Wednesday, September 10, 2014

Adriaan Coetzee - Gordel (2014)


Adriaan Coetzee - Gordel. Protea Boekehuis, 2014. ISBN 9781485301011.

Resensent: Joan Hambidge

Adriaan Coetzee het in Nuwe Stemme 5 gedebuteer en is die eerste digter wat sy eie stem dik maak.

Gordel is sy solodebuut en dit ondersoek die wêreld van die Wes-Rand en die jeugjare teen die Magaliesberg. Die bundel begin met ’n Bybelse motto en die saampraat met die Bybel en herdigting daarvan is ’n duidelike leimotief in hierdie bundel.

Die motto is uit Efesiërs 6:14: “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas.”

Die sogenaamde “vergange werklikheid” aktiveer altyd die nostalgie en van die grootste gedigte in die literatuur het uit hierdie aanslag of stylfiguur ontstaan: Pablo Neruda se jeugrekantasies; nader aan ons N.P. van Wyk Louw se herinneringe aan sy Sutherlandse jeug en ’n mens dink hier aan die grootse gedig “Beeld van ’n jeug: duif en perd”. Hierdie soort gedig vereis dan ’n ouer, vernugterde persoon wat terugkyk na die ruimte van die jeug as ’n plek van onskuld of betowering. Of dikwels ook van implisiete geweld of stilte.

In die gedig “Moenie jou verlede Google Earth nie” (29) kry die digter dit reg om hierdie herinnering perfek op te vang in die tyd van die “noodtoestand en kindwees”.

In hierdie soort gedig vind die leser ’n dubbelfokus: tussen toe en nou; onskuld en ontnugtering met ’n digter wat oor die “vergange” of verdwene lewe skryf. Tog moet dit steeds in dwingende beelde opgevang word om te oortuig as gedigte.

Die programgedig wat die leser moet rig tot die lees of oopmaak van hierdie bundel kom reeds nie die mas op nie. Dit is stokkerig, moeisaam met twee keer die gebruik van die lomp wat-konstruksie.

Die bundel vir my gevoel is nog nie deurgekomponeer of “af” nie. Hier en daar vind ons treffende versreëls soos “Bykans elke paalpriester in die dorp verkoop ’n volkleurdroom” (16), “ ’n fees onder die ink” (24).

In die gedig “digter word” (23) word die titel verklaar in ’n bundel wat amper-surrealisties in aanslag is. Verse is dikwels ellipties – is dit ’n digterlike tegniek of is die verse nog nie uit die verf nie?

Daar is gesprekke met bekende digters – onder andere Wilma Stockenström en Peter Blum – wat dui op ’n kennisname van die digterlike tradisie waartoe hy behoort.

Die gesprek met Blum is satiries en is een van die min geslaagde verse in die bundel (“Djong tik-dealer”, 40). “laat die kind kom” (45) met die Bybelse verwysings en inspeel op Leipoldt, is eweneens ironies in die naasmekaarstelling van die digkuns en politieke geweld. Leipoldt en sy sieninge oor die Anglo-Boereoorlog prut hier saam met die ander noodtoestande wat ons tans ervaar.

“afsêbrief” (51) maak ’n onthoubare stelling oor die liefdesgedig en “vryheidsmanifes” (53) is ’n digterlike kredo en manifes oor menswees. Een van die duidelikste invloede in hierdie bundel is Wopko Jensma met die ikoniese spel “laat i indruk” (66) en dit gee aan die bundel die aanslag van ’n soort ontginning van skisotaal. En hier sou ’n mens weer die Franse teoretici Gilles Deleuze en ­Félix Guattari se Anti-Oedipus kon nadertrek en lees oor die opstand teen gesag. Die verwysing na “woordslaai” en die opbreek van taal, hoofletters en verandering van die tipografie wys hierop. Begeerte-as-produksie en skryf as ’n ontginning van dit wat teen kapitalisme en gesag is, word in Gordel ondersoek. Maar selfs die anti-stem moet steeds digterlik oortuig...

So klink die gedig “Ja ek kan”:

Ja ek kan
Jy mag nie ’n digter se woorde begeer nie
Jy mag nie sy leksikologie begeer nie,
ook nie ’n metafoor of muse,
’n prul of ’n praat,
of enige ander poëtika wat aan hom behoort nie.

’n Navrante kommentaar op die intertekstuele spel en die soeke na oorspronklikheid.

Daar is eweneens ’n spel met die ­ikonisiteit van die gedig en soms word die tipografiese aanbod van ’n woord groter asof die digter die leser wou uitnooi om op die woord as sodanig te konsentreer (soos op bl. 43).

Om op te som: daar is ’n hand vol gawe verse en die ontginning van anti-taal en skisotaal maak daarvan iets “nuuts”. Vir my gevoel is te veel verse nog nie genoegsaam in sy taalmoontlikhede ontgin of deurpriem nie. Terselfdertyd wil die digter dalk die leser buite die “handbreedte van begrip” hou? Dit wou e.e. cummings en gert vlok nel ook doen – met groter sukses.

Die digterlike gordel sal ingetrek moet word en meer aandag moet gegee word aan vorm, want anders gaan hierdie digter deur sy Leser verlaat word, soos hy uitroep op bl. 76.

Ten slotte ’n vers, “digter word”, 23:

digter word
digter word is duisende dae aaneen
die liefde van jou lewe op ’n afstand bemin
en dieselfde aantal nagte daarby
haar ontoereikende skoonheid besing
en op ’n goeie dag met ’n bietjie geluk
sal sy jou lomp oë skalks vang
en jy haar lushof hartlik binnegaan
min wetend
sy’t ’n kuisheidsgordel in die mik

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)