Monday, December 8, 2014

Joan Hambidge vertolk 'n SMS-gedig


die sterre sal ek vir jou snuit
soos advent-kerse
& met was skryf ek verse

Johann de Lange

Presies wanneer word ‘n uiting ‘n gedig? Johann de Lange stuur op ‘n aand hierdie gedig in drie sms’e aan my. So word die drie boodskappe ‘n gedig, ‘n mini-vers as ‘n mens dit saamsnoer.

T.T. Cloete het by geleentheid in Literator uitgebreid geskryf oor N.P. van Wyk Louw se kort gedig in ‘n artikel getiteld “Een gedig is meer as een” (Besoek 8 Desember 2014):

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Hierdie klein vers uit Klipwerk analiseer hy op ‘n besondere wyse.

Hierdie e-pos-gedig van De Lange is gestuur op die 7e Desember en die advent dui op die voorbereiding vir Kersfees met die viering van Jesus Christus se geboorte. Adventus (latyn) beteken letterlik aanbreek.

Reël 1 die sterre sal ek vir jou snuit
Reël 2 soos advent-kerse
Reël 3 & met was skryf ek verse

Die sterre sal die spreker vir die jy, ‘n aangesprokene, dooddruk soos advent-kerse. Uit hierdie proses sal die was van die kerse gebruik word om verse te skryf. Die kerse word vergelyk met die sterre, die uitspansel (die metafisiese?). Advent representreer die religieuse dimensie en die geboorte van Jesus wat ons Westerse tyd bepaal. Jesus impliseer ook verlossing vir die Christelike mens. Dus teenoor die uitspansel (sterre) wat tydloos is, is daar advent wat in ‘n spesifieke tyd gesitueer is:

Advent is the beginning of the Western liturgical year and commences on Advent Sunday. At least in the Roman Catholic, Anglican, Lutheran, Moravian, Presbyterian and Methodist calendars, Advent starts on the fourth Sunday before December 25, which is the Sunday between November 27 and December 3 inclusive (Advent - Wikipedia, thefree encyclopedia), Besoek 8 Desember 2014).

Uit hierdie twee opposisies, te wete, tydloos teenoor tyd, word verse geskryf. Daar is drie dimensies aanwesig in hierdie gedig: tydloos (ewig); religieuse belewenis en die viering van Kersfees wat ‘n spesifsieke tyd impliseer; skryf (stolling; durend; iteratief-duratief) en die digter versend hierdie boodskap in drie verskillende e-posse laatnag en hierdie leser plaas dit dan saam en maak hiervan één gedig. Die digter verjaar ook in Desember.

Cloete wys in sy artikel hoe die onvoltooide gedig met "oop plekke" werk en dat sulke kort gedigte met vermenigvuldigingsplekke geskryf is. Die afwesigheid van leestekens gee uiteraard ook meervuldige interpretasies aan die gedig.

Soos Cloete dit stel: “Deur die afwesigheid van leestekens en sekere hoofletters kan Boerneef se gedig vermenigvuldig word. Nou kan ons as lesers hoofletters en leestekens inlees. Goeie gedigte sê immers nooit alles nie.”

Hy verwys na hierdie vers van Boerneef:

Waar skuil ek teen die son se steek
op hierdie Krovlak sonder bome
is dit net opgeefsel en brand
of panne blink van klip en sand

In sy analise van Louw se gedig lees hy etlike betekenisse en opposisies in, onder andere ook die opposisie tussen lewe en dood.

Hy skryf: “‘n Gedig is ‘repetitive form,’ korrespondensie met variasie, soos in die musiek; dink aan Mozart se sonates, of nog opvallender, Ravel se Bolero. Daarom is die kleinste moontlike gedig ‘n gedig van twee verse. Van Wyk Louw het in Nuwe Verse so ‘n klein, maar vol en ryk gedig van net twee verse geskryf (die eerste gedig in die Klipwerk-reeks) met ‘n begin en einde wat sintakties aan albei kante oop is; iets ontbreek aan albei kante:

dat akkers op die sinkdak val
en vye op die ringmuur breek

Albei verse het presies net ses woorde. Ons kan die ‘en’ waarmee vers 2 begin, vervang met ‘dat’ sonder dat ons die gedig aantas. Ons kan die ses woorde (dieselfde aantal sillabes) van elke vers vertikaal onder mekaar plaas. Dan is daar duidelike korrespondensie met variasie, én daar is groei in die gang van die gedig".

Akkers wat staan vir durend (ook vir die dood) teenoor vye wat seksualiteit aktiveer.

Cloete se uitmuntende analises het my geïnspireer om hierdie vers van De Lange saam te plaas en te interpreteer:

die sterre sal ek vir jou snuit 
soos advent-kerse   
& met was skryf ek verse 

‘n Toevallige laatnag-boodskappe (in drievoud) word ‘n ars poëtica met die slotreël wat suggereer dat die skryfproses heling bring. En dat daar met advent tog verlossing en hoop opgesluit is vir die spreker ...

‘n Private sms word in ‘n nuwe konteks ‘n gedig.

Joan Hambidge