Monday, March 4, 2013

Maretta Bellingan - Klitsgras (2004)



Maretta Bellingan. Klitsgras. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 1 86919 059 9.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs het Maretta Bellingan ‘n uiters ontoerende huldeblyk oor haar kollega Barrie Hough geskryf. Dit het verskyn in haar Sondag-rubriek “Klitsgras” (sopas gebundel deur Protea Boekehuis) en die leser verneem dat die titel van die rubriek ingegee is deur Hough, ‘n talentvolle jeugverhaalskrywer en kritikus. Opvallend van hierdie stuk oor Hough was die toon: weg is die grimmigheid, die aweregese humor, die dwarsklappe, die mal humor en jy word getref deur ‘n ander Bellingan.

Vra maar enige rubriekskrywer: of jy nou oor wyn, boeke, kos of reis skryf. Jy het die volgende nodig: stamina, ‘n hoek (“angle”), taalvaardigheid, humor en ‘n implisiete leser. Selfs die háátlike leser is beter as die leser wat jou ignoreer of verby blaai. Boonop skryf die koerantessayis of –rubriekskrywer teen ‘n spertyd in. Met e-pos en faksmasjiene gebeur dit vinniger en sneller. Die leser wag jou op ‘n Sondag in. Party keer is dit Koos Kombuis of Maretta; ander kere beide. Maar sy is altyd die lees werd.

Die uiteindelike vraag is natuurlik hoeveel van hierdie rubrieke kan lewend bly binne bundelverband. Etienne van Heerden noem sy rubrieke tereg kits-essays, maar dit is terselfdertyd stukke met trefkrag èn onthou-waarde. Beland die Sondag-stuk binne die blaaie van ‘n boek, dan kyk die leser anders as na die koerantpapier wat jou hande swart maak, terwyl jy buk oor die braaivleisvuur.

Die suksesvolle rubriekskrywer het sy of haar eie handtekening. Miskien is die beste opsomming van die rubriekskrywer dat dit ‘n ‘essayis-in-the-making’ is. Amper daar, maar nog nie heeltemal af nie. Tog was daar al ‘n Audrey Blignault, Dot Serfontein en Madeleine van Biljon wat ónthoubare stukke geskryf het. Blignault se stuk oor haar rooi rok, Serfontein se een oor hoe dogtertjies nie in bottels onder ‘n tafel kan piepie nie en Van Biljon wat ‘n ongewenste bewonderaar in haar huis moet verduur.

Ek hou van Bellingan se rubriek. Sy het die klassieke opmerking gemaak oor Harry Viljoen, Bok-afrigter-saliger, wat meer ‘highlights’ in sy hare het as wat sy span kon presteer. Of haar heerlike gek stuk “Aknee is nie jou skuld nie” waarin sy fietsryers se nuwe kleredrag vergelyk met ‘n bont kondoom! Bellingan se vry assosiasies is ook haar sterkste punt: sy kry ‘n beeld dan hardloop sy met hom weg: soos dat sy nie met die fietsryer wou tandem nie.

Ook wens sy vir Patricia Lewis en haar geliefde man net die beste toe. Sy hoop ook dat daar ‘n paar haardroërs tussen die trougeskenke was!

Lees hierdie boek vir die humor. Van ‘n skrywer wat wat dalk ‘n erelid van die Patricia Lewis fan club mag word en peetma van haar Barbie-poppe.

Bekendes soos Joost van der Westhuizen, die President en algar wat dink hulle is ‘n Iemand se siel word uitgetrek. Nooit satiries-lelik nie, eerder parodies of  ontluisterend sodat jy eweneens die kop skud oor hoé absurd mense kan wees.

As André le Roux die koning van die intro in Afrikaans is, kan bittermin rubriekskrywers so ‘n lekker slot presteer as Maretta B.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]