Monday, May 5, 2014

Piet van Rooyen - Reisiger te perd (2014)


Piet van Rooyen. Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde. Protea Boekehuis, 2014. ISBN 978-1-4853-0025-0
Resensent: Joan Hambidge

Reisiger te perd deur Piet van Rooyen kan ’n mens ten beste as found poetry beskryf. Dit is daardie soort gedig wat gebaseer is op ’n ander teks en waaraan die skrywer sy eie interpretasie gee.

In sy jongste bundel, Stil punt van die aarde, herdig Johann de Lange die bekende passasie uit Karel Schoeman se Op ’n eiland:

Daar is eilande
deur geen mens bereik,
wit strande deur geen voet betree,
helder fonteine waarvan niemand
ooit gedrink het nie.

Daar is streke
op geen kaart vasgelê, kuste
waaraan nooit ’n naam gegee is nie,
waar geen oor die roep van voëls
of die slag van branders hoor nie,

afstande ongemeet
& dieptes ongepeil –
o ja, daar is eilande,
& dit is ’n lang reis
van die eiland na jou.

Hierdie soort gedig sal uiteraard persoonlik wees. Dit is bykans soos ’n jazz-vertolking van ’n bekende liedjie of melodie. Jy herken die ou wysie, maar die nuwe interpretasie maak van die oorspronklike as’t ware ’n nuwe kunswerk.

Om 100 gedigte oor perde te maak (die Pegasus as simbool van die digkuns) is reeds ’n projek van vernuf. En om dit uitsonderlik goed te maak en elke keer die leser te verras met ’n nuwe wending of toepassing, wil gedoen wees.

En dit is dan presies wat Piet van Rooyen regkry. Hy gee vir sy leser ’n lang bronnelys van vier bladsye wat hy kan navors, maar ewe geheimsinnig (soos dit hoort), skryf hy in die inleiding dat hy nie bladsynommers gee nie en dat die leser dus self die speurwerk moet doen.

Soms is die gedig gegrond op ’n blote idee en soms op ’n gedig. Die digter bely dat sy bronteks Engels was.

Met ander woorde, as hy ’n gedig van Roberto Bolaño of Stefan Zweig vir ons weergee, is dit nie uit Spaans of Duits gekaap nie, maar uit Engels.

Dis een van daardie digbundels wat ’n mens met een asemteug lees en met elke herlees bewonder vir die besondere navorsing en herdigting. In die gedig “kavallerie” (na Stefan Zweig, bl. 68) sluit die digter:

so reis ons deur die landskap
net ek en my perd en ons twee se skaduwee
die mees volhardende grys verskuiwende bewys
dat ek deel is van, en lewe en bestaan
vir my is dit heeltemal genoeg

En hierdie vers kan as ’n ars poetica gelees word. In hierdie verse vang ’n mens iets op van ’n digter wat sy-manier-van-doen as “heeltemal genoeg” ervaar. Hierdie is geen digterlike toertjies of afshow nie; net ’n helder kyk na die wêreld óm hom. Vanselfsprekend getuig die bundel van geweldige belesenheid, en om van Joseph Conrad, Ernest Hemingway tot Bolaño te kan dig oor perde, wil gedoen wees.

Party lesers mag vra, maar waar is ’n gedig oor daardie historiese gebeurtenis en hoekom nie hierdie vers nie? Maar onthou, dis sy persoonlike keuse!

Ek het ’n tyd lank die bundel in my saalsak gedra en orals wanneer ek op iemand moes wag – tussen stasies, by wyse van spreke – die bundel gelees.

Hierdie digter is kennelik bedot oor perde, soos ’n gedig van Hemingway dan ook lui.

En my gunstelinge is die gedigte van Leo Tolstoi en Iwan Toergenjef.

wat is lekkerder as om voluit
met die drieperd-slee
deur dik wit sneeu te jaag
die vodkabottels blink in die vuiste

Só begin “troika” van Tolstoi en ja, dit eindig natuurlik in die poorte van die hel.

Hierdie digter het in 1973 gedebuteer en met hierdie bundel – gebaseer op meer as 400 boeke – steek hy beslis ’n kleim af. Dis eenvoudige, toeganklike verse, maar die skoonheid is opgesluit in hierdie deursigtigheid. Maar dis ook ’n vakman wat só sonder fieterjasies kan dig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]

Die perde van San Marco