Tuesday, June 24, 2014

Charl J.F. Cilliers - Behind the view (2014)


Charl J.F. Cilliers, Behind the view. Malgas Publishers, 2014. ISBN 978 0 620 60894 7
Resensent: Joan Hambidge

I

Kort op die hakke van Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof en Hennie Aucamp se Skulp verskyn Charl J.F. Cilliers se bundel Behind the view, 'n selfpublikasie. Ondertussen is daar ook die vertalings en herdigtings van Daniel Hugo van Omar Khayyam se Rubaiyat. Aldrie Afrikaanse bundels het by Protea verskyn.

A.P. Grové se Woord en wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm. Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg hiervan kry ons 'n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met 'n spaarse gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming en kommentaar.

Vir my is daar 'n handvol – sowat 28 kwatryne – wat werklik uitstekend is. Die wat my persoonlik geval het, is veral gedigte wat handel oor die skryfproses.

Die vraag is – en ek het dit al vantevore gevra – waarom moet so 'n uitstekende digter sy eie gedigte publiseer?

Dis 'n pragtige bundel en dit is 'n skande dat die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde hom nie na waarde skat nie.

II

Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke aard. In The anatomy of poetry wat in 1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos volg na hierdie digvorm:

"any metre with lines rhyming in sets of four. The possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba." (144)

Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:

(a)  common measure": hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of abcb. Coleridge se "The Ancient Mariner" is hiervan 'n voorbeeld;
(b)  long measure": hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se "In Memoriam" is bekende voorbeelde;
(c)   short measure": kwatryne met 6.6.8 en ses sillabes met die rymskema abab of abcb;
(d)  the 'Omar Khayyam'-quatrain": hier vind ons die jambiese pentameter met die rymskema aaba;
(e)   the 'Gondibert'" oftewel 'Elegiese' stansa waarvan Gray se "Elegy" 'n voorbeeld is.

Ottone M. Riccio in The Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het, sien dit so: die verskil tussen die "hymnal stanza" en "envelope stanza" (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter.

So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

III

Dikwels lewer die gedigte in Behind the view kommentaar op die skryfproses en is dit meditatief in aanbod. Dit is 'n moeilike vorm om te beheer, omdat elke woord op sy plek moet wees.

Die digter werk met ryme en halfryme. Hy gee ook aandag aan metrum en ritme. Die gedigte is selfrefleksief, selfs meditatief, oor die aard van die kwatryn.

Poetry

Poetry, as we all know,
can only change the status quo
inasmuch as words can hope to show
more deeply what our hearts already know. (79)


Where do longings go?

Where do longings go
when what was longed for grows
too faint: image without sound,
ache without a wound? (81)


Quatrain

I started writing this quatrain
and now only three lines remain -
the damn thing's going down the drain
because I know the last rhyme is inane. (80)

Dit is net 'n behendige digter wat so selfrefleksief kan speel met die vorm van die kwatryn. Opperman het eweneens in sy gedigte gespeel met die konvensies van vorm. Hoe dit jou inperk, maar terselfdertyd nuwe moontlikhede laat ontdek.

Wild fig

Is the quatrian too small
for the wild fig tree?
Will it grow so broad and tall
more words would be necessary? (45)

Uiteraard is dit dan wat dikwels in die gemoed van die leser gebeur. Die gedig mag klein in omvang wees, maar die interpretasie-moontlikhede is oneindig. Is hier ook 'n toespeling op die wilde vy van die Bybel? Is daar 'n verwysing na die onmoontlikheid om iets groots in 'n klein gedig te verpak? Sou 'n mens al die interpretasies wou aktiveer, sou die gedig nie meer 'n kwatryn wil wees nie!

Die digter het kennis geneem van die moderne wêreld en sy bedreigings soos in hierdie gedig:

Modern sounds

Everything now is a sound-bite.
Rhythms have disappeared.
There's little sense in a flash of light,
no symphony in a single chord.  (23)

Die digter is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat:

Words

Words in which we live
in so many guises
trying so often unsuccessfully to give
tongue to something that surprises.  (22)

Behind the view is pragtig uitgegee - met 'n blom op die voorblad.  Charl J.F. Cilliers is nie alleen 'n uitstekende vertaler nie, maar ook 'n digter om van kennis te neem. Oor die digter se Collected poems het Henning Snyman indertyd geskryf. Dit staan opgeteken op die agterblad: “Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde”. Hierdie wyse woorde is ook op die jongste bundel van toepassing.

Bestel van die digter: franban@mweb.co.za


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Sunday, June 15, 2014

Damon Galgut - Arctic summer (2014)



Damon Galgut - Arctic summerUmuzi, 2014. ISBN: 9781415206898
Resensent: Joan Hambidge

 E.M. Forster

I Vooraf

In 2003 word E.M. Forster se onvoltooide roman Arctic Summer gepubliseer. Hierdie teks is tussen 1912 en 1913 geskryf. Forster se bekendste romans is Where Angels Fear to Tread (1905), The Longest Journey (1907), A Room with a View (1908), Howard's End (1910), A Passage to India (1924) en Maurice (1971, postuum). As teoretikus het hy bekendheid verwerf met Aspects of the novel, wat in 1927 verskyn het. Sy romans is ook al verfilm. David Lean het A Passage to India epogmakend in 1984 verfilm. James Ivory het op sy beurt A room with a view in 1985, Maurice in 1987 en Howard's End in 1992 verfilm. Daar is ook ander filmmakers.

II Gesprekke, nabootsing, palinodes

Damon Galgut

So pas verskyn 'n roman van die gerekende romanskrywer Damon Galgut en dit heet Arctic Summer, wat die subtitel “a novel” dra. Die titel van die onvoltooide fragment deur E.M. Forster word nogmaals as titel gebruik. So 'n paar jaar gelede het verskeie romanskrywers Henry James tot onderwerp verklaar, en die inskryf teen of "voltooiing" van 'n skrywer se werk is algemeen bekend.[1] Julian Barnes se Flaubert's parrot (1984) werk immers met die kodes van Flaubert se teoretiese sieninge van die roman en hoe dit in sy romankuns uitgebeeld word.

Ons dink ook aan JM Coetzee se The Master of Petersburg (1994) en die gesprek met Dostojefski. Galgut tree behendig in gesprek met Forster, 'n skrywer wat bekend was om sy uitbeelding van klasverskille, onbeantwoorde liefde en onderdrukte homoseksualiteit. Sy romans werk ook met simbole wat die onderliggende boodskap konkreet voorstel. Hierdie roman is 'n soort faux-biografie.

Julian Barnes

Om so 'n roman te voltooi of 'n ander skrywer te kan naboots, moet die skrywer uiteraard iets van die tydsgees, styl en lewensuitkyk van die skrywer opvang. Ingrid Winterbach tree onder andere in gesprek met Etienne Leroux in Die boek van toeval en toeverlaat (2006). Galgut laat die dooie terugkeer en gee 'n interpretasie van sy lewe en werk (dit waarna Harold Bloom verwys as die apofrades in A map of misreading, sy studie wat in 1975 gepubliseer is).

Etienne van Heerden

Voltooiing kan ook selfvoltooiing wees. In die jongste roman van Etienne van Heerden, Klimtol, word ’n karakter, Snaartjie Windvogel, gekaap uit Van Heerden se roman In stede van die liefde (2005). Daar is eweneens toespelings op sy debuutroman, Toorberg (1986), met die gedagte van kollektiewe skuld. Hiermee aktiveer Van Heerden nie alleen ’n gesprek met Etienne Leroux nie, maar ook ’n ander lees-modus, te wete, dat hy besig is met die voltooiing van 'n oeuvre en een roman skryf. By Van Heerden is dit spel en hy verwys in sy nawoord na Johan Huizinga se studie Homo ludens (1983) om die spelelement te aktiveer. Die gebruik van die klimtol as metafoor, met elke hoofstuk wat voorafgegaan word deur ’n klimtolspeletjie (“Walking the dog”, “Looping the loop”, en dies meer) dui ook daarop dat ons hier ’n afwesige-aanwesige, ouktoriale vertelinstansie het wat die gegewe orden en manipuleer. Dit sluit weer aan by Barnes se verhouding tot Flaubert. Barnes “orden” en gebruik Flaubertiaanse beginsels – soos die relikwieë van Flaubert – en aktiveer die uitspraak dat die verteller orals aanwesig is, maar nêrens sigbaar is nie, soos God in sy skepping …

Die verwysing na die vlieënde piering in Klimtol aktiveer eweneens 'n vertelinstansie wat manipuleer en die leser bewus maak van 'n konstruksie deur 'n afwesige-aanwesige verteller.

III Ruimte

Syed Ross Masood en E.M. Forster

Die roman speel in eksotiese ruimtes af: Indië en Alexandrië. E.M. Forster se onbeantwoorde liefde vir Syed Ross Masood en sy verhouding met die getroude tremkondukteur, Mohammed el Adl, vorm die basis van hierdie roman. Die besoek aan Indië in 1921, waar hy etlike cruising-ervarings het, word ook openbaar. Hier is hy dan die private sekretaris van die Maharaja van Dewas. Hierdie roman speel in op die roman In a strange room (2010), waarin ene “Damon” in vreemde ruimtes soos Lesotho, Swaziland, Switserland en uiteindelik Indië (met problematiese verhoudings, eintlik nonverhoudings), op ’n hartgrypende wyse beskryf word.

Op ’n manier is hierdie teks ’n voorstudie vir Arctic Summer in sy beskrywing en ontginning van ras, klas, homofobie, vreemde landskappe, reis en innerlike ontwikkeling.[2] Hoe vreemde ruimtes die Engelse verander en aantas, word onder andere op bladsy 102 beskryf. Ook die teleurstelling wat die besoek aan vreemde ruimtes inhou, word weergegee (92). Galgut klim in Forster se kop in en verduidelik hoe 'n roman tot stand kom (146). 'n Skrywer gebruik verskillende skerwe van mense en indrukke om iets weer te gee.

IV Navorsing en verwerking


There was a refuge in writing. On a surface level, he was quite sociable, seeing a great many people and acquitting himself well in company, but an essential part of him had become deeply withdrawn, hardly noticing the outside world. This part, when it wasn't contemplating death, was happy now to retreat to the attic and to work. Alone for hours at a stretch, not even really in the attic any more, sunk into some crevice in his head. (340)

In hierdie gedeelte word die navorsing rondom A passage to India beskryf en Galgut gee 'n briljante weergawe van hoe Forster die grotte besoek het, en ook die belang van die "field glasses" wat in die hofsaak as getuienis gebruik word. (Die skrywer erken ook in sy eindnotas dat hy die grotte besigtig het.) Forster se ervaring van die misterie van Indië en hoe hy dit in sy roman wou verpak, word eweneens beskryf, soos sy verhouding met Leonard Woolf. Forster se harde werk word ook weergegee: "There was only the unruly heap of pages covered with his writing" (354). Eweneens aangrypend is die beskrywing van hoe die resepsie van die roman hom gesteur het. Hoewel die foute in die teks "small and forgivable" was, beklemtoon hierdie gedeelte hoe gevoelig skrywers is vir die kritiese ontvangs van 'n boek (359).

Die skrywer gee vir die leser nuttige bronverwysings: onderhoude met Forster, biografiese studies oor hom, en natuurlik Hermione Lee se kluif oor Virginia Woolf, studies oor Cavafy, Carpenter, Lytton Strachey, Leonard Woolf, die dagboek van Virginia Woolf, studies oor Egipte en die Raj; werke oor Islam, briewe tussen Cavafy en Forster, die vroue van die Raj (Margaret MacMillan word genoteer), en vele ander studies wat die komplekse gang van die roman karteer.

'n Resensent van hierdie roman het opgemerk dat sy nie weet wat aan Galgut behoort en wat aan Forster nie. Wel, doen navorsing. Vir die doeleindes van hierdie resensie het ek weer romans gelees en om iets van die "vertaling" of "transponering" te begryp en na David Lean se A passage to India en die Merchant/Ivory-produksie van Howard's End, Maurice en A room with a view gekyk.

 David Lean

Lean se rolprent is tipies Lean: die gebruik van enkele hoofkarakters om die spanning tussen Britse meerderwaardigheid en die sogenaamde onderdaniges binne die Indiese leefruimte te verduidelik. Ons sien en proe die stof; ons voel die hitte en ons hoor die eggo's in die grotte. Die drama wat gaan afspeel, word voorspel. Wanneer die verkyker deur die dokter opgetel word, weet jy dat dit die bewysstuk sal wees waarom alles gaan wentel. Forster verwys immers na "flat characters" en "round characters" in sy studie oor die roman en 'n mens kan sien hoe Lean dit interpreteer. Adele Quested (vertolk deur Judy Davis) is 'n histeriese figuur en onseker oor haar toekoms geplaas teenoor dokter Aziz Ahmed (Victor Banerjee), die arm wewenaar, wat haar uit die goedheid van sy hart na die grotte neem. Hy betaal duur vir hierdie uitstappie. (En wanneer hy eweneens goedgunstiglik sy dasspeld vir Fielding leen, word hy later gekritiseer omdat sy das skeef sit.) 

Die gawe mevrou Moore (Peggy Ashcroft), wat die regte Indië wil sien, is 'n goedhartige persoon, terwyl haar seun, die neerbuigende magistraat, Ronnie Heaslop (Nigel Havers), Adele se verloofde is. In Forster se terme is hy 'n "flat character". Daar is ook twee ander goeie karakters: die skoolsuperintendent, Richard Fielding (James Fox), en professor Godbole (Alec Guinness), beide "ronde" karakters. Tydens die grotbesoek ervaar Adele iets vreemds en sy beskuldig Aziz van verkragting. Mevrou Moore het die grotte egter weens kloustrofobie nie binnegegaan nie en weier ook om in die opsienbare hofsaak teen Aziz te getuig. Sy verlaat Indië en sterf op die skip aan 'n hartaanval. Lean speel hierdie opposisies dramaties uit, met Adele wat in die hofsaak skielik haar storie verander, en Aziz word vrygespreek. Aziz is 'n held en die skare dra hom op hul skouers. Fielding moet na Adele omsien, omdat sy deur die Britte verwerp word en Aziz ervaar dit as verraad. Adele verlaat Indië, Fielding trou met mevrou Moore se dogter, Stella, en uiteindelik versoen Fielding en Aziz.

Lean sou juis hierdie verhaal verfilm, wat by sy epiese aanslag pas en die opposisies goed uitwerk: klas- en kultuurverskille, verraad, inkeer, versoening in die 1920's.

A passage to India

Om 'n roman te verfilm beteken dat die filmmaker hom sekere vryhede mag veroorloof, en die term adaptation word hiervoor gebruik. Elke filmmaker se interpretasie sal daar anders uitsien, net soos wat elke romanskrywer op 'n ander wyse 'n figuur soos E.M. Forster sal beskryf. Ons weet dit dan uit die verskillende interpretasies van die figuur Henry James: Michiel Heyns, Colm Tóibín, David Lodge, onder andere.

Howard's end

In Howard's end van James Ivory is die gedugte Ruth Prawer Jhabvala die draaiboekskrywer, met puik akteurs soos Anthony Hopkins, Vanessa Redgrave, Emma Thompson en Helena Bonham Carter as die vertolkers van die draaiboek.

Hier handel dit oor liefde en klasverskille. Die minnaar (Paul Wilcox) kan nie met sy geliefde (Helen Schlegel) trou nie, want hy het nie geld nie. Hy moet nog geldmaak in Nigerië, wat nie 'n plek vir 'n wit vrou is nie. So begin die film dan met die rasmeerderwaardigheid en Forster se kritiek op die Britse hoë klas. Die film ondersoek dan Britse snobisme en hoe mense met mag oor inligting beskik wat die werkersklas uitsluit. Hopkins (as Wilcox) waarsku die susters dat Bast – wat toevallig in hul lewe beland het – sy werk by die assuransiemaatskappy mag verloor. Wilcox ontmoet hom toevallig aan hul huis en verwys neerhalend na hom as 'n tipe. Op hul aandrang verlaat Bast dan sy werk.

Ten spyte van mevrou Wilcox se brief in potlood dat Howard's End aan Margaret Schlegel bemaak moet word, ignoreer Wilcox hierdie versoek en verbrand die brief in die vuur. Dit is egter Helen wat die klaskodes deurmekaarkrap wanneer sy Bast en sy vrou na die Wilcox-troue bring, omdat sy voel dat dit Wilcox se skuld is dat Bast sy posisie by sy nuwe werk verloor het. By die troue drink mevrou Bast te veel en ontmasker Henry Wilcox (Hopkins) se verlede, 'n duidelike toespeling op die gay persoon wat ge-out kan word. In hierdie tyd verlei Bast dan ook vir Helen.

Briewe met pynlike inligting word telkens verbrand, net soos ook die briewe tussen Forster en sy moeder verbrand is.

Die wending van die verhaal kom wanneer Helen verdwyn en haar suster dink sy het mal geword. Sy laat haar terugkeer na Howard's End om haar boeke te kom afhaal en hier ontdek sy dat Helen swanger is. Die film ontmasker ook gendervooroordele: Wilcox kan nie Helen se swangerskap hanteer nie, ofskoon sy vrou hom vergeef het vir sy grensoorskrydende gedrag met Bast se vrou. Wanneer Bast wel terugkeer na Howard's End om Helen te sien, word hy deur Charles Wilcox aangeval. Dit lei tot sy dood en 'n hofsaak wat tot tronkstraf lei vir Charles.

Maurice

Filantropie en 'n gebrek aan deernis met die menslike lot is die tema van hierdie verhaal. En Howard's End as die ruimte waarin al die klasverskille en die implikasies daarvan uitgespeel word. Uiteindelik erf Margaret hierdie ruimte soos wat mevrou Wilcox wou gehad het. In Maurice – gebaseer op 'n latere teks – word die homoërotiese tema ontgin. In hierdie verruklike rolprent word die problematiek van die leefwyse in 'n verdrukkende samelewing beskryf en die hofsaak wanneer 'n vriend vir 'n seksuele misstap tronk toe gestuur word, aktiveer die Oscar Wilde-saak. (Galgut verwys ook na Wilde in sy roman.) Die twee minnaars, Maurice (James Wolby) en Clive (Hugh Grant), se lewensgang word beskryf. Clive trou omdat hy nie sy seksuele identiteit kan uitleef nie, terwyl Maurice wel geluk vind by 'n man. A room with a view is tersaaklik vir hierdie bespreking, omdat dit die eksotiese landskap – hier Italië – karteer.

V Vertelinstansie

Galgut begin sy roman vanuit die derdepersoonperspektief en die seksuele ambivalensie van die skrywer word onmiddellik aan die orde gestel. Ook die reis na verre, eksotiese ruimtes word opgestel met Morgan se reaksie hierop. Die klas- en kultuurverskille kom aan bod en daar is 'n verwysing na Henry James en 'n ontmoeting met D.H. Lawrence. Lawrence se afwysende opmerkings oor Forster se werk word knap verwoord. Die verbintenis met Cafavy is boeiend en op die man af. (Dit is vir my bykans die sterkste gedeelte van die roman.) Ook die effek van sy eerste suksesse en die reaksie van sy familie op sy boeke word weergegee. Helen Bast se verleiding van Helen Schlegel ontstig sy moeder, wat daarna verwys as onaanvaarbare gedrag van die lae klasse (55). Daar is eweneens 'n "chilliness" by kennisse wat die proewe lees, maar sy eie onsekerhede is eerder esteties as moreel (54). Die ervaring van homoërotiese verhoudings van die tyd is nie gebaseer op "secret codes" nie, maar mans wat nie trou nie, is bloot "bachelors" (47). "Of what earthly use were novels?" (120) is bykans 'n refrein van die spanning tussen lewe en kuns wat die subteks van hierdie roman is. Binne die Indiese ruimte word hy eroties gesteur deur die skoonheid van die mans (99). Pynlike afwysing verhoog ook die eensaamheid van die hoofkarakter: "So in the end one had to make the journey back to one's own bed more alone even than before, the step down between the two rooms like the threshold between two worlds" (84).

Hierom word daar uiting gevind in die skryfproses en erotiese verhale word daarna vernietig.

VI Ten slotte

"This crack, this deep divide, would run through his book" (137).

Uiteraard moet die leser van Galgut se roman haar afvra wát behoort aan Forster en wáár kom Galgut aan die woord. Is dit 'n huldeblyk of debunking van die gegewe? En ja, hoe sou Edward Morgan, oorlede in 1970, gevoel het oor die feit dat 'n twee keer genomineerde vir die Booker-prys uit 'n indertydse kolonie so 'n "passage to canonization" aanbied. Gaan die skrywer uiteindelik – soos die verteller in Barnes se roman – ontdek daar was meer as een papegaai? Ek was nog altyd 'n aanhanger van Damon Galgut, 'n skrywer wat stiltes tussen mense kan verwoord en tonele van eensaamheid beskryf wat jou ewiglik bybly en steur. Wees gerus: dit is nie 'n "where angels fear to tread" hierdie nie. Dit is uit eie reg 'n roman wat 'n mens oorrompel, onthuts, weer laat lees en tot nadenke stem. Die skrywer gee 'n interpretasie van 'n lewe en sy werk. Vir hom lê die voltooiing in die interpretasie van 'n lewe wat in tekste tot uiting gekom het. Lees gerus Hennie Aucamp se bydrae oor die onvoltooide roman, of "abandoned novel", op LitNet.

Hennie Aucamp © Pieter Strauss

Oor die film Maurice skryf hy:

"Die filmweergawe van Maurice kan as 'n aanvulling en 'n strukturele versterking van die oorspronklike roman gesien word."

Ons het Maurice weer eens aan die Merchant Ivory-vennootskap te danke. Anders as met Room with a view (1986) en Howard's End (1992), is die draaiboek nie van die meesterlike draaiboekskrywer Ruth Prawer Jhabvala nie. Sy het nie baie geloof gehad in die literêre gehalte van Maurice nie, maar het gesuggereer dat 'n toneel bygeskryf word waarin Clive se holderstebolder vlug Griekeland toe, weg van sy romantiese gesel Maurice af, gemotiveer word. 'n Universiteitsmaat van Clive en Maurice, ook met politieke aspirasies, soos Clive, word in 'n sekslokval gelei deur 'n soldaat in medewerking met die polisie, en word geboei weggelei van die verleidingstoneel af. Einde van 'n politieke loopbaan; einde, waarskynlik, van enige 'gentleman's vocation'. En dié lot wil die ambisieuse Clive tot elke prys vermy.

Vandag is dit byna onmoontlik om Maurice te lees sonder om Jhabvala se voorgestelde en uiteindelik gerealiseerde toneel in Maurice in te lees."

Veral A passage to India vra om 'n herlees. 'n Biografie het so pas verskyn.[5] Van 'n skrywer wat eers op 37 liggaamlike liefde beleef tot 'n beroemde skrywer wat soveel reaksies en interpretasies op sy werk beleef en in Arctic Summer meesterlik beskryf word. Vir Damon Galgut se enorme navorsing moet 'n mens ook die hoed lig.

Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te make.

Eindnotas

1. Henry James en reaksies op sy romans het ek in 'n reeks artikels behandel wat indertyd in BY verskyn het.

Deel I

Deel II

Deel III

Deel IV

2. Ek het indertyd soos volg oor hierdie teks geskryf op my blog Woorde wat weeg:

Geagte Leser

Is u moeg vir boeke wat binne die Suid-Afrikaanse landskap bemark word as goed, uitstaande, die beste en dan lees u dit met ’n gevoel van matelose teleurstelling? Wees gerus: Damon Galgut se In a strange room sal u nie teleurstel nie. Dit word deur Penguin bemark as ’n roman, maar ’n mens sou dit ook as ’n losse versameling tekste kan lees gekonstrueer rondom ’n outobiografiese “ek”, ene Damon/Noel.

Die “naked I” wat ons hier aantref is ’n reisende, verkennende ek wat getransporteer word van een landskap na ’n vreemde een: Griekeland, Afrika, Indië oa. In hierdie beskrywings word die versplintering van die ek aan die leser voorgestel. Die reisende ek is ’n soekende persoon in die eerste vertelling, “The follower”, word die delikate relasie tussen twee mans beskryf. Wat met jou gebeur terwyl jy reis, is die uitgangspunt van hierdie vertellinge: jy is verveeld, jy is bang, jy kan besteel word en by doeanes in Afrika jou vasloop teen offisiere wat rang trek.

Die punt van hierdie vertellinge is nie travelogue nie, maar eerder ’n ragfyne ondersoek van die binnelandskap van die reisende karakter. Hy registreer met ongelooflike waarneming die landskap óm hom en sluit vriendskappe en verbintenisse. Wat dikwels plots tot stilstand kom. Ek ken min boeke waarin die isolasie en vervreemding van ’n reisiger met soveel helderheid vertel word. Die eensaamheid en onvervulling is die goue draad wat deur die teks loop. Jy kyk as’t ware deur sy oë na ’n Afrika-landskap of beleef die absurditeite van reisigers wat nie ’n visum in Afrika kan gebruik nie en telkens by banke voor dooiemansdeur staan.

My eksemplaar is omkring met belangrike uitsprake en oomblikke: die dood van ’n vriendin waarvan die volle impak hom eers veel, veel later tref (179). ’n Sentrale fokuspunt is die volgende stelling: “I am writing about myself alone, it’s all I know, and for this reason I have always failed in every love, which is to say at the very heart of my life” (106).

Natuurlik word die landskap korrek weergegee en hierdie leser het soms binnepret gehad oor die anekdotes, veral in Afrika, wat wáár is.

Die teks gaan waarskynlik al die literêre pryse verower. En dit sal welverdiend wees, want Damon Galgut kan skryf. Hy het gedebuteer op 17 met A sinless season en hierna telkens met groter helderheid én sekerheid goeie romans gepubliseer soos Small circle of being, The beautiful screaming of pigs, The quarry, The impostor en The Good doctor. Hy het al gesogte kortlyste gehaal, soos die Man Booker-prys – en ek voorspel goeie dinge vir hierdie roman. (Een punt van kritiek: die verwysing na William Faulkner is onvolledig.)

Die titel aktiveer die idee van “ostranenie” oftewel vervreemding: dat ’n goeie teks die klip as’t ware klipperiger moet maak (aldus die Russiese Formaliste) of die bekende “strangely familiar”. Deurentyd bly ’n mens bewus van reisiger-as-optekenaar of skrywer. Op die agterplat word die reisiger tipeer as Volger, Geliefde en Beskermheer en daar is subtiele aanwysings in die teks dat ’n mens hierdie lewensreis via die tarot kan volg. Daar gebeur ook wonderwerke: die verlore pille word gevind in Indië en nog ánder oomblikke soos ’n klip wat deur ’n venster trek, wat nie … wag, wag. Lees self. Die slotgedeelte is ’n kragtoer en ’n mens ervaar hoe uitgelewer ’n vreemdeling is aan die Indiese burokrasie en veral oor hoe wette verskil van land tot land. Jy het nie ’n visum vir ’n land in Afrika nie, maar as jy pleit kan jy deurgaan. Moenie net nie omdraai en verwyt as iets verkeerd gaan nie.

As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u hoef nie my resensies te lees nie. Wees gewaarsku: wanneer jy begin lees, word jy meegesleur deur ’n teks wat so subtiel saamgestel is. Jy gaan dit dikwels neersit en nadink oor die tekstuur van vertelling en die verhulde pyn in die teks.

Na ’n hele paar mindere romans is Penguin weer tops!

Dit is 180 bladsye van jouissance en ’n verkenning van melankolie en vervreemding. Die beskrywing van die vriendin se diarree en die worsteling met die ellendes rondom haar maniese aanvalle, is grotesk. Die abjekte aldus Kristeva roer hier. Lees dit.

3. Toe ek hierdie teks die eerste keer op my rekenaar bewaar het, noem ek dit "arctic circle", inderdaad 'n sirkelgang, hierdie voltooiing. Op bladsy 352 staan daar: "It occurred to him that writing, in his ease, had never taken on this smooth, spherical quality; the perfect circle eluded him."


... it is impossible to communicate emotion: the soul is obliged to keep her secrets whether she wishes to or not.

You try to touch his depths without using your depths, and it can't be done. One subconsciousness must call to another. Which is a clumsy way of saying that there must be affection."

... an Englishman is assumed to be capable of understanding himself.

Al drie aanhalings kom uit Arctic Summer; die tweede is die regstreekse woorde van Martin Whitby, na aanleiding van Clesant March.



[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Thursday, June 5, 2014

Trits: Psigoanalise en fiksie

Carl Jung en Sigmund Freud in A Dangerous Method (2011)


Is psigoanalitiese kritiek (Jung en Freud) nog relevant? Nou onlangs was daar 'n polemiek op die Versindaba oor Jung.

Miskien kan ons dit illustreer aan die hand van drie uiteenlopende, dog boeiende, en op ’n manier ooreenstemmende, tekste wat sig besighou met die ondergrond van die bestaan:

Tirza Arnon Grunberg
Vertaal deur Lina Spies
Protea
ISBN 978 1 86919 824 4
Sagteband 
507 bladsye













The white hotel D.M. Thomas
Penguin
ISBN 0 14 00 6088X
Sagteband 
240 bladsye














Die aanspraak van lewende wesens Ingrid Winterbach
Human en Rousseau, 2012.
ISBN 978 0 7981 5706 3
Sagteband
355 bladsye













I

Arnon Grunberg se roman Tirza en D.M. Thomas se The white hotel is twee tekste wat op verskillende wyses die psige van die versteurde person aanspreek. Tirza, ‘n besonder lywige roman, moes ek resenseer en The white hotel het weer toevallig by my begin spook toe ek moes nadink oor die verhouding tussen Freud en Jung, wat in hierdie roman ter sprake kom. Hoe benader ‘n mens Freud en Jung vandag? En pas jy hul teorieë toe op letterkundige tekste? En hoe reageer ‘n mens op die voortslepende misverstande róndom hierdie belangrike figure wat deur sielkundiges as passé afgemaak word en deur wetenskaplikes as onbetroubaar en wetenskaplik verdag verdoem word? Sowel Freud as Jung lewer belangrike bydraes tot die literatuurteorie en tot die begrip van transgressiewe of normdeurbrekende tekste.

II

Arnon Grunberg se roman Tirza (2006/2014), sy agtste roman, is in Afrikaans deur Lina Spies vertaal. En die toets van ‘n goeie vertaling – veral as dit kom by ‘n lang roman – is dat die teks vlot moet lees. Hierin slaag Spies bepaald. ‘n Mens voel deurgaans dat die storie in vlot Afrikaans vertel word en nêrens is daar die haakplekke so bekend aan vele vertalings nie. Geen moeilike woorde of verkeerde vertalings nie. Miskien behalwe nou vir rondjie (339) wat ek eerder as rondetjie sou vertaal? En op bladsy 267 moet ky kyk wees.

Dit is my eerste kennismaking met die werk van hierdie romanskrywer wat skynbaar in Nederlands ‘n bekende en omstrede figuur is.  Op die buiteflap word die boek aangeprys deur J.M. Coetzee. Hy prys die skrywer vir sy “wit and sardonic intelligence”. Ek het hierdie roman begin lees en onmiddellik roep die obsessionele Jörgen ‘n vergelyking op met Vladimir Nabokof se Lolita, daardie briljante roman van 1955 wat tereg al uitgesonder is as een van die grootste romans van die twintigste-eeu. Waar Nabokof se roman met verskeie verwysings en rame werk (ook die voortreflike film van Stanley Kubrick uit 1962 presteer dit) is Grunberg se roman “oper”. Hiermee is uiteraard niks verkeerd nie. Miskien verraai dit eerder hoe moderne lesers na romans kyk en dat die oper, vlotter struktuur verkieslik is bó die ingewikkelde verwysings van ‘n Nabokof-roman.

Jörgen Hofmeester is inderdaad ‘n boeiende figuur. Die begin van die roman beloof reeds iets: die oopsny van die tunavis wat die latere tragedie eggo. Obsessioneel is hy inderdaad in sy waarneming. Die verhouding met Ibi - wat elke maand die huurgeld by die huurders op die boonste verdieping gaan afhaal - is 'n belangrike vinjet vir die begryp van hierdie streng en krenterige karakter. Die geld word belê in 'n verskansingsskema en uiteraard verloor hy dit. Die teks is kennelik satiries in aanbod. Ons beleef alles vanuit Hofmeester se perspektief en sy verhouding met sy twee eiesinnige kinders, en sy vrou wat hom verlaat het en onverwags opdaag by die party wat hy vir Tirza gee. Tirza gaan hierna op reis na Afrika met haar vriend. Ibi bedryf 'n gastehuis in Frankryk en leef met 'n blas man. Hy sien Tirza se vriend aan vir die 9/11-terroris, waarmee die implisiete outeur die paranoïa en kleinburgerlike bestaan van die hoofkarakter verder wil beklemtoon. Hy is ontslaan as fiksieredakteur van buitelandse tekste en sy gevoel van nutteloosheid maak hom waarskynlik ontoerekeningsvatbaar. Maar sy obsessionele gedrag word goed voorberei in sy verhoudings met sy kinders, wat in die intieme gesprekke oor hul seksualiteit en 'n eetversteuring, grensoorskrydend is. Daar is oorgenoeg beskrywings van aanraking  en gesprekke wat beslis transgressief is. Sy reaksie op Ibi se seksuele avontuur dui dit aan; nes die seksuele aanraking by die party met 'n klasmaat van Tirza. Die metafoor van eet/kook is besonder behendig ingebed met binnegedagtes dat hy nie weet hoe 'n mens se vel lyk wanneer jy dit braai nie (242) wat onheil voorspel. Sy beheer in die kosmaakproses dui ook daarop: die leser word uitgebreid voorgestel aan hoé hy kosmaak en wat hy dink van die politiek en die lewe in die algemeen.

Die roman val in drie dele uit: Die huur, die offer, die woestyn.  Die laaste gedeelte beskryf ‘n Nederlandse landskap en ‘n besoek aan Namibië in sy soektog na Tirza en haar vriend. Hierdie laaste gedeelte het eggo’s uit die filmmaker Antonioni se The passenger (1975) met die besoek aan ‘n warm landskap.

Tirza het ‘n Marokkaanse vriend, en Hofmeester se reisgenoot is Kaisa, ‘n swart meisie. Dus word daar dus subtiele politieke kommentaar gelewer. Hofmeester is ‘n afgedankte fiksie-redakteur -moet ons die moorde as fantasie of werklikheid beleef?

Al sy beperkinge en teleurstellings (sy afdanking, sy benarde finansiële posisie, sy vrou wat hom verlaat het) word geprojekteer op Tirza se vriend, die Ander. Hy heet Choukri, maar vir Hofmeester is hy Mohammed Atta …

Boonop is Tirza anoreksies en haar vader lees vir haar voor uit Madame Bovary en Don Quichot. En Dostojefski se Notas uit die ondergrond. Die insestueuse verhouding tussen vader en dogter word op verskillende vlakke uitgewerk. Sy is sy sonkoningin …

Ook in hierdie naam draal daar al prospeksies van wat die leser te wagte kan wees. Op uiters subtiele wyses plant die implisiete outeur sleutels vir die leser: hoe 'n tunavis oopgesny word resoneer met die uiteindelik skokkende onthulling, al mag dit 'n verwronge fantasie wees. Die besoeke aan Schiphol-lughawe beklemtoon eweneens sy obsessionele aard.

III

Die drie afdelings (Die huur, die offer, die woestyn) aktiveer alreeds 'n triadiese verbintenis so bekend aan die psigoanalise. Freud se id, ego, superego en Lacan se verbeelde, simboliese, Reële dimensies kan dus betrek word. Die triadiese verbintenisse skep immers die persoonlikheid by Freud en by Lacan dui die drie dimensies op die konstituering van taal. Die verbeelde is dit wat voor betekenis bestaan en die simboliese orde dui op die tekensisteem met die Reële wat nooit bereik kan word nie.  Hoe ironies dan dat hy Tirza dus nie in die woestyn kan vind nie.

In Freudiaanse terme dui die slottoneel op die superego of die Orde: hy moet verantwoording doen vir sy dade. Die "bees in hom" (die dier) is nou tot orde geroep. Hy bel egter Tirza se selfoon om vir laas haar stem te hoor: 'n blote representasie van iemand wat egter nie meer bestaan nie. Die roman lewer genoegsame bewyse dat so 'n psigoanalitiese lesing gestaaf kan word. Dit bevat notas uit die "ondergrond" met siniese kommentaar op die Freudiaanse familie-romanse. Die vaderfiguur oortree grense van intimiteit (o.a. ook in sy seksuele optrede teenoor 'n jong skoolmaat) en is by twee geleenthede aanskouer, dus voyeur, van sy dogters se seksuele aktiwiteite. In beide gevalle tree hy gewelddadig op. Die eerste optrede met Ibi se minnaar is dan 'n prospeksie vir die latere toneel waar hy Ibi en haar vriend sien. In Jungiaanse terme projekteer hy sy skadu op ander (sy dogter en haar Minnaar) en die jong, swart meisie is in wese sy alter ego wat hy aanspreek om tot klaarte te kom.

IV

Op bladsy 376 word daar verwys na die oorlog in die boekbedryf. Die stryd om die leser. Die boekeoorlog. En dit is dan ook waarop Tirza sydelings kommentaar lewer: die behoefte van die leser. Hofmeester onthul sy dade aan die jong kind in Namibië. Is dit waar of gewoon 'n verdere verbeeldingsvlug? Dit is eweneens ironies: sy toehoorder is nege en nie in staat om die gevolge te interpreteer nie. Die e-pos aan Tirza waar hy inbreek op haar stelsel, bewys egter die ergste vir die speurende leser wat uitgelewer is aan 'n "spel met gevolge" (494). Vir hierdie kind laat hy dan Tirza se iPod en die manuskrip van die outeur uit Azerbeidjan, wat hy op sy desperate reis en soektog na Tirza met hom saamdra.

Die slot knoop alles vas en die fantasie waarvoor 'n mens sou hoop, dui op iets anders. Die dier is nie oorwin nie. En al het hy die irrasionele verafsku (20), het dit hóm oorwin. Die roman lewer satiriese kommentaar op die moderne Nederlandse samelewing nes die geslag na-oorlogse literatuur dit gedoen het.

V

D.M. Thomas se The white hotel het in 1981 verskyn, dus geruime tyd voor Grunberg se roman in 2006.  Dit is die verhaal van Lisa Erdman, 'n geskeide operasangeres wat erge psigosomatiese pyn en hallusinasies ervaar. Sy vertel in 'n lang gedig en joernaal van 'n fantasie waarin sy met Freud se seun seksueel verkeer. Alles vind plaas op 'n trein en in 'n wit hotel wat deur erge rampe geteister word. Vir Freud word sy 'n geval, te wete Frau Anna G. en in sy analise ontdek hy dat haar toestand verduidelik kan word deur die verhouding wat haar moeder had met haar oom. Thomas gebruik dus die Dora-saak as 'n spieëlteks om hierdie verhaal te vertel. Na terapie trou sy weer en sy skenk geboorte aan 'n Joodse seun in Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. [Foto: D.M. Thomas © Mac Dunlop]

Hierdie roman het sewe afdelings: Prologue, I Don Giovanni, II The Gastein Journal, III Frau Anna G., IV The Health Resort, V The Sleeping Carriage, VI The Camp. 

Die proloog bevat gefiksionaliseerde briewe (o.a. Sandor Ferenczi en Freud), 'n lang erotiese gedig van die Erdman en haar joernaal (dit behels afdelings II en III) en in die derde afdeling kom Freud aan die woord: "In the autumn of 1919 I was asked by a doctor ..." (83).
Epstein, 'n manlike resensent, konsentreer op die volgende verhaalelemente: sy was eers 'n danseres, gebore in Odessa en word as kind bewus van die buite-egtelike verhouding van haar moeder wat later saam met haar minnaar verbrand. Haar vader verwerp haar (ook hier hoor ons die Dora-saak, j.h. ) en sy begin 'n verhouding met 'n anargis in St Petersburg. Sy raak swanger en tydens 'n dans verloor sy die kind. In Wenen begin sy 'n tweede lewe as operasangeres en sy tree kortstondig in die huwelik met 'n anti-Semitiese Oostenryker. Lisa tree uiteindelik op as operasangeres in Milaan wanneer 'n ander operasangeres - wat ook 'n kind verloor  het - en laat dus al haar ellende agter haar. Maar dit is van korte duur, want in Kiev word al die Jode van die tyd na Palestina verban ...

In die slotafdeling fantaseer Lisa dat sy Freud in die strafkamp gewaar.

Ofskoon hierdie gedeelte gelees moet word as ‘n uitgebreide fantasie – sy versoen immers met die dooies – lewer die roman dus sodoende skerp kommentaar op die funksie van psigoanalise in ‘n wêreld geteister deur politieke onreg. Volgens Leslie Epstein in die New York Times (A novel of neurosis and historyBesoek 2 Junie 2014) is dit die swakste gedeelte van die roman. Hy beweer:

“But Mr. Thomas runs into more serious problems when he tries to duplicate an actual case history. What is so compelling about the real Freud's cases, apart from his brilliance in interpreting them and his great skills as a writer, is that we always know that the dream fragments and the experiences are authentic.”

Hiermee moet ek verskil van hierdie deurwinterde resensent, want juis as jy Freud se tekste weer lees, kan jy die uitsonderlike prestasie van Thomas, ‘n uitstekende vertaler van Achmatova se digkuns, bewonder. Hy “vertaal” en transporteer Freud dus van die wetenskap na die ruimte van fiksie. Die afdeling “Frau Anna G.” word ook voorsien van voetnote so bekend aan Freud se werkswyse. Daar word soms vreemde woorde vertaal (soos “niederkommen”) wat hierdie gedeelte ook die allure van ‘n redigeerder of redakteur gee. ‘n Duidelike mîse-en-abyme. Dat Freud se mees seminale teks, Die interpretasie van drome (1900) hier ter sprake kom, is eweneens duidelik. Treinreise – so verduidelik die karakter Freud op bladsy 95 – is dikwels aanduidings van ‘n naderende dood. Bekend aan Freud se werkswyse, is die gebruik van metafore. Hy waarsku haar teen die terugkeer van simptome, maar “that we are moving closer to the light at the end of the tunnel” (109).  Charcot word ook betrek” “La théorie c’est bon, mais ca n’empêche pas d’exister” (111).

Dit is 'n komplekse roman wat my waarskynlik voorberei het op die volgende baken in die Afrikaanse letterkunde. Dit is 'n baken omdat dit op 'n gesofistikeerde wyse, soos die twee voorafgaande tekste, in gesprek tree met komplekse psigoanalitiese teorie.

Hierdie resensie staan opgeteken in my blog: Woorde wat weeg.

VI

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer hierdie leser nie om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere betekenislae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.), Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se oog kan jy sién.

Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.

Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet. 

Dit is is ‘n briljante roman. Sedert publikasie het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.

En in navolging van Charcot: teorie is goed, maar dit verhoed nie dinge/sake om te bestaan nie. En hierom (waarskynlik) is Jung die afgelope paar dekades uit literatuurkompendiums geweer, omdat die Franse Strukturaliste en post-strukturaliste met die groter aanspraak op “wetenskaplikheid” die literatuurbedryf binnegedring het. Maar dit is jin en jang. Die verskillende benaderings hoef mekaar nie uit te sluit nie.


Bibliografie:

Cain, William, E. 1964. The crisis in criticism - Theory, literature, and reform in English Studies.  Baltimore: The Johns Hopkins University.

Die volledige Freud is uitgegee deur die Pelican library.

Jung, C.G. 1962. Memories, dreams, reflections. Londen, Collins.


Endnoot:

Die volgende is 'n reaksie op 'n polemiek op Versindaba:

Freud en Jung is relevant vir die literatuurteorie en lankal nie meer vir die empiriese wetenskappe nie waar albei aanvanklik aspirasies gehad het. Om ‘n denker of skrywer nadoods uit te vang as anti-Semities gebeur al om die hawerklap. Die geval Paul de Man is bekend. En Derrida se verdediging van hom. ‘n Mens kan egter nooit die belangrikheid van Blindness and insight of Allegories of reading ignoreer nie. Trouens, ek is die mening toegedaan dat De Man juis vanweë sy ingewikkelde persoonlikheid in staat was om Rilke se ellendes te begryp. Terloops, ‘n digter wat geweier het om psigoanalise te ondergaan en die digkuns as self-terapie gesien het.

Jung is ‘n komplekse intellektueel en ek het die afgelope semester indringend oor hom klasgegee. Waarom is hy onder meer die afgelope paar dekades uit literatuurteoretiese kompendiums gehaal? Ten spyte van navolgers soos Maud Bodkin en Northrop Frye.
Sy siening van argetipes – wat dui op primordialiteit – kan wel van toepassing gemaak word op ‘n skrywer soos Etienne Leroux. Wanneer jy ‘n teks analiseer met begrippe soos argetipe, skadukant, projeksie, mandala (ons onthou immers Patrick White se The solid mandala) aanvaar jy sy teoretiese raamwerk vir die eise wat ‘n bepaalde teks stel. Net soos Jungiane – en ek het al van die lesings van besoekende geleerdes bygewoon in Kaapstad – kwessies mag ontsluit. Dieselfde geld D.M. Thomas se The white hotel, ‘n puik roman, wat ‘n fantasie róndom psigoanalise uitwerk. Ons vind hier ‘n gefiksionaliseerde Sigmund Freud en indien ‘n mens die geskiedenis van Freud se lewe teenoor die roman plaas, word dit ‘n fassinerende kommentaar op Freud se denke, erotiek en tekste soos Die wolfman en die Dora-saak. 

Waar Dominique Botha se roman Valsrivier eindig met ‘n gedig, begin hierdie roman met ‘n gedig na ‘n briefwisseling. Botha se roman is ‘n Bildungsroman en ek dink The white hotel (my kopie val al uitmekaar) sou ‘n mens as ‘n briefroman kon beskryf met ‘n dosis historisisme. Botha se teks fiksionaliseer eweneens haar lewe; trouens, dit is meer as haar lewe en die “valsrivier” is die onbewuste … 

In sy voorwoord tot sy roman skryf Thomas dat ‘n mens nie die terrein van histerie kan besoek sonder om van Freud kennis te neem nie. Hy skryf: “Freud becomes one of the dramatis personae, in fact, as discoverer of the great and beautiful myth of psychoanalysis. By myth, I mean a poetic, dramatic expression of a hidden truth …” Hy verwys ons verder na volumes 3, 8 & 9 van die Pelican Freud library. Oor die “scietific validity” verskil ek van hom. Die roman handel ook oor die holocaust en die vraag is: waarom die soektog na die “hidden”, dit wat weggesteek is. Die film Caché (Hidden) van Michael Haneke gee waarskynlik weer ander sleutels oor dit wat ons represseer of berg, net om iewers uit te spring … (Hieroor gesels Haneke uiters insiggewend in ‘n onderhoud.)

Kommentators binne die moderne sielkunde is geregtig op hul afwysing van Freud en Jung. Sy relevansie lê in die transportasie van en na die letterkunde en filmkuns. 

© Joan Hambidge