.

In ‘n rubriek skryf Max du Preez insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)

II

Strachan gee ‘n komplekse beeld van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis uitgekryt is.

Hy laat die roman ook eindig sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en diens doen in ‘n gemeenskap.

En dis goed dat die roman eindig waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met verskillende kante.

'n Werklike goed geskryfde romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van 1962  - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert - oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel van 'n houtpop.

Mieke Ball se Mensen van papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics (1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of the Folktale.

In Strachan se roman is die quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan lees verder op oor hierdie komplekse figuur.

En wie, wonder 'n mens, sou Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?



© Joan Hambidge