Monday, March 9, 2015

Onderhoud:Willem de Vries gesels met Joan Hambidge oor haar jongste bundel, Matriks


Is die manier waarop die bundel saamgestel is iets meer as wat die ­individuele gedigte weergee?

Dit is ’n eenheidsbundel waarin ek die verskillende betekenisse van die begrip matriks ontgin, soos die leser kan aflei uit die gedig “Doubling the point”.

Gedigte binne bundelverband kry altyd ander betekenisse wanneer dit ’n familieskap sluit met gedigte róndom hulle. Só wen hulle aan betekenis.

Dit bly egter die leser se ­voorreg om gedigte saam te snoer en Keanu Reeves te speel.


Wat was vir jou rigtend toe jy die verse van Matriks georden het?

’n Titel is die rigtingwyser waaromheen ek die gedigte ­uitbou. Dit is die bouplan vir die katedraal waaraan ek werk.

Die bundel het oor ’n lang ­periode beslag gekry. Verse wat uit ander bundels gehaal is, kon hier ’n rusplek vind. My belangstelling in psigoanalises, let op die meervoud, het my by ­her­­­haling na die belangrikheid van die matriks geneem.


Vertel asseblief van die omslagbeeld en hoe dit met die inhoud skakel.

Ek neem altyd deure af in vreemde ruimtes en hierdie prag­tige deur het mý afgeneem, soos iemand opgemerk het. Ek het eers later presies gesien wat alles daarop uitgekerf is: die hele lewe is hierin op­gesluit, soos die moeder en kind, die priester, die geliefdes, foltering . . .

Al die belangrike argetipes dus.

Ek het die foto – ’n gelukskoot – afgeneem op ’n deur in Ljubljana op ’n reis ver­lede jaar deur Serwië en Kroasië. Die deur se straatnaam kan die speurende leser opmerk. Dit staan na regs.

Ek gaan haal my gedigte ver, het T.T. Cloete eenkeer vir my in ’n e-pos geskryf. In vreemde ruimtes is dit net jy sonder die stutte en beskermingsmega­nismes wat jou dikwels wegneem van belangrike sake.


In hoe ’n mate is die verse in ­hierdie bundel ’n bewuste (en ­kritiese) spel met syn en skyn, fiksie en feit? Die gedig as ­ego­dokument lyk vir my op die voorgrond in van die verse.

Die gefiksionaliseerde ego ­eerder, ja. Die ek wat namens ander praat. Stem gee aan die oorledenes, die selfdoders, ­kunstenaars (soos Robin ­Williams) wat my aanspreek.

Egodokument? Gedigte is nooit egodokumente nie; dan slaag dit nie. Dagboekinskrywings is eerder egodokumente. Die poëtiese ek is nie gelyk aan die werklike ek nie. Hierom ­fiksionaliseer ek dan ook deur ander digters ­gesprekke met familie. ’n Gedig is nie ’n getuigskrif nie. Die ­gedig word ’n “objective correlative”, ’n masker waaragter die “ek” skuil. Hierom word die digter ook as akteur voorgestel.


Die digter van Matriks knoop ­bewuste gesprekke in verse aan met ander digters en kunstenaars in ander genres. Vertel van jou hantering van hierdie soort gesprek. In hoe ’n mate verskaf ander digters se werk slotte om verse te ontsluit?

Slotte is ook sleutels, het ’n ­digter ons geleer. Kyk na die sleutel op die voorblad! Dit lê in die leser se vermoë om inter­tekste of gesprekke te ontsluit. Maar die gedig laat haar nie vaspen nie.

My gesprekke – met Opperman en Eybers – wys op die ­familieskap van die digkuns. Ook met ander bekendes: Wallace Stevens en Emily Dickinson. En ek spreek Johann de Lange ook aan, ’n werklike vriend, maar ook digterlike broer.

Dit gaan hier in die eerste ­instansie om die matriks van taal, die chora, soos Julia ­Kristeva dit tipeer. Marlene ­Dumas se skildery oor Marilyn Monroe aktiveer die gesprek met al die gedigte, binnelands en buitelands, oor hierdie ­ikoniese figuur.

Sintuie is werktuie, het ­Opperman geleer. So hoe maak jy ’n abstraksie of idee konkreet? Daar is ook foto’s by gedigte om die onmag van woorde te aktiveer.

Soms kan die foto of afdruk wél die gedig oorweldig; hierom is ek afgeraai om die ­foto van Reeva te gebruik. Marilyn se lykshuisfoto is versag deur ­Dumas. Die tyd het waarskynlik al sand hieroor gewaai.


In die lykverse in hierdie bundel gaan dit telkens om die manier waarop die popkulturele sowel as persoonlike geheue werk, ook die soort verhale- en mite-matryse wat resoneer met die mense oor wie jy skryf. Waar pas dit in by die geheel van die bundel, in ­hierdie matriks?

Ek het ’n bundel, Lykdigte, in 2000 gepubliseer. En die lykdig as vorm lê my na aan die hart se skrif. Gedigte skryf, is ­joer­naal hou van die tyd ­waarbinne ons leef en ek ­probeer iets ­vasvang in ’n ­vervlietende en moeilike tydsgewrig waar ons weens tegnologie te veel beleef, te veel sien, te veel weet . . .

Toe Charlie Hebdo gebeur het, kon ek dit alles volg. Dit het my agtervolg tot in ’n hotelkamer in Buenos Aires.

Om te leer om ’n digter te word, is om die lewe te ontleer, aldus Michel Houellebecq . . .

Daar is verdraaiings en ­ver­talings ook, want die onbewuste is in Lacan se terme, teen­strydig. So wat ek hier skryf, mag elders anders uitloop . . .

Só lui die openingsgedig, ­“Matriks”:

Ek is ek is op
my eie sofa
my eie analis 
luisterend 
na die analisant 
vis na klarigheid 
Ek is ek is 
op soek na stilte 
dansend derwies 
Rumi in ’n sirkel 
Ek is ek is 
op weg van pyn 
mis- 
lukking 
ingeslukte woorde 
my tong uitgesny 
Ek is ek is 
op pad om te sien 
hoe die digkuns 
se ­matriks 
die gietvorm
 moedervorm
 deur letterparades 
van die Ek 
ontset word

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)