Tuesday, July 2, 2013

Studie: Die Marilyn Monroe-figuur in die digkuns van Johann de Lange


 

The Author, when believed in, is always conceived of as the past of his own book: book and author stand automatically on a single line divided into a before and an after. The Author is thought to nourish the book, which is to say that he exists before it, thinks, suffers, lives for it, is in the same relation of antecedence to his work as a father to his child.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 145.

I

Die figuur Marilyn Monroe word binne die Afrikaanse digkuns deur velerlei digters beskryf: T.T. Cloete, Peter Louw, Lina Spies, Tom Gouws, Lucas Malan, Joan Hambidge, en Johann de Lange. De Lange skryf ook in sy blog Kaapse paragrawe oor die verskillende Monroe-gedigte in Afrikaans.  Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake, (Afgetrek 30 Junie 2013).

II

De Lange skryf in sy debuut Akwarelle van die dors oor die figuur MM, “Marilyn Monroe onderweg”. Hierna volg die vertaling van Ernesto Cardinal se beroemde gedig “Gebed vir Marilyn Monroe” in Nagsweet en die ongepubliseerde gedig “Marilyn Monroe in grou”.

Waarom skryf digters oor hierdie klassieke, vroeggestorwe seksgodin? Wat is dit wat haar efemere bestaan op sowel die silwerdoek as in die werklikheid só aangrypend maak dat sy digters inspireer en dat ‘n skrywer soos Norman Mailer ‘n studie oor haar geskryf het: Marilyn?

De Lange skryf eweneens oor die figuur James Dean in sy bundel Snel grys fantoom en  die identifikasie met die kortstondige lewe en breekbare skoonheid is ‘n bekende tema in hierdie oeuvre.

III

Marilyn Monroe, oftewel Norma Jeane Mortensen / Baker is op 1 Junie 1926 gebore en sy sterf op 5 Augustus 1962. Sy was ‘n aangenome kind wat vir ‘n lang tyd van haar lewe deurgebring het in weeshuise. Sy word in 1946 ‘n filmaktrise en na ‘n dramatiese verandering in voorkoms en met ‘n naamsverwisseling, word sy ‘n ster. Haar dood aan ‘n oordosis barbiturate het egter tot vele samesweringsteorieë gelei, onder andere, dat sy vermoor is deur die Kennedy’s, omdat sy oor sensitiewe inligting sou beskik. 

Sy was getroud met James Dougherty (1942 tot 1946); hierna met die bofbalster Joe DiMaggio (kortstondig in 1954) en uiteindelik met die dramaturg, Arthur Miller (1956 tot 1961).


Tony Curtis en Jack Lemmon in 'n camp toespeling op Billy Wilder 
se rolprent Some like it hot (1959).

Veral haar speelse optrede in Some like it hot (1959)  – saam met Tony Curtis en Jack Lemmon – word as ‘n hoogtepunt beskou. Vir haar spel in Bus Stop (1956) is sy bekroon. Sy word deur vele beskou as ‘n een van die grootste sekssimbole van haar tyd saam met figure soos Brigitte Bardot en waarskynlik is haar tragiese dood en ongelukkige lewe veral vir digters ‘n inspirasie. In hierdie opsig toon Prinses Diana van Wallis se lewe én die Di-verheerliking ‘n ooreenkoms met Marilyn Monroe se verikonisering.

IV

Johann de Lange word deur sy grootmoeder grootgemaak ná die skeiding van sy ouers en sy vader se selfmoord. In hierdie opsig is daar ooreenkomste met Monroe se ongelukkige jeug: sy is die derde kind van Gladys Pearl Monroe en haar vader, Edward Mortensen, ‘n Noor, het sy nooit geken nie.

En hierdie feit het haar regdeur haar jeug geteister. Sy het gevrees dat ander sou dink sy is ‘n buite-egtelike kind, maar na haar moeder se dood is die ontdekking wel gemaak dat haar moeder kortstondig met hom getroud was. Sy het eenkeer ‘n foto van hom gesien en vir haar het hy soos Clark Gable gelyk. Sy het dan ook in haar laaste film teenoor Gable gespeel, ‘n man wat in haar fantasie-lewe vir haar ‘n vaderfiguur was.

Sy het as jong kind grootgeword by ander ouers, te wete Albert en Ida Bolender, en het eers later ontdek dat hulle nie werklik haar ouers was nie. Die verskillende bronne wat oor haar lewe bestaan bevestig deurgaans dat sy die universele simbool is van die weerlose, verwonde mens. 

In De Lange se debuutkortverhaal Vreemder as fiksie (1996) skryf hy oor sy verhouding met sy ouers. Die verhaal heet “Afskeid van my ouers” wat die slotverhaal vorm van hierdie komplekse bundel. Hier word die eerste selfmoordpoging van die vader beskryf: Sy oorlewing was ‘n groter ramp as wat sy dood sou wees: die gasbottel was nou leeg, en daar was nie geld vir nog gas nie”(183). 

Die pynlike herinnering aan sy jeug word in sowel die ek-perspektief as die derdepersoon aangebied. Deur dit in die derdepersoon aan te bied, word daar groter afstand en dus distansie gekry oor die vader. Uiteindelik, dekades later, kry die volwasse verteller, sy woede verwerk, inligting oor sy vader by sy vervreemde moeder wat hom, sy broer en twee susters op 'n jong ouderdom versaak het om ‘n lewe met ‘n ander man te begin. In hierdie verhaal onthul De Lange ook die bestaan van ‘n afgetekende broer, André, van wie se bestaan hy bewus geword het enkele dae voor hy in ‘n motorongeluk omgekom het.

Die vader se dwelmverslawing en onbetroubaarheid word in hierdie semi-dokumentêre verhaal met distansie verhaal. Hierin word die vader se fassinasie met cowboy-films ook vertel wat in die gedig “Pa” in Snel grys fantoom na vore kom. In ‘n voetnoot skryf De Lange: Sy gefassineerdheid met die macho cowboy-wêreld is tot vandag nog vir my onverklaarbaar. Ek onthou hom nie as ‘n macho man nie; eerder as ‘n broos, ontoereikende man, met ‘n sagte stem” (190). 

Die troebel verhouding met die aanneemouers, hul drinkery en misbruik van Welsyngeld word in die verhaal weergegee met die veranderende emosies van die weerlose ek / skrywer wat die verhaal afsluit met die volgende woorde:

“Toe die skrywer die laaste ligblou folio omdraai, merk hy iets wat hom vantevore ontgaan het. In sy eie onseker handskrif, bo in die regterhoek, staan daar gekrabbel: Ek het dikwels probeer, vasgevang tussen opstand en onderwerping, om in die reine te kom met die gestalte van my ma en die gestalte van my pa. P.W.

V

The reader is the space on which all the quotations that make up a writing are inscribed without any of them being lost; a text’s unity lies not in its origin but in its destination.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 148.

Die gedig Marilyn Monroe onderweg” (uit Akwarelle van die dors) illustreer die problematiek rondom die De Lange-gedig vir hierdie leser. Die teks se eenheid is nie opgesluit in sy oorsprong nie, maar eerder in die destinasie of aankoms. Hierdie leser is bekend met die intertekste róndom die skrywer se ongelukkige jeug en die troebel verhoudings met die familie, en in die besonder, die vaderfiguur. Hoe kan die leser wat die intertekste oor die skrywer se verlede ken, die outeur dood verklaar? Die dood van die outeur, argumenteer Barthes, gee geboorte aan die leser. Maar: die leser staan dan in ‘n besondere verhouding tot die teks.

1.  Marilyn Monroe onderweg 

Marilyn Monroe-mond,
close-up,
op ‘n groot advertensiebord
langs die snelweg.

Ek stuur my
reg in die glimlag in:
wit tandepasta skiet
tussen die ontblote lippe deur.

Vir Julia Kristeva in Powers of Horror (1984) is die samestelling van die ego onlosmaaklik verbind aan sy identifikasies. Johann de Lange identifiseer met die figuur-Monroe. Vir Kristeva is sowel die moeder- as die vaderfiguur ‘n negatiewe konstruk wat die ego bedreig. In die gedig “Marilyn Monroe onderweg” sien die spreker ‘n foto van ‘n vrouemond wat soos Marilyn Monroe s’n lyk. Die ‘ek’ penetreer die mond (die vulva) en die vrees vir kastrasie word deur die gedig verbeeld. Terselfdertyd representeer die “wit tandepasta” die semen sodat daar in die gedig ‘n ambivalente gevoel is oor die vrou wat enersyds kastreer en andersyds ‘n ruimte vir seksuele plesier of jouissance is.

2. Gebed vir Marilyn Monroe
Ernesto Cardenal

Here, ontvang hierdie meisie
dwarsdeur die wêreld bekend as Marilyn Monroe
hoewel dit nie haar regte naam was nie
(U ken haar regte naam)
wat nou in u teenwoordigheid ingaan
sonder grimering,
sonder haar agent,
sonder haar foto’s of om handtekeninge uit te deel,
eensaam soos ’n ruimtereisiger
voor die allesomvattende swart heelal.

Toe sy nog klein was, het sy gedroom sy was kaal in ‘n kerk
(volgens Time)
voor ‘n menigte wat neerkniel
met hulle koppe teen die vloer,
& sy moes mooi trap om hulle te vermy.
U ken ons drome beter as enige psigiater.
Here, in hierdie wêreld
besmet deur radioaktiwiteit & sonde,
sal U sekerlik nie ’n winkelmeisie
haar sterredroom verkwalik nie.
En haar droom het werklikheid geword
(Technicolor-werklikheid).
Sy het maar net die draaiboek gevolg
wat ons haar gegee het,
die storie van ons eie lewens.
En die draaiboek was betekenisloos.
Vergewe haar, Here, & vergewe ons
vir óns 20th-Century
& die groteske Superproduksie
waaraan ons almal meegewerk het.

Die ster is lankal dood
maar sy flikker nog in donker teaters.
Sy was die rot wat tol in die filmspoel.
Sy was honger vir liefde
& ons het kalmeerpille voorgeskryf.
Sy het verlang na geselskap
& ons het psigoanalise aanbeveel.
Haar lewe was onwerklik soos ’n droom
wat ‘n psigiater interpreteer & liasseer.

Haar romanses was soene met geslote oë
onder skietligte uitgespeel,
maar die skietligte is uitgedoof
& die twee mure van die kamer is afgebreek (dit was ‘n filmstel)
terwyl die Regisseur wegstap notaboek in die hand,
die toneel veilig vasgelê.
Of soos ’n rit op ’n seiljag,
’n soen in Singapoer,
’n dans in Rio,
’n onthaal aan die herehuis
van die Hertog & Hertogin van Windsor
gesien in die treurige opgesmuktheid van ’n armoedige woonstel.

Die film het geëindig sonder die laaste soen.
Hulle het haar dood gekry op haar bed
met die gehoorbuis in haar hand,
& die speurders het nooit uitgevind wie sy wou bel nie.

Sy was
soos iemand wat die enigste vriendelike stem gebel het
net om ’n stem “Nommer nie in gebruik” te hoor sê;
of soos iemand deur rampokkers beseer
wat ’n hand uitsteek na ’n gediskonnekteerde foon.

Here, wie ook al
dit mag wees wat sy wou bel
& nie het nie (& dalk was dit niemand nie
of Iemand nie gelys in die Los Angeles-gids nie),

Here, antwoord daardie foon.

In hierdie teks, ‘n vertaling en herdigting van Ernesto Cardenal se beroemde gedig, word die lewensloop van Marilyn Monroe verbeeld. Ook hier vind die leser ‘n identifikasie met Marilyn Monroe se ongelukkige lewe. Die gedig is opgeneem in Nagsweet.



3. Marilyn Monroe buite beeld
‘n optelgedig

Die ongestorwe Marilyn Monroe
- silwerdoek-legende -
word vrygestel & uitgestal
in Berlyn se sjiek Cafe Einstein:

Afgeneem
deur haar vriend Sam Shaw,
getuig dié foto’s van gelukkiger tye:
hier is sy teen sononder
in ‘n roeiboot in Central Park,
hier eet sy ‘n hotdog
saam met Arthur Miller.
Geen spoor van depressie-
episodes, haar selfmoord-
poging in ‘62
of haar mislukte huwelike nie.
Die fokus val glo
op die meer intieme Marilyn:
stilfoto’s op filmstelle,
‘n tyd toe sy “sereen” voorgekom het,
aldus haar uitgewer. ‘n Besonder
gelukkige tyd, & die begin
van haar derde huwelik.

Die foto’s vermy die cliché
van die morbiede ster,
hou by die beeld van ‘n vreugde-
volle en selfversekerde vrou,
haar bekendste foto
dié een uit The Seven Year Itch
waar sy haar wit rok vasdruk
as dit boontoe waaier in ‘n skielike sug
warm lug uit die moltrein se ventilasieskag.
"Films is my loopbaan,
pruil sy, “maar Arthur is my lewe".

Oor die totale afwesigheid
van teks sê die uitgewer: “Alles
oor Marilyn is alreeds geskryf.
Hierdie foto’s vertel
die liefdesgeskiedenis
tussen haar & ‘n eks,
die intellektueel. Die res
het weggeval. Bestellings loop
flink. Goddank ons het
oorgenoeg papier gekoop.”

Die gedig “Marilyn Monroe in grou”, opgeneem in Judasoog, ‘n keur uit die digter se verse (2010), onder die titel “Marilyn Monroe buite beeld”, aktiveer Barthes se komplekse verhouding tussen skrywer en leser wat op die teks moet fokus. Tog het die teks hier weggeval aldus die uitgewer en alles is alreeds oor die figuur Marilyn Monroe geskryf. Daar is dus geen nuwe interpretasie meer moontlik nie.

Tog  speel hierdie teks bekende opposisies in De Lange se digkuns uit, naamlik die verhouding tussen geluk / ongeluk; vreugdevol of suksesvol / selfmoord of afwesigheid.

Die teks aktiveer ‘n spanning tussen toe en nou en die opheffing van Barthes se siening van “The death of the author” verwys na die digter se lewe waar daar ‘n verlange is na ‘n paradyslike toestand van geluk. Maar soos in die geval van Monroe se lewe het dit nooit bestaan nie. Haar jeug is geteister deur onsekerheid, onbetroubare ouers en ‘n wisselvallige bestaan soos die biografiese besonderhede van beide figure vir ons beklemtoon. 

Deur Monroe se jeug te beskryf, heraktiveer hy die ongelukkige jeug wat hy sélf ervaar het. Deur die teks word die komplekse angste oor die ouerfigure uitgewoed. Waarskynlik kies hy Marilyn Monroe weens die onverbloemde gevoel van abjeksie en negatiwiteit oor die moederfiguur. Dit is opvallend dat daar in die debuutbundel etlike gedigte oor vrouefigure aangetref word soos “Oujongnooi”, “Jong getroude vrou”, “Meisie verdrink”, “Debutant”, “Marilyn Monroe onderweg”, “Olympia”, wat hierdie ambivalensie oor die vrouefiguur sterk uitspeel.

VI

The birth of the reader must be at the cost of the death of the Author.
Roland Barthes – “The death of the author” in Image-Music-Text. 1977, 148.

In Barthes se Camera lucida wat die sub-titel dra “Reflections on Photography” wys op die spanning tussen die studium (wat die foto sê deur die komposisie) en die punctum (besonderheid) in foto’s (1981, 43).

Om hierdie spanning te verstaan tussen komposisie keer ons terug na die teks “The death of the author” waar Barthes vra wie praat in die verhaal “Sarrasine” van Balzac en dan beklemtoon dat ons nooit sal weet nie. Skryf is volgens hom die destruksie van elke stem en elke punt van oorsprong. “Writing is that neutral, composite, oblique space where our subject slips away, the negative where all identity is lost, starting with the very identity of the body writing” (142).

Wie praat in “Marilyn Monroe in grou?”  En oor wie word daar hier gepraat?

Vereers die studium of komposisie van die gedig:
Ongestorwe / silwerdoek-legende / stilfoto’s / foto’s / films / teks

Teenoor die punctum:
Morbiede ster / depressie-episodes / selfmoord-poging / ventilasieskag

Die gedig vermy dit feit dat sy reeds dood is ten tyde van die skryf van hierdie gedig:

"Films is my loopbaan,
pruil sy, “maar Arthur is my lewe".

Maar deur die woord te vermy, word dit juis paradoksaal na vore gebring, omdat dit reeds in die gemoed van die leser lê.

Die gedig het ‘n ventilasieskag of onbewuste: wat na vore gebring word, is die geluk (alhoewel kortstondig), maar onderlangs is daar wanhoop.

Die teks praat dus deur ander De Lange-tekste waarin onvervuldheid en ‘n “algebra van nood” die dinamo van die tekstuele produksie vorm.


Bibliografie:

Barthes, Roland. 1981. Camera lucida. Reflections on Photography. New York: Hill and Wang.

Barthes, Roland. 1977. “The death of the author” opgeneem in Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.

De Lange, Johann. 1983. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human &  Rousseau.
De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.
De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. 2010. Judasoog. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Lange, Johann. "Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake", (Afgetrek 30 Junie 2013).

Kristeva, Julia. 1984. Powers of Horror. An essay on Abjection. New York: Columbia University Press.

Mailer, Norman. 1973. Marilyn. New York: Grosset & Dunlap.

Rapaport, Herman. 1989. “Psychology, the Subject, and Criticism” opgeneem in Con Davis, Robert & Finke, Laurie: Literary Criticism and Theory. The Greeks to the Present. New York: Longman.

© Joan Hambidge