Sunday, April 7, 2013

Rubriek. Glo ek in engele?


Standbeeld met engel in die Vatikaan Museum © Shoes on Wires

Ek kuier by my digtersvriend in Pretoria in die Burg van Hertog Bloubaard.

Dis somer en die gastekamer se venster gaap oop.

Oor ‘n halfuur vertrek my bus na die Hoëveld om my moeder te besoek en ‘n motor terug te bring vir ‘n susterskind in Johannesburg. Ek sien uit na die busrit, omdat ‘n mens die landskap sien verander en boonop kan lees.

My twee bereisde sakke is reg en gereed vir die besoek aan my tuisdorp.

Toe ek my tas optel, gebeur dit.

‘n By steek my in my hand en verwoed ruk ek die by af, wat net die gif dieper inspuit. As kind was ek allergies vir bysteek, maar het dit genadiglik ontgroei. Die swelsel begin lyk soos ‘n bokser se oog.

“Kan ons nie stop vir medikasie nie?”, vra hy besorg.

Ek kan nie die bus verpas nie. My bekommerde vriend vertrek en ek voel oes. Agter my in die bus sit ‘n stil vrou. Spontaan begin ek met haar gesels. Sy vertel sy is op pad Wes-Transvaal toe om háár moeder te besoek ná ‘n ernstige val. Sy was ‘n verpleegster en dra altyd pille by haar. Sy gee my twee anti-allergie pille en ‘n bottel stilwater.

Haar naam is Chrissie.

Op Johannesburg-stasie verdwyn sy in die niet. Haar selfoonnommer en adres in my geswelde hand. Ek voel lomerig en registreer niks van die Toon van den Heever-landskap nie. Die filmbeelde op die TV-skerm speel in ‘n hospitaal af.

Op die Hoëveldse dorp gee die apteker sterker medikasie en verduidelik hoe sleg alles kon afloop. My keel sou toetrek. Lewensgevaarlik. Daar is net een hospitaal langs die pad; ironies genoeg vernoem na die digter, A.G. Visser, die sanger van die Suikerbosrand.  Die apteker gee ‘n botteltjie met blou pille wat ek nou by my moet dra.

Ek bedank per sms my engel in die nag. Stuur selfs later ‘n geskenk.

Hierom glo ek in engele.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]