Thursday, January 22, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel XIII: Afloop

Volmaan bo Kaapstad

DEEL XIII

Afloop

So begin 'n mens dan voetjie-vir-voetjie weer deel van jou nuwe ruimte. Slapeloosheid (want die liggaamsklok is deurmekaar geskommel) is jou voorland en die realiteit van werk en liassering. Die tasse word uiteindelik uitgepak ...


Reis as klad poetica

JdL

Vroeër sonder om te weifel die hotelkaart ingevul,
selfs my paspoort onder by ontvangs gelaat,
die deur snags soms gegrendel, soms oopgelaat.
Selfs digby 42nd Street vertoef in 'n hotel bedenklik.
Nou word alles haarfyn beplan met reisbrosjures,
selfs koepons, 'n tas wat met kodenommer sluit.
My onuitgepakte tasse weifelend, opgevul
met indrukke, biljette, 'n faux-Peso-noot vir dobbel.
En hieruit mag ek dalk, as jy fyn kyk, 'n gedig maak.
Wat behoef jy? 'n Distigon? 'n Gebreekte sonnet
of 'n vierreëlige "weerlig van die ongeloof"?
"Skei uit", hoor ek jou grom, "ek soek 'n akwarel
vir die dors, 'n gedig as kladpapier wat die hele Iguasso
met een diep intrek van asem omskep in 'n waterwoestyn!"

*

Old keys on letter © Garry Gay

By herhaling keer jy terug na jou bundel Verdraaide raaisels en alles val uit tussen 'n toe en 'n nou. 

Onbegrypbare raaisel

My liefste, ek dra jou met my
saam op my paspoort, my instapkaart
na nuwe stede en ervaringe.
By elke doeanepunt word my siel
geëndoseer met herinneringe aan jou.

My liefste, jy dra my met jou
saam in beelde in jou daaglikse roetine
van opnames maak, foto’s neem.
Met elke roetinetaak word jou siel
gefotografeer met gedagtes oor my.

Ons dra mekaar onbegryplik en raaiselagtig
saam van dag tot dag op verskillende kontinente
en ek sien jou mond – ‘n groot bloeinde wond –
en weet: na jou moet ek terugkeer – terstond.

Santiago

Die sloom hitte van Buenos Aires maak plek vir 'n droë, uitmergelende Kaapse hitte. Die dakwaaier is aan. Jy sien jou vriende en in jou herinneringe kom die hoogtepunte terug ...

Die volgende reis: dalk die Orient Express?

Santiago de Chile?

Antarktika?

Jy begin dink oor 'n nuwe bundel: Indeks.


Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.
Shelley

Daar was 'n tyd
wat ek sonder slag of stoot
'n versreël of inval
netjies kon ómtower in 'n aanklag
of 'n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog.
En digterlike vriendskappe:
laatnag gesprekke oor Neruda
en Sheila Cussons en Opperman
as leermeesters vir die drif
en óndaad van die digkuns.
Die anatomie van melancholie
met sjirurgiese presisie,
dié kon ek ontleed en ja,
vreesloos daardie donker labirint betree.
Vér en lank gereis in verdraaide raaisels
en telkens voor dooiemansdeur gestaan.
Die mossteppe of toendras
soos 'n skeeloog mulatto betree.
En kriptonemies op 'n hondegaloppie
gedraf in die skoene van die Groot Vyf.
One-two cha-cha-cha
kritikasters se parabole gesystap
op pad wég, haha Houdini.
Oor haar, 'n sy, nes Petrarca,
daardie obsessionele woordvraat,
veelversig gecanzonier.
Nou is dit helaas beurtkrag
met die digterlike proses.
'n Gedig word onderbreek:
bly broeiend ónafgerond,
nes reptieleiers in 'n rivierbedding
waar mummelende mulvisse
eens vertoef het néffens muisvalke.
Dié gedwonge beelde stip alreeds
die onmag en woordelose frustrasie aan.
Miskien, miskien sal my beelde
weer eendag helder skyn.
Soos 'n wolk van gevlerkte slange?

Wat 'n wonderbaarlike reis. My volgende reis sal na Chile wees en via Buenos Aires sal ek weer kyk, terugkyk, herbesoek vir 'n opname, 'n indeks ...

© Joan Hambidge