Monday, March 4, 2013

Winnie Rust - Martha. ‘n Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford (2004)



Winnie Rust. Martha. ‘n Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford. Hemel & see boeke, 2004. ISBN: 0 620 32476 7.

Resensent: Joan Hambidge

Martha is ‘n verhaal enig in sy soort: die eerste (en waarskynlik enigste) bruin vrou met ‘n Britse adeltitel: the Honourable Lady Martha Solomons, Countess of Stamford. Die ‘buzz’-woorde van ons tyd word dus deur hierdie roman geaktiveer: ras, klas, identiteit en die koloniale diskoers.

Nou is dit so wanneer ‘n mens inbeweeg in die domein van die Kaapse leefwyse aan die einde van die negentiende eeu, skryf jy teen die grote Karel Schoeman in, by name. En die leser van die historiese roman is ook ‘n punteneurige aasdier wat enersyds ‘n feitelik-korrekte verslag verwag en andersyds ‘n storie, dus ‘n ‘onwaarheid’ of fabrikasie van die gegewe wil lees. En wanneer daar afgewyk word van die feite, moet die verhaal sterk genoeg wees om die leser te oortuig. Ons dink hier aan beoefenaars van die genre soos J.M. Coetzee, Dan Sleigh, Dalene Matthee, en andere. Jeanette Ferreira, self ‘n bekwame romanskrywer, beweer dat hierdie roman ‘n trotse plek in die galery van historiese romans kan verower. Nogal groot woorde, sou u meen.

Vanaf die eerste woorde (wat terloops in die roman die belangrikste woorde behoort te wees) weet die leser instinkmatig dat hierdie roman nog ‘n herskrywing benodig het.

Die prosa is vaal en die poging van die skrywer om te verduidelik dat sy in die taal van die fokalisator weergeem is waarskynlik binne die opset van die episodiese roman oortuigend en aanvaarbaar. Dit is immers dan ook een van die kenmerke van hierdie soort roman waarin ‘n ouktoriale verteller die gegewe struktureer (hier met hoofstukindelings) en dan ‘n verteller aanstel om die storie te vertel. Miskien sou ‘n duideliker afwisseling tussen ‘n meer beheerste stem en die naïewe verteller dit opgelos het. ‘n Mens dink hier aan Tom Jones, aan die romans van Dickens. 

Met groot vrug het Erica Jong hierdie tegniek gebruik in Fanny waar hoofstukindelings die storie stuur. Daar is bepaald aangrypende passasies in Martha, maar die storie is dikwels te tydskrifagtig na my sin. Dit bewys weer dat die stem van die verteller van uiterse belang is en waarskynlik het die leser die gevoel dat die implisiete outeur en die karakters se stemme nie genoegsaam geskei is nie. Of dat ‘n stem outentiek moet klink. Ook word belangrike insidente te kursories vertel.

In die nawoord gee die outeur duidelike riglyne in welke mate sy gefiksionaliseer het. Wat bygesit is en wat weggeneem is. Soos dat sy Anib geskep het. Hierdie dinge wat vertel het, is die waarheid, verneem ons op bladsy 186 en dat dit vertel moet word in die taal van Martha Solomons se mense.  Die stem oortuig nie en is op die duur vervelend. Vir die kenner van die historiografie is dit bronne van uiterse belang om die letterkundige en historiese speurtog te onderneem. 

Hierdie vertelling staan waarskynlik nog te na aan die skrywer en haar navorsing en omdat sy die bronne goed ken, het sy dit nog nie genoegsaam in vertelling omgesit nie. Dit word inderdaad ‘n verhaal ‘oor’ iemand, in plaas van ‘n verhaal uit iemand uit. 

Waarskynlik is die grootste leesversperring dat die skrywer nie seker was waar om die verhaal te plaas nie: is dit populisties of is dit ernstige literatuur? As ‘n hoes vergelyk word met naels wat teen ‘n ruit krap (p. 188) wil dit waarskynlik eersgenoemde wees. Of die sielige tussenwerpsels soos “Harry, ai dié Harry” (p. 188).

Daar het die afgelope tyd soveel pakkende romans binne die Afrikaanse letterkunde verskyn (soos Agaat, Roepman, Voor ek vergeet) en dit is jammer om ‘n teks van hierdie ambisieuse opset te sien misluk. Die roman sou ook baat gevind het by ‘n strenger redakteurshand van ‘n Hettie Scholtz of Charles Fryer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]