Monday, October 13, 2014

Koos Kombuis - rock & roll.karoo (2014)



Koos Kombuis - rock & roll.karoo. M & S Boekdrukkers, 2014. ISBN 978-0-620-62716-0
Resensent: Joan Hambidge

Die digter vra in die kolofon dat die leser hierdie e-boek nie sal aanstuur nie. Die digter vra pertinent dat die leser eerder sy eie eksemplaar sal aanskaf en die harde werk sal eer.

Goeie genugtig.

Die bundel word aan Etienne opgedra, en dit is waarskynlik Etienne van Heerden, met wie Koos Kombuis gedebuteer het in Brekfis met vier in 1981.

Toe was Koos nog André le Roux-du Toit; Daniel Hugo en Peter Snyders was die ander digters. Die uitgewer was Skoppensboer.

Inmiddels het Koos ’n huishoudelike naam geword, satiriese romans geskryf – soos Suidpunt-jazz (1989) en Somer II (1985) – en veral bekendheid verwerf as musiekmaker. Daar was ook Raka: Die roman (2005), ’n wrang satire.

Hierdie jongste e-digbundel wals met Groot Verseboek en etlike ander bekende Afrikaner-eiesinnighede.

In die hand van Koos Kombuis word daar ’n aweregse blik gegee op die hier-en-nou en swaarwigtige kwessies word ontluister. Die @-teken is daar, nes = en ander rekenaar & internet-simbole.

Soms mis ons ’n konvensionele kappie of ’n deelteken het weggeval . . .

Dis geen groot poësie nie, maar ’n heerlike internetwals sonder gal, maar met sosiale kommentaar.

I

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie,
gebreekte liedjies.
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug
@ poësie.
poësie is d koraalriwwe v kuns.
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie,
verarm deur d opkoms v rock’nroll,
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier.
ek = mal vir poësie. (5)

So plesierig gaan dit:

@ my ou ramkiekie
met net 1 toep
speel ek i/d maanlig
@ my stoep
ek speel v al d sterre
i/d wye lug daarbo
n lied v al d aliens
@ d groot karoo (37)

’n Mens sou vir jong studente kon vra: Waar is Totius, Leipoldt, Opperman (onder andere die ou weduwee Viljee) en al die ander grotes weggesteek in hierdie bundel?

(Die aanhaling toegedig aan Ezra Pound is helaas van Eliot . . .)

Die digter sien homself as ’n Dias van die gees.

Nou onlangs het die digter opslae in Brittanje gemaak met ’n wit-gedig (Cambridge University students speechless over Koos Kombuis’s blank poem) en ons vind hier woordeksperimente soos:

XVII

o brannewyn laat my staan
“ “ “ “ “ gaan
“ “ waars d maan
“ “ eks gedaan (21)

Gedigte klink asof dit in ’n vinnige SMS-taal geskryf is. Maar dit is ’n opsetlike eksperiment, hierdie aanslag. En selfs “Die Stem” word geparodieer:

VIII

(gelofteland)
@ d blou v onse hemel
@ d diepte v ons C
@ onsgebergtes
waar d kranse antwoord G

Dit is ’n bundel vir al Koos se fans. Hy lewer aweregse sosiale kommentaar: Karoo-fracking word aangespreek, die soeke na stilte, oudword, die dood . . .

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Netwerk24)