Monday, September 1, 2014

Reaksie. Ons moet akademiese standaarde eer

Pallo Jordan

Die Burger, Vrydag 29 Augustus 2014

In ’n land waar die argumentum ad hominem en die argumentum ad misericordiam tot ’n fyn kuns volvoer is, lewer ek hiermee kommentaar op Pallo Jordan se fantoom-PhD.

’n Rubriekskrywer het reeds gewys op die harde werk wat ’n doktorsgraad opeis en die beoordeling (eweknie of portuur) van akademiese artikels daarnaas.

Ek wil Jordan nie persoonlik aanval nie. Ek het hom eweneens eenkeer ontmoet aan die UK en hom uiters gaaf en afgerond gevind. (Daar is die menslike komponent nou.)

Om die politieke ongelykheid en ongeregtigheid as verskoning aan te bied (nou beweeg ons na die misericordiam of die sogenaamde pity-gedeelte) is ’n blote aanspraak op emosies.

Die simboliese betekenis van ’n doktorsgraad aan ’n universiteit kan nie ontken word nie. By gradeplegtighede word die bydrae van die kandidaat immers vermeld – gewoonlik in ’n gedrukte weergawe met ’n vermelding van die promotor.

Die eis in sekere kringe dat Jordan nou ’n eredoktorsgraad moet kry vir sy intellektuele werk, is eweneens omstrede.

’n Eredoktorsgraad is ’n toekenning vir lewenswerk binne ’n gemeenskap. Senior lede van universiteite kyk na CV’s, die bydrae van ’n persoon op ’n sosiale of akademiese gebied.

Hoe sou ’n mens ’n eregraad toeken aan iemand (en nou kyk ons net na die CV) wat jakkalsdraaie gooi?

Andrew Donaldson het dit netjies opgesom toe hy verwys het na die Franse filosoof Jean Baudrillard se siening van die betekenis van ’n vals Rolex ("Dr" Pallo Jordan and the "so what?" question - PoliticsWeb).

Ons maak almal stemme dik wanneer ons oor vals horlosies of nagemaakte brands om die bos gelei word. Dink net hoe verwoed moes die Polo-klerewinkel in die Waterfront nou onlangs verduidelik oor sy logo wat van die Amerikaanse een verskil.

In ’n post-postmodernistiese tydvak eis ons steeds erkennings, voetnote en endnote; behalwe as dit reeds in die openbare domein is.

Die emosionele verduidelikings van Jordan se optrede van akademici (soos oor sy vader se lot in die ou bestel) kan niks regmaak nie. Daar is geen leedvermaak in my skrywe nie, net die versoek dat ons akademiese standaarde in besonder troebel tye moet eer.

Joan Hambidge
Kaapstad